“Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” (Ps 115:16, OAV)
Uit die vorige Manna het ons dít vasgemaak: eerder as die hemel, beërf ons volgens die lering van die Bybel die koninkryk van die hemele. Ongelukkig is daar baie teoloë wat meen die “koninkryk van die hemele” ís die hemel. Hamlet sou net sowel dit aan die teoloë kon gesê het: “There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy. ”Die koninkryk van die hemele is dus ‘n onsigbare realiteit van ‘n ander dimensie, nie ‘n “plek” waarheen ons eendag gaan nie.
Die koninkryk van die hemele is ‘n realiteit wat in en om jou gestalte kry. Mark 4:30-32 se gelykenis van die mosterdsaad is ‘n kragtige verhaal om aan te dui hoe die koninkryk in jou groei, maar ook meer en groter as jy word sodat dit wyer beslag kry. Ons is dus in die wêreld, maar nie van die wêreld nie (Joh 17:14 & 16). In sy uitmuntende boek The Spirit of Disciplines verduidelik Dallas Willard dat geloof nie net ‘n houding of praktyk is wat ‘n mens anders laat wees in die natuurlike wêreld nie, nee: na jou wedergeboorte funksioneer jy in ‘n totaal ander wêreld: “It is not merely a religious sentiment, a commitment, a lifestyle, let alone a political stance or a mystical-sounding buzzword. Spirituality for the follower of Christ is a matter of a different world with a different reality, different energies, different possibilities, and different prospects.”
Os Guinness, in sy boek The Call, maak ‘n opmerking wat dit verder helderder toelig: “Unseen spiritual reality is not unreal. In fact, it is more real – decisive over the shadow reality of the seen world. A spiritual reality all around, above and inside the secular reality of the world of our five senses, spirituality is a dimension born into …”
Jesus spel telkemale uit dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (byvoorbeeld in Joh 18:36), en dat nie elkeen wat Hom Here Here noem sal daar ingaan nie (Mat 7:21).
Ons het al vroeër in detail verduidelik dat slegs wedergeboorte jou geestelike oë kan open (Efes 1:18), en dus jou die koninkryk van die hemele kan laat sien (Joh 3:3) sodat jy dan daarin te kan ingaan (Joh 3:5). Laat ons dit net baie duidelik stel: Die doop as sodanig kan nie red nie (dit is redelik volledig in Manna 322 beredeneer) – nie besprinkeling nie, ook nie die doop van ‘n bekeerde nie. Nét die aanneem van die bloed van Jesus kan redding bring. Dat wedergeboorte die doop van die gelowige insluit, is weliswaar so; tog is daar gelowiges wat nie gedoop is nie, maar wel gered is (Joh 1:12). Hulle bly egter slegs in die prototipiese eerste dimensie (= Buitehof) van die tabernakel – hulle het net by die kruis (= die koperaltaar) uitgekom en hul sondes is afgewas (by die koperwaskom). Maar hulle het nog nie deur die doping met water en doping met Gees gegaan (= die gordyn wat toegang tot die tweede dimensie, die Heilige bied) nie.
Daar is dus geredde mense wat in die Koninkryk van God is en ander wat nié daar is nie, al is hulle gered. Tog is daar ook gelowiges: water baptized en Spirit-filled vir wie hierdie ander werklikheid nog nie ‘n realiteit is nie. Om Os Guiness weer aan te haal: “It is quite common for people to trumpet that they have been ‘born again’ yet exhibit no signs of living in the supernatural dimensions of the reality they have been born into.” Die Skrifgedeelte in Mat 8:12 behoort die meeste van ons wat houtgerus is oor ons posisie in die tweede dimensie tot redelike onrustigheid te stem: “Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Ek het groot geword met die idee dat dit die ongereddes is wat – as Jesus sou kom – in die hel onophoudelik ween en hul tande deurkners. Dis van groot belang om te besef – dis die kinders van die koninkryk wat ween en op hul tande kners en uitgedryf word in die buitenste duisternis! En dis nie omdat hulle verlore is nie – hulle is onteenseglik gered, selfs wedergebore!
Die ingaan in die tweede dimensie deur die doop met water en die doop met die Heilige Gees is nie net ‘n blote ritueel of resep nie. Al het die eksterne handelinge plaasgevind deur onderdompeling en handoplegging, as die Goddelike vrug van dié handelinge nie manifesteer nie, het dit helaas nie in die onsienlike geestelike realm plaasgevind nie. Guiness stel dit meesterlik: “Thus we modern people can be profoundly secular in the midst of explicitly religious activities. Which explains why so many modern Christians believers are atheists unawares.”
(‘n Aspek wat ons nie nou verder wil voer nie omdat dit later volledig aan bod kom, is dat die plek waar die geween en gekners van tande plaasvind, die “buitenste duisternis”, nié die hel is nie. Maar eers as ons verstaan van die hemel uit die Skrif omlyn is, sal ons aan hierdie belangrike teenpool van hemel ook volledig probeer beslag gee.)
