
“Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.” (Joh 3:31b, OAV)
Uit die vorige Manna was dit duidelik dat die uitdrukkings wat frekwent in die Bybel gebruik word, soos: “jou hemel wat bo jou hoof is” (Deut 28:23), “die hemel bo julle” (Hag 1:10) en “bo in die hemel” (Deut 4:39) ‘n duidelike heenwysing is na die sigbare, fisiese deel van God se totale skepping.
Maar, ten tweede, word die begrip “hemele” ook gebruik om die realm van die gees aan te dui. Dit is, vir die mens, ‘n nie-sigbare realiteit. Hemele verwys indirek na geestelike outoriteit en word metafories gelyk gestel aan die woonplek van God (Gen 21:17; 22:11; Deut 4:36; Neh 9:13; Ps 2:4; 14:2; 20:7; 33:13; 53:3; 80:15; 102:20; Jes 63:15, en vele plekke meer). Tog maak Salomo dit onteenseglik duidelik: “Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie” (1 Kon 8:27). As God die hemele geskep het, moet Hy tog inderdaad oneindig groter as die hemele wees! In sy The Divine Romance sê Gene Edwards dit raak: “God folded Himself up in a tiny little space called eternity.”
Al is daar soms in die Skrif eksplisiete uitsprake dat God in die hemel woon (byvoorbeeld Ps 2:6), word daar in hierdie gevalle nie na óf die sigbare, fisiese uitspansel óf die onsigbare hemele “bo” verwys nie, maar na die nie-sigbare realiteit waar Sy outoriteit alleengeldend is. Oral in die Skrif word dit eksplisiet gesê dat God uiteraard nie beperk is tot die hemel nie, soos byvoorbeeld in Deut 4:39 – “daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde”. As die begrip hemele dan in hierdie konteks gebruik word, is dit duidelik nié ‘n verwysing na plek, ruimte of lokaliteit nie, maar van outoriteit. Só ‘n voorbeeld is byvoorbeeld Ps 11:4, wat stel: “Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel …”. Daar is nie werklik ‘n fisiese paleis nie, want God is (nie-materiële) Gees (Joh 4:24) – paleis is met ander woorde duidelik ‘n metafoor vir Sy koningskap. (Die verganklikheid beërwe nie die onverganklikheid nie – lees 1 Kor 15:50 saam met Rom 8:20-21.)
Jes 66:1 maak dit onteenseglik duidelik, en dit sou miskien die mees kwalifiserende definisie van die hemele as die realm van die gees kon wees in die Bybel: “So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete.”
Die hemele is waar God se troon/heerskappy/outoriteit/koningskap geld.
Uit die Nuwe-Testamentiese oogpunt word hierdie betekenisgebruik van die begrip ‘hemele’ presies verduidelik in Joh 3:31 – “Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.” (Dis ook byvoorbeeld duidelik in Jak 3:15-17 wat praat van die “wysheid van bo” en dit stel teenoor “die aardse wysheid”.) Bo en hemele is dus semanties duidelik gemerk met die betekenis van Goddelik, geestelik, verhewendheid, outoriteit, maar bowenal koningskap. Ps 103:19 spel dit raak uit: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.”
God se begeerte deur die eeue is om die totaliteit van die ganse skepping, sienlik en onsienlik (Kol 1:6), weer onder sy koningskap te bring en sy koninkryk een te maak.
- Sela: Probeer weer onthou hoekom God se koninkryk verdeel is.
- Lees: Ps 31-33
- Ondersoek die vervulling: Verklaar Ps 33:6 in ooreenstemming met dié lering.
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: The world according to God – time lines.