“So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” (Gen 2:1, OAV)
Ons is besig met ‘n stelselmatige verkenning van wat die Bybel oor die hemele bekend maak. Uit die vorige drie Mannas het ons tot die slotsom gekom:
- Die eerste keer as daar ‘n omskrywing van die benaming hemel in die Bybel gegee word, word dit voorgehou as die fisies-sigbare uitspansel waarin die voëls vlieg en die son, maan, sterre, wolke en weerlig sigbaar is.
- Ten spyte van die oneindigheid van die universum, ken die Bybel ‘n spesiale plek toe aan die aarde en hou dit simbolies voor as die middelpunt van die heelal.
- Die hemel word in hierdie opsig in reliëf met die aarde se posisie geplaas, en word dit as “bo” voorgehou, ‘n benoeming wat nie ruimtelike posisionering aandui nie, maar eksplisiet in die Skrif dui op geestelike outoriteit en heerskappy. Die tweede (geestelike) definisie van hemel is dan die “plek” (eerder staat of toestand) waarbinne God se heerskappy geskied.
- In die Nuwe Testament word dit die koninkryk van die hemele genoem. God se heerskappy “in die hemel” moet oorgaan “op die aarde” en is dus binne-in die wedergeborenes (Luk 17:21)
- Die tabernakel en die tempel is ‘n afskaduwing of prototipiese voorbeeld van die hemel. Omdat ons in die Nuwe Verbond voorgehou word as die tempel waarin God woon, beteken dit letterlik dat ons as ‘n ambassade van die hemele “oorklee” moet word op aarde. Hemele is dus die die realm van die Gees, OOK IN DIE AARDSE REALITEIT, soos God se heerskappy gestalte vind in en deur die kinders van God.
Dis baie belangrik om te besef dat Gen 1:1-2 los staan van die ses dae aktiewe skeppingsorde waarvan ons lees in Gen 1:3-31. Die “in die begin” van Gen 1:1 is dus duidelik nie deel van die ses dae se toegespitse kreatiewe aksie rondom en op die aarde nie. Gen 2:1 begin dan met hierdie stelling: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” Vyf perspektiewe hierrondom is belangrik:
- Hoofstuk 2 van Génesis is nie – soos wat ktitici van die Bybel dikwels argumenteer – ‘n duplikaatverhaal nie, nog minder is dit ‘n paralelle verhaal wat die meesterverhaal in Gen 1 weerspreek. Beginnende met hoofstuk 2 word die skepping van die hemele en die aarde as ‘n gegewe fokuspunt herhaal en voorop gestel, en dan word dit aangevul met Yahweh se detailinkleding van die aarde sodat dit vir die mens die perfekte omgewing kan wees waarin hy kan bly en gedy.
- Dis nie nou deel van ons fokus nie, maar dit is belangrik om te weet dat in die aktiewe skeppingsperiode (wat na my mening volgens die Bybel glad nie letterlik ses dae van 24 uur elk was nie – die sonkalender wat die 24-uurdag tot stand gebring het, het eers vanaf Dag 4 moontlik gewees ☺). Daar is ‘n natuurlike ewolusie wat so te sê 100% te korreleer is met die ordeproses van ontwikkeling wat die Bybel uitspel (wat nie aan Darwinisme enigsins ‘n voetbreedte van die argumentsveld toeken nie). In hierdie ses dae het Yahwe die grondbeginsels van Fisika (Dag 1), Chemie (Dag 2), Geologie en Botanie (Dag 3), Astronomie (Dag 4) en Soölogie (Dag 5) gevestig. Op Dag 6 het hy die hoogste orde van lewe naas Homself tot stand gebring – al is die mens weinig minder as die engele, is hy die kroon (=hoogste outoriteitsposisie) van die skepping (Heb 2:7).
- Na die sesde skeppingsdag is die skeppingsakt van Elohim, die skeppende God, volgens Gen 2:1 “voltooi”, dit wil sê, afgehandel, “utterly/wholly” “finished/accomplished/consumed/ended/ fulfilled”. Die algemene wetmatighede van termodinamika het daarna operatief geword – sela bietjie hieroor, want “Ons God is ‘n verterende vuur.” (Heb 13:29). Onthou: vuur is ‘n metafoor van hitte (=thermos in Grieks), wat lig en radiasie is. [Later gaan ons in detail moet stilstaan by die woordbetekenis consumed wanneer ons moet praat oor die eindtydgebeure en byvoorbeeld 2 Pet 3:7.]
- In epiese tradisie konstateer Gen 2:1 as ‘t ware ‘n opsommende stolmoment in die ontvouende drama, met Gen 2:2-2:4a ‘n konstekstualisering en afsluiting van die grootse gebeure. Vanaf Gen 2:4a sluit die gedeelte tematies af voordat die volgende tema aan bod kom: “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.” As Gen 2:4b dan begin, praat hy van daardie hele periode (6 dae) as een dag, net één periode, en noem dit: “Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het …” Die YLT vertaal dit veelseggend: “These are births of the heavens and of the earth in their being prepared …” Maar let op die subtiele klemverskil – op drie plekke in die vertelling tot dusver, in Gen 1:1, 2:1 en 2:4a, is daar ‘n baie duidelike orde: die hemel (eerste) en die aarde (tweede). Vanaf die nuwe tematiese gedeelte in Gen 2:4b verander die klem, en staan daar: “die aarde en die hemel”. ‘n Kosmiese klemverskil het pas plaasgevind en die taalgebruik resoneer dit! Van nou af is die fokus op die geskiedenis van die aarde, met die mens wat dit moet beheer en bestuur en vul – dit staan sentraal. Die fokus is nie meer soseer die hemel nie, daarom moet dit ook ‘n neweskikkende posisie in die sintaksis vind!
- Laastens, om na ‘n frase in Gen 2:1 terug te keer wat ons nog nie vroeër toegelig het nie. Nie net is die hemele en die aarde voltooi nie, ook “hulle ganse leërmag” is voltooi. Die woordjie vir “voltooi” in Hebreeus hiervoor is tsâbâ’/tsebâ’ah, wat volgens die Strong’s beteken: “a mass of persons (or figurative things), especially regularly organized for war (an army); by implication a campaign, literally or figuratively (specifically hardship, worship): – appointed time, (+) army, (+) battle, company, host, service, soldiers, waiting upon, war (-fare).” Hemel en aarde het dus ‘n geskape leërmag, en dit is nie die hemelliggame of sterre nie (alhoewel dit metafories ook so gebruik word in byvoorbeeld Jer 33:22). Uit 1 Kon 22:19-22 is dit duidelik geeste (ook demoniese geeste, soos ‘n leuengees hier) en volgens Luk 2:13 ook engele. Sterre blyk dikwels ‘n metafoor te wees waarmee hierdie leërmag gekenskets word (Dan 8:10 – “En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.”)
Die geheimenis hiervan hou geweldig implikasies in, maar vir eers is dit genoeg dat ons hiermee illustreer dat daar onteenseglik ‘n weermag is wat met die skepping van die hemele en die aarde ook “voltooi” is.
- Sela: Probeer bedink wie die sterre is.
- Lees: Ps 37- 42
- Ondersoek die vervulling: Ps 37:9 – baie belangrik vir die lering (Wenk: Open5:10).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Mantel van die Evolusieleer vs Die Kennis van die Heerlikheid