Dag 57

 

“En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” (Hand 2:4, OAV)

Daar is vandag grootskaalse verwarring rondom die gawe van spreek in tale. Die Pinkster-beweging het hierdie lang miskende gawe in hul teologie vooropgestel en beweer dat dit die duidelike fisiese manifestasie van die doping met die Heilige Gees is. Bekendes soos Kenneth Hagin en Kenneth Copeland is adamant hieroor: as iemand nie in tale kan spreek nie, is hulle nie gedoop met die Heilige Gees nie. Hierdie beskouing is egter nie Skriftuurlik nie. Soos al die ander gawes, word hierdie gawe nie besit nie – dit word uitgedeel “aan elkeen afsonderlik soos Hy wil” (1 Kor 12:11). Om hierdie rede maak hy dan ook dié uitspraak in vers 30: “Het almal genadegawes van gesondheid, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?” Die antwoord hierop is duidelik nee. Daarom as mense praat van “ek bid in my taal”, is dit ‘n onbybelse uitdrukking – dit is nie joune nie.

In 1 Kor 14:2 verduidelik Paulus hoe hierdie genadegawe werk: “Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.”  Dit is wat Dawid in Ps 42: 7 (WEB) noem: “deep calls to deep”. Paulus, in Rom 8:26-27, verduidelik dit so: “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.”  Om in tale te praat, is dus ‘n ongelooflike groot hulpmiddel vir gelowiges om die volmaakte wil van God (Rom 12:2) in ‘n situasie te bid! 

Om in tale te praat, is meer van ‘n private aspek van geloofsuitoefening as ‘n publieke aksie. 1 Kor 14:4-5 spel dit uit: “Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.” 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die verband tussen die genadegawes van tale, uitleg van tale en profesie. 
  • Lees: Eks 7; Ps 57; Mat 27
  • Memoriseer: Mat 27:46
  • Vir dieper delf: Lees K.E Hagin se Concerning spiritual gifts en toets sy uitsprake aan die Woord.