“Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie.” (Hand 2:34, OAV)
Die belangrikste Reformatoriese beginsel van hermeneutiek (die uitleg van die Bybel) is: Skrif verklaar Skrif. Die verwronge siening van baie dogmatiese leerstellinge van die kerk is as gevolg van enkel tekste ter stawing van ‘n dogma en ‘n onvermoë om die geheelinhoud van die Bybel ten opsigte van ‘n saak te integreer. Dit is bepaald ook die geval met die doktrine oor die hemel.
Ons het uitgewys in die vorige Manna dat Jesus eksplisiet gesê het in Joh 3:13 dat niemand behalwe Hý opgevaar het na die hemele nie, en later bevestig Petrus dieselfde oortuiging in reliëf met Dawid. Wat bedoel 2 Kon 2:11 dan as daar van Elia gesê word: “en Elía het in die storm na die hemel opgevaar”? En in Open 11:12 oor die twee getuies: “En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk.”? Hierby kan mens voeg die eiesoortige ervaring van Henog, van wie daar in Heb 11:5 (ISV) gesê word: “By faith Enoch was taken away without experiencing death. He could not be found, because God had taken him away.” Daarteenoor staan tog onteenseglik in 1 Kor 15:50 – “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.” (Al sou die eersgenoemde deel van hierdie vers nie voorgehou kan word as bewys nie, omdat ons verduidelik het ‘die koninkryk van die hemele’ beteken nie soseer ‘n ‘fisiese hemel’ nie, is die laaste deel van die vers ‘n duidelike bevestiging – die verganklikheid beëerf nie die onverganklikheid nie.)
Hoe versoen ‘n mens hierdie skynbare teenstrydighede? Al probeer hy hoe om dit te doen, slaag John Haley in sy Alleged discrepancies of the Bible nie eens met ‘n indrukwekkende teoretiese tapdance daarin om dit na behore te verklaar nie, want hy verstaan die hemele nog in die oorgelewerde teologiese paradigma. In Albert Barnes’ Notes on the Bible maak die eerlike eksegeet dié veelseggende opmerking, en dit bied die sleutel tot die oënskynlike teenstrydigheid – “No honest exegesis can explain this passage in any other sense than as teaching the translation of Elijah, who was taken from the earth, like Enoch …”
The translation of Elijah … Dit wat met Elia en Henog gebeur het, is ‘n bepaalde aksie wat ons van naderby moet beskou. Die woord word gebruik in Heb 11:5 om Henog se transisie te beskryf, en is in Grieks metatithēmi, wat bestaan uit die twee woorddele: meta en tithēmi. Die woorddeeltjie meta dui op verandering, en tithēmi op posisionering. Thayer gebruik die samestelling: “to transpose” (transponeer, oorbring, omwissel). Die grootste fout wat ons maak in die verstaan van hierdie transisie van posisie, is om dit te koppel aan ‘n verandering van plek. Dit is glad nie dit nie; veel eerder is dit ‘n verandering van staat of toestand. Elia en Henog is nie hemel toe nie; hulle is bloot verander van ‘n vleeslike staat na ‘n geestelike staat, soos Jesus inderdaad ook.
Die woordjie “opgevaar” sou sonder die veronderstelde, oorgelewerde ruimtelike assosiasie baie beter vertaal kan word met die omskrywing: transisie na ‘n ander posisie of staat. Translation sou in taalkonteks ook die aksie duidelik maak – Elia, Henog, Jesus en die twee getuies is vertaal van ‘n aards-materiële taal (realiteit) na ‘n nie-aardse geestelike taal (realiteit). Sela.
Die 82 keer wat die woordjie “op(ge)vaar” in die Nuwe Testament gebruik word, beteken dit ‘n skrale 16 keer “ascending”, wat benewens vir die enkele verse wat oor die “translation” van persone van een realm na ‘n ander realm gaan, vir die oormaat kere dui op ‘n blote beweging (van dorp tot dorp, ‘n berg op, van reukdampe wat opstyg, en so meer). Die ander kere beteken dit volgens die King James Concordance bloot: “went / go / come / came / coming / entered / going / gone / arise / arose / climbed / climbeth / cometh / goeth / grew / groweth / rise / rising / rose / sprang / sprung”. Binne hierdie betekenisparadigma is dit absoluut duidelik dat “opvaar” kwalik kan dui op “hemel toe” – die teendeel is eerder waar.
As Dawid dus eksplisiet in Hand 2:34-35 teenoor Jesus gestel word ten opsigte van “opvaar na die hemel”, word dit in reliëf met Ps 110:1 gedoen, waar Dawid sê: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” Petrus se hele argument setel rondom die ereposisie wat Jesus in die hemele, die geestelike realm van God se heerskappy, verkry het. Daardie posisie is nie te vergelyk met enige mens (Dawid, Elia, Henog, die twee getuies almal inbegrepe) s’n nie. Dit is ‘n ereposisie, soos Ps 110:2 duidelik uitspel: “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” Elia en Henog se “opvaar” het geensins dieselfde betekenis as Jesus s’n nie, al word dieselfde woorde gebruik. “Hemel” het ons nou al by herhaling gesê, is niks anders as God (en Jesus) se staat van heerskappy nie (Jes 66:1; Hand 7:49), onafhanklik van plek.
Dit word veral duidelik uit Efes 4:8-10, waar Jesus se “opvaar” ten nouste ook gekoppel word aan die “neerdaal” (o.a. in die doderyk), iets wat nié met óf Elia óf Henog gebeur het nie. Kyk mooi – “Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.” Jesus se ereposisie in die hemele maak dit vir Hom moontlik om “alles tot volheid (te) kan bring”. (Lees ook Rom 10:6-8 hiermee saam: “Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit?”)
Inderdaad: Wat sê dit? Uit Efésiers kry ons dié twee belangrike aanduidings oor hierdie sogenaamde “heavenly places”:
- “which He brought about in Christ, when He raised Him from the dead and seated Him at His right hand in the heavenly places,” (1:20) – dit is die outoriteitstaat waarin Jesus saam met God verkeer;
- “and raised us up with Him, and seated us with Him in the heavenly places in Christ Jesus,” (2:6) – dit is die outoriteitstaat waarin die “oorwinnaars” verkeer, want Open 3:21 sê eksplisiet: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” Dit gebeur reeds, in die hier en nou, en nie eers eendag nie.
Ons gaan dus nie eendag hemel toe as beloning nie; ons IS reeds in die hemele in Christus. Van ”daar” (wat nie ‘n plek is nie) sal ons, die Bruid, volgens Open 21:2 translate, ofte wel: “neerdaal” – “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” Die (weer) oënskynlike diskrepans dat ons reeds in die hemel is, maar moet afdaal, word in die volgende Manna verduidelik. Die transisie van posisie is ‘n allerheerlike geheimenis ☺.
- Sela: Probeer ‘n antwoord vind op die vraag in die laaste paragraaf.
- Lees: Ps 46-51
- Ondersoek die vervulling: Waarvan is die Godstad in Ps 46 ‘n heenwysing?
- Delf dieper: Luister na Phillip Degenaar se cd-lering: Die vermeerdering van outoriteit in jou tempel