“In die voortyd het U die aarde gegrondves,en die hemele is die werk van u hande.” (Ps 102:25, OAV)
As die aarde, geestelik gesien, die middelpunt van die universum vorm, is dit belangrik om te sê dat die verwysings na die hemel allereers in ‘n beperkte mate ruimtelik-geografies gebruik word, maar dat dit eintlik verhoudingsgewys slaan op hoe die aarde geposisioneer is. Deut 11:21 praat derhalwe van die “hemel bo-oor die aarde”.
Nadat Yahwe op die eerste skeppingsdag lig ingespreek het in die aardse realm – wat volgens Gen 1:2 “woes en leeg” was, met “duisternis … op die wêreldvloed” – en toe skeiding gemaak het tussen die lig en die duisternis, het Hy op die tweede skeppingsdag ook skeiding gemaak “tussen waters en waters” sodat daar ‘n uitspansel (opening/firmament) tussen twee versamelings water was (Gen 1:6). In die volgende vers kom ons te wete dat die een groepering water “bo” van die ander groepering water “onder” geskei is, en dat die ruimte daartussen toe “hemel” genoem is (Gen 1:7). Hier het ons die eerste formele Bybelse definisie van die begrip “hemel”.
Dit is belangrik dat ons weet dat die Hebreeuse woord vir hemel altyd in die meervoud is (Christelike kernensiklopedie, p. 444) – ons moet dus na regte nooit van die hemel praat nie, maar altyd van die hemele – dit kan die denkparadigma van die hemel as ‘n gemitologiseerde, mistieke-gespesifiseerde ruimte êrens daarbo dalk temper.
Daar is geweldig dieptes van openbaringkennis verskuild in hierdie eerste paar verse van Génesis, waarby ons later in detail sal moet uitkom, en wat heelwat van ons teologie (en wetenskap) dalk gaan skud, maar ons konsentreer vereers net op die totstandkoming van die hemel. In Gen 1:14 lees ons dat Yahwe op die vierde dag toe in hierdie uitspansel, genaamd die hemele, “ligte” geplaas het om “lig te gee op die aarde” (Gen 1:15 & 17). Let wel – dit het niks te make met die lig van Gen 1:3 nie. Toe Yahwe gesê het: “Laat daar lig wees”, het Hy Yashua as die “Lig van die wêreld” (Joh 8:12) in hierdie fisieke, materiële realm ingespreek.
Die son, maan en sterre word dus ruimtelik in die hemele geposioneer in terme van die aarde – dit is die aarde ter wille! Met dié sigbare hemelliggame word egter nie net lig verskaf nie, maar hul rotasies, elliptiese bewegings en gereguleerde stande word ‘n kosmiese klokwerk wat “dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare”. Met ander woorde: seisoene, diachroniese tyd en ander tydafhanklike funksies wat tydorde moet meebring, is sodoende geïnstitusionaliseerd. Tyd en ruimte het sodoende ‘n aanvang geneem. Voor dit was daar geen tyd nie. Die Bybel noem dit die “voortyd” (Deut 33:15; Ps 68:33; Spr 8:23 en ‘n ruim 30 ander verwysings). Ps 102:25 stel dit raak: “In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.”
Die hemele daarbo is dus allereers ‘n ruimtelike posisie, maar ook duidelik ‘n posisie van geestelike posisionering. Daaroor meer in die volgende Manna.
- Sela: Bedink Yashua as die Lig van die wêreld in die lig (!) van Joh 1:9.
- Lees: Ps 28-30
- Ondersoek die vervulling: Ps 29:7 (Wenk: Hand 2:3; Heb 12:29; Heb 1:7)
- Delf dieper: Luister na Neville Nugent se cd-lering: God’s secret language of the cosmos