Dag 563-564

 

“so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon ” (Jes 57:15, OAV)

In Mannas 534-562 het ons in detail gekyk na die algemene misopvattings rondom die hemel, as deel van wat ons beskou van wat vry algemeen in kerke geleer word. Hierdie “doctrines of demons” is dikwels netjies ingebed in die dogma van hoofstroomkerke. Dit sal jou nie jou redding kos nie, maar kan jou verseker mislei. In ons wydlopige ekskursie om uit te vind wat die Bybel oor die hemel sê, het ons ‘n paar belangrike argumentpunte ter konteksstawing voorhou. Om die geheue te verfris, volg ons net weer die kernaspekte van die argumentverloop:

  • Die algemeen aanvaarde oorgelewerde beskouing van die hemel is die kensketsing daarvan as ‘n pragtige, konkrete plek êrens daar bo waar God woon en party van ons op pad heen is. Ons ganse geloof is gebaseer op hierdie oortuiging – die einddoel van ons geloof is die beloning om hemel toe te kan gaan. 
  • Die hemel verteenwoordig ‘n bepaalde sekerheid waaraan jy nie mag torring nie, anders tuimel ‘n ganse geloofskonstruk inmekaar. Van jongs af word daar by ons ‘n baie spesifieke denkparadigma van die begrip ‘hemel’ geskep. En omdat dit nie ‘n konkrete objek is nie, is die kans baie skraal dat die verkeerde kennis daaroor iewers direk gekonfronteer sal word. Om hierdie rede bly die meeste mense binne die oorgelewerde denkraamwerk rondom hemel en integreer hulle soos wat hulle meer inligting daaroor verkry dit alles in terme van wat hul reeds daaroor weet. Selfs as hulle byvoorbeeld die Bybel lees, word alles wat hulle van die hemel glo in terme van hierdie preconceived ideas geïnterpreteer en gemodifiseer.
  • Gelowiges het met die verloop van eeue die hemel gemitologiseer. Wat ek en jy egter van die hemel weet, is eerder gevestig deur fiksie en verbeelding. Wat ons glo oor die hemel is meer ‘n onlogiese sameflansing wat gehaal is uit Dante Alighirii se Die Goddelike komedie, Milton se Die verlore Paradys en John Bunyan se klassieke boek Die pelgrim se reis na die ewigheid (Pilgrim’s Progress) asook twyfelagtige nadoodse belewenisse of visioene van mense, as dit wat die Bybel oor die hemel sê.
  • En as gevolg van die sentrale rol wat dit in ons geestelike werklikheidsbeskouing inneem, word geweldig baie dinge in ons lewe skeefgetrek. Trouens, deur só op die hemel te fokus, staan ons ‘n groot kans om ons individuele skeppingsdoel op aarde totaal mis te loop. 
  • Daar is uitgewys hoe selfs sekere Bybelvertalings bygedra het tot die mitologisering van die hemel, en hoe doelbewuste vertalings van gedeeltes misbruik word om die mites oor die hemel te bevestig. Baie gelowiges volg dus ‘n verkeerde padkaart na ‘n verbeelde hemel toe.
  • Voortvloeiend hieruit moes ons toe drie mannas wy aan ‘n ander beskouing wat die Bybel diskrediteer as ‘n voorwetenskaplike dokument wat voorhou dat die kosmos ‘n drieverdieping beelding is met die hemel bo, die aarde op pilare in die middel, en die hel daaronder. Die Bybel se metafoor- en taalgebruik is verduidelik en daar is uitgewys dat dit wat God sê nooit kan verouder nie, al was die skribas uit ‘n voorwetenskaplike era.
  • Ons het uitgewys dat die wyse waarop ons die Bybel lees en interpreteer, van die grootste belang is, en na aanleiding van Mat 16:6 het ons gewys op die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs wat die lering oor die hemel op verskillende wyses deursuur.
  • Dit is moeilik om met ons beperkte tydruimtelike belewenis ‘n God te leer ken wat per definisie buite daardie belewenis opereer. Tyd en ruimte is ‘n funksie-afhanklike van materie. Omdat God gees is, funksioneer Hy in ander dimensies as die dimensies waarbinne die mens funksioneer. In Jes 57:15 word daardie dimensies by gebrek aan ‘n makliker term die “ewigheid” genoem wat God bewoon – duidelik sonder die tydsassosiasie wat ons gewoonlik met ewig het. ‘n onsienlike “plek” in die Gees. Vlees en bloed kan dit nie sien, beërwe of ingaan nie.
  • Jesus se fisiese koms na die aarde word gelyk gestel aan die koms van die Koninkryk van God. Van Johannes die Doper af word hierdie koninkryk van die hemele bestorm en word dit met geweld in besit geneem (Joh 11:12). DIS MET ANDER WOORDE NIE IETS ONBEREIKBAAR VER NIE, MAAR KONKREET, ALHOEWEL NIE SIGBAAR NIE. Dit gaan dus oor ‘n koninkryk op die aarde waar God die fisiese aarde, wat aan nietigheid onderworpe is, se tekortkominge, gebreke, sonde en onvermoë restoureer en herstel. Hierdie boodskap oor die Koninkryk van die hemele was in elke lering van Jesus, ook in elke gelykenis. Daar word oor Paulus gesê dat hy teen die einde van sy lewe steeds hoofsaaklik net die evangelie van die Koninkryk van die hemele verkondig het.
  • Die koninkryk van die hemele is op die aarde; trouens, dis binne-in die gelowige. Met die opstanding van Jesus uit die dode het Hy finaal aan die nuwe bedeling van die koninkryk van die hemele op aarde beslag gegee. 
  • Dus: eerder as die hemel, beërf ons volgens die lering van die Bybel die koninkryk van die hemele. Dit word net verkry deur wedergeboorte. 
  • In die vorige Manna het ons agtergekom dat daar meer op die spel is as bloot redding, en alhoewel die evangelie van redding (Efes 1:13) die ononderhandelbare vertrekpunt van ons geloofspad is, eindig dit helaas nie in die hemel nie. En dat die ontvouende waarheid van die “evangelie van die koninkryk” (Mat 24:14) en die “evangelie van heerlikheid” (2 Kor 4:4) bepalend is ten opsigte van ons geloofsbestemming, is iets belangrik wat ons moet verreken. ‘n Ontginning en uitleef van die koninkryk van die hemele hou heerlikhede in wat die oog nie gesien het, die oor nie gehoor het en in die hart nog nie eens opgekom het nie (1 Kor 2:9). Dis veel, veel beter as die fiktiewe plek waarheen ons gedink het ons moet gaan. Die waarheid is onteenseglik soos Ps 115:16 dit uitspel: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”

Hierdie opsomming vorm die konteks waarbinne ons nou die detail van die Skrif ondersoek oor die hemel.

  • Sela:  Funksioneer jy in die koninkryk van die hemele? Lees Rom 14:17.
  • Lees:  Ps 19-24
  • Ondersoek die vervulling:  Ps  19  (Wenk: Jes 55:11 en Mat 4:4)
  • Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Tussen die Tweede en die Derde Dimensie is die 

Voorhangsel