Dus, ons moet die eerste beginsels van hierdie wêreld afsterf, maan Paulus ons, want dit is die bewys dat ons nog in die wêreld lewe (Kol 2:20), en die verleidelike gees daar agter is “die gees van die wêreld” (1 Kor 2:12).
As die Bybel dus praat van mense wat nie die Koninkryk van die hemele kan ingaan nie, beteken dit bloot dat hul in die eerste dimensie van die geloof sal bly. Dit beteken nie hul sal nie, in die gewilde paradigma, hemel toe gaan nie. Dit beteken ook nie dat hulle noodwendig hel toe gaan nie.
In die lig hiervan kan ‘n klompie Skrifgedeeltes duidelik gemaak word:
- “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. (1 Kor 6:9-10).
- “afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie” (Gal 5:21).
- “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie” (Efes 5:5).
- “En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan.” (Mat 19:23); en
- “Hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!” (Mark 10:24)
Verstaan asseblief mooi: gelowiges wat dié dinge doen, is nie noodwendig verlore nie – hul is net nie deel van die Koninkryk van God nie. Hierdie misverstand van wat die koninkryk van God eintlik beteken, het geweldige verdeling gebring in die Liggaam van Christus. Baie fundamentalistiese gelowiges verkondig tydig en ontydig aan, byvoorbeeld, homoseksuele Christene, dat hul verlore is. Die ekstreemste hiervan is byvoorbeeld die Westboro Baptist Church in Amerika wat met hule website, demonstrasies (meer as 40 000 sedert 1991) en met plakkate soos: “GOD HATES FAGGOTS” en “FAGS WILL BURN IN HELL” duidelik hulleself as “the voice of God” stel teenoor “the fag lifestyle of soul-damning, nation-destroying filth”.
Eina. Dis vreemd hoedat sekere gedrag in die Liggaam oorgesien word, maar ander géén genade gegun word nie, en hoe maklik ons die volgende verhaal in Luk 18:10-14 vergeet: “Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”
Ekstreme uitsprake oor die lot van mense wat anders is as wat ons selfgeregverdigdes glo, is dikwels gebaseer op ‘n misverstaan van wat die Koninkryk van God is en daarom kan sekere mense te maklik die “hemel” ontsê word. Jesus was sag met hulle wat bevange was met hulle eie swakheid, maar baie hard op elkeen wat godsdienstig-selfgeregverdig homself on moral high ground plaas. Voorwaar – soos Mat 21:31 dit stel: “Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.”
Om saam te vat: omdat ons dikwels so ‘n gebrekkige kennis het van “die dinge wat die koninkryk van God aangaan” (Hand 19:8) en omdat dit nie ‘n koninkryk is wat “vlees en bloed kan beërwe nie”(1 Kor 5:15) en nie “kom met sigbare tekens” (Luk 17:20) nie, lees ons die menigvuldige verwysings na die koninkryk van God en die Koninkryk van die hemele as iets wat slegs eendag gaan gebeur wanneer die heerskappy van God oor alle dinge finaal bevestig sal word. Maar dis nie die geval nie. Ons het ‘n belangrike taak om die koninkryk te laat kom, soos dit in die hemele is, moet dit op die aarde gestalte kry (Luk 11:2).
Die bekende joernalis en geestelike skrywer Malcolm Muggridge het in sy studentedae sy eie grafskrif geskryf, wat gelui het soos volg: “Here lieth one whose soul sometimes burned with great longings. To whom sometimes the curtain of the Infinite was opened just a little, but who lacked the guts to make any use of it.”
Dis ‘n uiters neerdrukkende slotsom oor jou aardse lewe, veral as jy dit vergelyk met Jesus se opsomming van sy lewe: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” (Joh 17:4)
Maar die punt wat ons wil maak: op die aarde lig God reeds die sluier oor dit wat in die duisendjarige vrederyk gaan gebeur hier op aarde (Open 5:10b): “… (Hy) het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers …”
Dit is duidelik dat ons nêrens ‘n ander bestemming het as die aarde nie. Die koninkryk van die hemele moet hier kom. ‘n Ontginning en uitleef van die koninkryk van die hemele hou heerlikhede in wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het en in die hart nog nie eens opgekom het nie (1 Kor 2:9). Dis veel, veel beter as die fiktiewe plek waarheen ons gedink het ons moet gaan. Die waarheid is onteenseglik soos Ps 115:16 dit uitspel: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”
- Sela: Vra God om hierdie grondverskuiwende waarheid oor die hemel vas te maak in jou manier van dink.
- Lees: Ps 1-9
- Ondersoek die vervulling: Ps 2:7 (Wenk Hand 13:33; Heb 1:5; 5:5)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vals konstrukte.