Dag 554-556

“Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie …” (1 Kon 8:27, OAV)

Die digter N.P. van Wyk Louw het in een van sy klassieke gedigte geskryf: “Wat in sterrehelderte geskryf is, skryf ons na in stof.” In ‘n groot mate is dit ‘n mooi kensketsing van die mens se onvermoë om die grootheid van God se wese, sy skepping en sy plan te begryp en weer te gee. As ons ons daaroor uitlaat, kan dit altyd bloot in terme wees van “altyd benaderend, nooit-bereikend” Veral as ons praat oor tyd en ruimte, en redeneer vanuit die beperktheid van ons onherroepelike verknegting aan tyd en ruimte, blyk ons swaartillende uitsprake van totale onbegrip, veral as die astrofisici ons uitwys dat die heelal sentrifugaal uitdy teen drie miljoen kilometer per uur ☺.

God is buite tyd en ruimte. Salomo in al sy wysheid het iets hiervan gesnap toe hy hierdie uitspraak gemaak het in sy gebed met die inwyding van die eerste tempel: “Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie …” (1 Kon 8:27). 

Inderdaad, soos Job 37:2a dit ook verwoord het, is dit moeilik om met ons beperkte tydruimtelike belewenis ‘n God te leer ken wat per definisie buite daardie belewenis opereer. Anders gestel: God funksioneer in ander dimensies as die dimensies waarbinne die mens funksioneer. 

In Jes 57:15 word daardie dimensies die “ewigheid” genoem wat God bewoon – duidelik sonder die tydsassosiasie wat ons gewoonlik met ewig het. Kobus van Rensburg, in sy boek noem dit tereg “a place called there” (ook die titel van die boek), ‘n onsienlike “plek” in die Gees. As Gen 1:1 begin met: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape …”, beteken dit dat God kon uiteraard nie die universum geskape het as Hy deel daarvan is/was nie – Hy is buite tyd en ruimte. Vir ons is tyd ‘n kronologiese opeenvolging van gebeure – God ‘sien’ dit, sou mens kon verduidelik, soos ons ruimte belewe: dit is alles tegelykertyd dáár.

Uit ‘n menslike oogpunt kom die universum oneindig voor, in elke opsig. As jy – soos die Psalmdigter in Ps 8:3-4 bloot die sigbare hemel aanskou (= die uitspansel: Gen 1:8), “die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het”, ervaar jy onmiddellik ‘n gevoel van die onmeetlike God met wie jy te doen het en kan ook jy nie anders om te sê nie: “wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” 

Brent Anderson, in sy artikel ‘Space-time and God’,  stel dit so: “The shape of the space-time continuum that is our universe has been postulated by many, but in truth, without observing from the outside of the universe, it is impossible to define with any certainty. If we had the capacity to travel universe spanning distances, we would still not be able to reach a boundary of universe and not universe simply because we are prisoners of our space-time. If we were to begin such a journey at the very edge of space and time which defines our universe and travel in any direction randomly chosen from the three dimensional choices available we would return to our starting spot after a very long journey.”

Bedink dit weer: God was buite die aarde én God was buite die hemel. Volgens die fisikateorieë van partikels en relatiwiteit het ten minste tien ruimtelike dimensies bestaan met die skep van ons sigbare realiteit. Met die skepping van die aarde, wat wetenskaplikes soos Stephen Hawkins, in sy The beginning of time die “big bang” noem, het tyd en ruimte ‘n aanvang geneem. Heb 11:3 stel dit eksplisiet dat met God se skepping van die hemel en die aarde die sigbare dinge geskep is uit onsigbare dinge. Uit ‘n veelheid van onsigbare dimensies waarin God gestalte gee, het die vier dimensies (lengte, breedte, hoogte en tyd) wat ons as realiteit beleef, ons werklikheid gekonstrueer. Ons menslike bewussyn kan nét funksioneer in hierdie beperking.

Tyd en ruimte weer, weet ons uit die fisika, is ‘n funksie-afhanklike van materie. Of dan: materie is die ‘neerslag’ van enige partikel wat stadiger as die spoed van lig beweeg. As wesens wat bestaan op grond van ‘n sodanige kontinuum, is dit bykans onmoontlik om enigiets buite dit te bedink. Ons kan dit derhalwe net probeer verstaan, maar ons kan begryp dat ‘n Wese wat buite hierdie menslike dimensies funksioneer uiteraard nie beperk is deur die wette wat hierdie dimensies reguleer nie.

Ons weet uit die Skrif dat God Gees is (Joh 4:24; 2 Kor 3:17) en derhalwe is Hy ook, per definisie, “onsigbaar” (Joh 1:18; Rom 1:20; Kol 1:15; 1 Tim 1:17; Heb 11:27; 1 Joh 4:12). Maar Jesus, sy Seun, wat uiteraard ook in die geesdimensie geleef het voordat Hy mens geword het (Joh 8:58; 1:1-2), het fisies die aarde dimensie betree, met ‘n fisiese liggaam, wat honger was, gesweet het, moeg geword het, beseer kon word, en uiteraard kon sterf. Hy kon in die vier dimensies van “volkome mens” (Heb 4:15; 7:26; Jes 53:9; Joh 8:46; 2 Kor 5;21; 1 Pet 2:22; 1 Joh 3:5) bepaald nié teen die spoed van lig beweeg nie. Tog het Hy verduidelik dat die fisiese realm met die geestelike realm “oorklee” kan word, en dat daardie oomblikke die fisiese natuurwette vir daardie situasie nie meer geldig sou wees nie. Elke wonderwerk was ‘n demonstrasie van dit wat moontlik is in die ander realms of dimensies van Goddelike bestaan, maar nie in die realm van menslike gedefinieerdheid nie, behalwe as die mens vanuit daardie realm begin leef.

