Dag 571

“En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.”  (Joh 3:13, OAV)

In die vorige Manna het ons gesien dat die geestelike realm (ook die hemele genoem) leërmagte het, geeste, maar ook engele. Daar is dus bepaald in die hemele geestelike wesens (ons sal later in detail hierop terugkom), maar nie mense nie. Trouens, Ps 115:16-17 stel dit kategories: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee. Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie …” Selfs die dode gaan nie op na die hemele toe nie, maar daal neer na die doderyk (ook nié “ter helle”, soos die ou Apostoliese Geloofsbelydenis dit sê nie).

Die Christelike leser- en luisteraarsmark is tans oorvloei met Christene wat óf visioene/drome/mistieke belewenisse van die hemel/hel gehad het óf nabydoodse ervarings gehad het en so toegelaat is om die hemel/hel te sien óf wat sogenaamd dood was en die hemel/hel besoek het en toe moes terugkeer om die wêreld te waarsku. Die meeste van die persone is oor die algemeen geloofwaardige mense met ‘n opregte geloof en ‘n passie en dringendheid om hul ervaring met ander te deel. Soos met alle geestelike ervarings, is dit baie belangrik om – sover dit moontlik is – dit aan die Skrif te toets. Ongelukkig verkondig die meeste van hierdie persoonlike ervarings oor die hemel/hel iets wat glad nie Bybels gerugsteen kan word nie. Omdat die getuienis persoonlik is, is dit amper onmoontlik om dit te kan verifieer, behalwe as dit lynreg staan teenoor dit wat die Woord daaroor sê.

Verskeie artikels oor die hemele in toonaangewende publikasies meld bykans sonder uitsondering dat daar in die hemele ook mense is. Die Dictionary of Biblical imagery, byvoorbeeld, sê: “The company of the redeemed also lives in heaven: at the end of Elijah’s earthly life, God took him up to heaven by a whirlwind  … and the book of Revelation repeatedly portrays glorified saints as inhabiting heaven. A preponderance of the Bible’s pictures of heaven show it to be a crowded place. Crowd scenes along the lines of Miciah’s sight of God ‘sitting on the throne, with all the host of heaven standing beside him on his right and on his left’ … are common.”

Weliswaar word daar van Elia in 2 Kon 2:11 gesê “en Elía het in die storm na die hemel opgevaar”. En in Open 11:12 word van die twee getuies gesê: “En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk.”

 Maar sprekende van Dawid, die man na God se hart, wat volkome in Sy wil gewandel het (Hand 13:22), sê Petrus onomwonde in Hand 2:34 – “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie”. Trouens, Jesus stel dit eweneens kategories in die algemeen: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” (Joh 3:13). 

Hoe versoen ‘n mens hierdie skynbare teenstrydighede? In die volgende Manna meer hieroor.

  • Sela: Wat sou ‘n rede uit die fisika wees waarom “vlees en bloed nie die hemel kan beërwe nie?
  • Lees:  Ps 43-45
  • Ondersoek die vervulling:  Ps  45:12 (Wenk: Jes 23:17).
  • Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Om die aarde te beërwe.