“soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mat 6:10b, OAV)
God se begeerte deur die eeue is om die totaliteit van die ganse skepping, sienlik en onsienlik (Kol 1:6) – wat onder die “god van hierdie wêreld” se heerskappy is (1 Joh 5:19) – weer onder sy koningskap te bring en sy koninkryk een te maak. Die ganse Nuwe Testament verkondig hierdie boodskap: “die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mat 3:2). Hierdie is die eerste opgetekende woorde wat Johannes die Doper uiter. Dis ook die eerste opgetekende woorde waarmee Yashua sy openbare prediking begin (Mat 4:17). Dis die voorloop van die bedeling waarvan Dan 7:27 profeteer: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.” Die dag sal kom wanneer Jesus “die koninkryk aan God die Vader oorgee” (1 Kor 15:24), maar tot dan sal Hy in die hemel bly, sê Hand 3:21.
Hierdie mondvol is die kern van die evangelie en die belangrikste rede vir die ganse verloop van die mens se geskiedenis.
Om binne hierdie wesensaard van God se bloudrukplan (Ecc 3:11) te funksioneer en sodoende God se agenda uit te voer in jou generasie (Acts 13:36), behels dat jou sentrale funksie sal wees om alle dinge met Hom te versoen (Hand 3:21; 2 Kor: 5:18), wat in der waarheid beteken om te kan bewerkstellig: “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mat 6:10).
Maar wat beteken dit prakties?
In die vorige Manna het ons verwys na Ps 11:4: “Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel …” en verduidelik dat dit nie werklik ‘n fisiese paleis is nie, maar ‘n metafoor vir Sy koningskap. Hierdie gegewe is van die allergrootste belang in ons verstaan van wat die hemele is.
Die tabernakel, en later die tempel, was ‘n afbeelding van die hemel as die woonplek en troon van God. Eks 25:8-9 stel dit só: “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.” Hand 7:44 spel dit uit: “Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het.” Die tabernakel en tempel was dus in die fisiese “‘n afbeeldsel en skaduwee” (Heb 8:5) van die hemelse troon en tabernakel, dáár waar God heers. Die “groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie” (Heb 9:11), is die hemel (Heb 9:24).
Maar ons taak is om op aarde, in ons tempels (1 Kor 3:16), met hierdie hemelse tempel oorklee te word (2 Kor 5:2 & 4)! Sela.
- Sela: Verduidelik die Bybel se beskouing van die hemele aan iemand.
- Lees: Ps 34-36
- Ondersoek die vervulling: Ps 34:21 (Wenk: Joh 19:36).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die natuurlike gaan die geestelike vooraf..