“In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” (Gen 1:1, OAV)
Met die uitvoerige konteksskepping agter die rug, is dit van groot belang dat ons sistematies deur die Skrif werk om te bepaal wat God self oor die hemel aan ons openbaar.
Die boek Génesis is die voor-die-hand-liggende vertrekpunt. Wanneer ‘n mens ‘n definisie van enige Bybelse begrip wil hê, is dit raadsaam om na die eerste noem daarvan in die Bybel te gaan kyk.
Génesis open met die verreikende stelling: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die woordjie in Hebreeus wat die aksiehandeling van Yahwe beskryf, is bara, wat beteken: “creating something new out of nothing” (teenoor asah: “creating something out of something”).
Uit die astronomie weet ons dat die aarde bloot ‘n spikkelsandkorrel in die stêrwoestyne van planete, galaksieë, melkweë en konstellasies is. Wat veral blyk uit hierdie stelling waarmee die Bybel begin, is dat die fokus so spesifiek op die amper onbenullige planeet genaamd aarde geplaas word. Job 26:7 (YLT) stel dit raak: “Stretching out the north over desolation, Hanging the earth upon nothing …” Dat die fokus in hierdie skeppingshandeling bedag was en met voorberade besinning, spel Ps 104:25 (YLT) onteenseglik uit: “He hath founded earth on its bases, It is not moved to the age and for ever.” (Dit word in die Nuwe Testament in Heb 1:10 herbevestig.) Dit verklaar bes moontlik hoekom – sover ons tans in ons beperktheid weet – die aarde die enigste plek is wat só spesifiek ontwerp is dat organiese lewe (soos ons dit ken) moontlik is. Die uitsonderlikheid van hierdie totstandkoming van die aarde, op sy eie fondament, word byvoorbeeld as ‘n argumentspunt gebruik in die konfrontasie tussen God en Job: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? — jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?” (Job 38:4-6).
‘n Tweede observasie wat ons uit hierdie gelade stelling aan die begin van Génesis moet maak, is dat die hemel as ‘n linguistiese paar met die aarde voorgehou word. Al word dit as ‘n paar voorgestel, word daar eksplisiet ‘n onderskeid tussen hulle getref, al sal ons in die volgende paar verse van Génesis lees dit uit dieselfde substans (by gebrek aan ‘n beter woord) geskep is. Ten spyte van die feit dat die Bybel nie in detail beskryf waar in die kosmiese heelal die aarde gesetel is nie, was dit duidelik die fokus van Sy kreatiewe energie. Die aarde is in perfekte ligging geplaas, met die perfekte grootte, vorm en getiltheid en toegerus met die perfekte chemiese, geologiese en klimaatsomstandighede om sodoende biologiese lewe moontlik te maak. Uit ‘n geestelike oogpunt, is die aarde die middelpunt van die universum. Die hemel is geskep in reliëf met hierdie middelpunt, die aarde. Jes 44:20b – “Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon”. Die Bybel beskryf telkens die hemele metafories as “uit(ge)span soos ‘n tentdoek” (Ps 104:2b) oor die aarde – dit bevestig die posisionering van hemel en aarde ten opsigte van mekaar.
- Sela: Probeer antwoord op die vrae wat Yahwe aan Job vra in Job 38:4-6.
- Lees: Ps 25-27
- Ondersoek die vervulling: Ps 27:11 (Wenk: Joh 14:6; Hand 9:11; Open 21:21; 22:2)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Skepping en herskepping