“Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.” (Jes 29:12, OAV)
Ons begin nou deeglik besef – ‘n enorme deel van ons verwarring oor verskeie sake, insluitende die misverstaan van sentrale aspekte van ons redding, (waar onder ons verstaan van die hemel) is omdat ons nie die heel belangrikste padkaart wat God met groot moeite aan ons toevertrou het, reg verstaan nie. Dit wat in Jes 29:11-12 staan, het helaas in ‘n groot mate waar geword van die meeste gelowiges: “So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ‘n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël. Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.”
1 Kor 2:14 sê: “die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” Dit is ook veral ten opsigte van die aanvaarding van die Woord van God as ‘n Goddelike teks noodsaaklik dat dit net kan gebeur as dit dusdanig deur ‘n geestelike mens beoordeel word. Die geestelike mens sal sonder moeite, soos met alle geestelike dinge, dit in geloof aanvaar dat die Bybel ‘n manifestasie van God se soewereiniteit is. Webster’s Dictionary verduidelik sovereign as: “Supreme in power; possessing supreme dominion; as a sovereign ruler of the universe.” Die soewereiniteit van God waarborg die akkuraatheid van Sy geskrewe Woord.
Tog gee Jesus hierdie duidelike teregwysing: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” (Joh 5:39-40). Hierdie woorde van Jesus is van die allergrootste belang omdat dit die wesenseienskap is van wat die Woord beliggaam: Christus. Soos Christus die vleesgewoorde Woord is, so is die Woord die geïnskribeerde Christus! Hy is ook die afskynsel van al die woorde van God, die “uiterlike vorm”, die sigbare manifestasie van God se wese in taal.
Honderde jare gelede het die beroemde rabbi, bekend as Vilna Gaon, die volgende verreikende opmerking gemaak: “The rule is that all that was, is, and will be unto the end of time is included in Torah from first word to the last word. And not merely in a general sense, but including the details of every species and of each person individually, and the most minute details of everything that happened to him from the day of his birth until his death; likewise of every kind of animal and beast and living thing that exists, and of herbage, and of all that grows or is inert.” Ons glo dis waar van die totale Bybel soos ons dit vandag in die hand hou.
Johannes (in Joh 21:25) is natuurlik reg: as dit alles wel beskrywe moes word, sou al die wêreld se geskrewe boeke dit nie kon bevat nie. As dit alles wel in een boek beskryf word, is daar veel meer inligting gekodeer as wat ek en jy so op ‘n geestelike drafstap ooit kan vermoed, en dis op wyses gedoen wat ons bes moontlik nog nie eens ontdek het nie. Maar dis alles onteenseglik dáár, in die Boek. Dit is weliswaar ‘n betroubare padkaart wat Hy met sy eie mond geskryf het, deur die hand van die skribas wat Hy uitgekies het om dit te doen.
- Sela: Wat is die implikasies van die laaste twee paragrawe vir jou?
- Lees: Job 20-22
- Ondersoek die vervulling: Job 21:22 (Wenk 1 Kor 6:3; 2 Pet 2:4; Jud 6; Open 20:1-3, 20:12-15)
- Delf dieper: Lees G.R Jeffreys se The handwriting of God