So sou ‘n mens byvoorbeeld kon uitwys dat die wonderwerk van die ysterbylkop wat Elisa bo-op die water laat dryf het (2 Kon 6:6), het die wet van swaartekrag overrule. Of Lasarus wat uit die dood opgewek is, het die tweede wet van termodinamika vir ‘n spesifieke geval opgehef. In dit alles is geloof die operatiewe sleutel wat die fisiese realm laat ontvou dat die geestelike realm ‘n ander werklikheid moontlik maak (Heb 11:6). Met ongeloof kan jy nie in hierdie geestelike realiteit ingaan nie (Heb 3:19). Later meer hieroor. 

Dis op hierdie stadium van groot belang om uit te wys dat Jesus se fisiese koms na die aarde gelyk gestel is aan die koms van die Koninkryk van God. Johannes die Doper, die voorloper van die nuwe orde, se eerste dramatiese proklamasie daarvan het dit onomwonde uitgespel (Mat 3:2): “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Jesus het presies dieselfde boodskap oorgedra: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mat 4:17).

Van Johannes die Doper af word hierdie koninkryk van die hemele bestorm en neem dit met geweld in besit (Joh 11:12). DIS MET ANDER WOORDE NIE IETS ONBEREIKBAAR VER NIE, MAAR KONKREET, ALHOEWEL NIE SIGBAAR NIE. Dit gaan dus oor ‘n koninkryk op die aarde waar God die fisiese aarde, wat aan nietigheid onderworpe is (Rom 8:20), se tekortkominge, gebreke, sonde en onvermoë gerestoureer en herstel word (Mat 17:11; Hand 3:21).

Hierdie boodskap oor die Koninkryk van die hemele was in elke lering van Jesus, in elke gelykenis. Daar word oor Paulus gesê dat hy teen die einde van sy lewe steeds hoofsaaklik net die evangelie van die Koninkryk van die hemele verkondig het (Hand 21:38). 

Maar meer nog as dit: ná Jesus opgestaan het uit die dood, was dit die enigste onderwerp waaroor Hy gepraat het: “aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het” (Hand 1:3).

Ons moet duidelik raaksien – die koninkryk van die hemele is op die aarde; trouens, dis binne-in die gelowige (Luk 17:21; Rom 14:17; Kol 1:27)! Daarom bid ons volgens Jesus se gebed in Mat 6:10: “Laat u koninkryk kom … soos in die hemel net so ook op die aarde …”

Met die opstanding van Jesus uit die dode het Hy finaal aan die nuwe bedeling van die koninkryk van die hemele op aarde beslag gegee. Almal wat voor Hom uit die dood opgestaan het – Lasarus, die kind van die weduwee wat Elia opgewek het, die klein dogtertjie Tabitha. het almal tog weer gesterwe, want hulle moes volgens “die wet van die sonde en die dood” (Rom 8:2) die  die weg van alle vlees gaan: sterf. 

Maar Jesus se opstanding was ‘n ewige opstanding, en Hy het – vir ewig – die dood oorwin: “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” (1 Kor 15:54).

Sodoende het Jesus die Bewerker van ewige saligheid (Heb 5:9) geword. Vir elkeen in die Koninkryk van God is daar derhalwe geen dood meer nie! Hierdie stelling sal ons later in baie groter detail verduidelik, want dit is die kruks van die meeste misverstaan rondom die hemel.

Maak dit asseblief duidelik vas: die Koninkryk van die hemele is nie “on top” nie, dis “inside”.

Uit die vorige mannas het ons nou dít al vasgemaak: eerder as die hemel, beërf ons volgens die Bybel die koninkryk van die hemele. Ongelukkig is daar baie toeloë wat meen die “koninkryk van die hemele” is die hemel. So byvoorbeeld verklaar die gesaghebbende Albert Barnes in sy Notes on the Bible: “In my Father’s kingdom means: In heaven. The place where God shall reign in a kingdom fully established and pure.” Dis helaas nie Bybels nie. 

Alhoewel die koninkryk van die hemele ‘n “hemelse koninkryk” (2 Tim 4:18; Efes 6:12) asook ‘n “ewige koninkryk” (2 Pet 1:11) is, spel Jesus dit uit: die koninkryk van die hemele is nóú, binne-in ons, onsigbaar, maar absoluut reëel, ‘n ander wêreld as die een waarin ons natuurlik ingebore is. Die koninkryk van die hemele is dus ‘n onsigbare realiteit van ‘n ander dimensie, nie ‘n “plek” waarheen ons eendag gaan nie (Mat 12:28; 16:28; Mark 11:15). In Mat 16:28 spel Jesus dit onomwonde uit: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat sal die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.” Die koninkryk van die hemele is dus ‘n realiteit wat in en om jou gestalte kry (Mark 4:30-32).

  • Sela: Wat presies behels die begrip “koninkryk”?
  • Lees:  Job 23-31
  • Ondersoek die vervulling:  Job 31:1  (Wenk Mat 5:28-29)
  • Delf dieper:  Luister na Hein van Wyk se cd-lering: Die evangelie as kiemsel.