“Maar julle het gekom by die berg Sion en … by die hemelse Jerusalem … by die geeste van die volmaakte regverdiges …” (Heb 12:22-23, OAV)
Die vyfde opmerking waarmee ons die vorige Manna afgesluit het, het gesentreer rondom die feit dat Jesus in Mat 26:64 gesê het – “Van nou af sal u die Seun van die mens sien … kom op die wolke van die hemel.” Duidelik is hulle die wolk waarop Jesus die Christus VAN NOU AF (bykans 2000 jaar gelede) AAN ALMAL verskyn! Op die berg van verheerliking verskyn nie net Elia (wat nié gesterf het nie), maar ook Moses (wat wel gesterf het). Mat 17:5 sê hulle is “oordek (met) ‘n helderligte wolk”.
Ons het in die vorige manna belowe om dit verder te verduidelik. Wat presies is hierdie “wolk van getuies” (Heb 12:1)?
Om hierdie vraag te beantwoord, is dit van groot belang om eers stil te staan by wat eintlik presies met die mens gebeur as hy sterf.
Jonathan Sarfati sê in sy boek Refuting Comprimise tereg: “The origens of death and suffering is vitally important in defending Christianity. Many people use the present suffering and death as an excuse not to believe. So it is vital to have an answer – such a justification of God’s goodness in the face of evil is known as a theodicy.” (Op Afrikaans word dit ‘n teodisee genoem – helaas gaan die HAT se definisie van hierdie mooi woord mank aan toeligting.)
Heb 9:27 spel dit onomwonde uit: “die mense (is) bestem om een maal te sterwe”. Etan, een van die psalmdigters, het dit lank tevore ook geproklameer: “Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.” (Ps 89:49). Inderdaad vra dit oordenking – waar het die dood toegang tot die wêreld en die mens gekry? Die antwoord word bondig in Rom 5:12 gegee: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”
Voordat ons egter na Adam as die federale hoof van die mensdom kyk en hoe sy val ‘n domino-effek gehad het vir almal van sy geskape orde (ook die wêreld waarin hulle hul bevind), is dit noodsaaklik om eers te kyk na wat die wesensaard van lewe konstitueer.
Ons kry vroeg al in Gen 1, waar Yahwe die mens, asook “al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde”, saam tipeer as dat hulle ‘n “lewende siel” besit. Die KJV vertaal dit as “wherin there is life”. Die siel, het ons in vorige mannas verduidelik, is WIE die wese is: Wil + Intellek + Emosie. (Diere het dit uiteraard ook.) Maar die mens is anders omdat hy na die Beeld van God gemaak is (Gen 1:26; 2 Kor 4:4), is hy primêr ‘n geeswese (God is Gees – Joh 4:24) – dit onderskei hom van die dier. Die ruach (= gees van die mens) is sy fakulteit om met God gemeenskap te kan hê (Joh 17:3; Rom 8:16 – “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is …”).
Alhoewel dit nie uit ‘n Christeliike perspektief geskryf is nie, kom die boek van Gregg Braden: The God Code met die ongelooflike openbaring dat die Hebreeuse Naam van God ingeskryf is in elke menslike sel, geënkodeer (in die Hebreeuse alfabet) in elke menslike sel se DNS! Ons weet dat die DNS ten diepste die biologiese draers van lewe is. James P. Gillis sê oor DNS in sy opspraakwekkende boek: Darwinism under the Microscope: “Complexity, irreducible complexity, magnificent complexity … The only explanation … is in design … a design shrouded in mysterious beauty and predicted on a purpose.” (p. 189). Dit bring daardie “purpose”, die sin van menslike bestaan en lewe na net een saak uit: God. As Jesus in Joh 11:25 sê: “Ek is … die lewe”, dan is dit maklik om Adam se predikament te verstaan – toe hy deur ongehoorsaamheid in sonde geval het, met ander woorde sy skeppingsdoel, sy roeping, sy redemptive PURPOSE, verloor het, het sy gees “onttrek”, dormant geword, en het hy “die lewe van God” (Efes 4:18) verloor. En dit het sy sielslewe radikaal beïnvloed; dit het ook die lewe in sy diepste biologiese kern verander. Hy het ‘n being in nothingness geword.
Die mens het dus nie net geestelik gesterwe nie, maar het ook hierdeur die dood geëerf in sy vlees: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.” (1 Kor 15:50). Uiteraard het dit ook sy bloed radikaal verander (want die lewe is in die bloed – Lev 17:11, CEV), en Adam en sy nageslagte se issue was derhalwe nie meer die “issues of life” (Prov 4:23, KJV) nie, maar – soos die prototipiese vrou wat aan bloedvloeiing gely het – “the issue of blood” (Mat 9:20, KJV). Die mens was oorspronklik geroep om die ganse skepping te beheers (Gen 1:26). Maar ook hý, en sy totale nageslag, moes toe ook soos die res van die skepping die knie buig voor die dwingende tweede wet van termodinamika: Alles neig van orde na wanorde. Die mens het sy skeppingskrag om die wêreld te orden, te bou en in stand te hou, selfs kreatief te verander, sodoende verloor, en self aan die verganklikheid onderwerp geword. Rom 8:20-21 spel die verlore outoriteit en verspilde lewe en die aaklige nagevolge van die sonde soos volg uit: “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid …”
Die mens het ook deel geword van die “slawerny van die verganklikheid”, en is onmagtig om sy eie, sowel as die verval van ons kantelende, blougroen ghoen te stuit.
Dood is met ander woorde die afwesigheid van lewe, en in die gesketste konteks gesien, is dit die afwesigheid van God in jou bestaan. Dis die lot van almal wat ‘n naeltjie het, met ander woorde alle mense wat uit ‘n vrou gebore is (Job 25:4). “Hoe sou dan ‘n mens regverdig wees by God? En hoe sou hy rein wees wat uit ‘n vrou gebore is?” Die woordjie vir “regverdig” sou in die oorspronklike taal nader wees as: “in right standing to God” (soos die ESV dit by benadering stel). Die dood wat met die sondeval ingetree het, het dus nie net die mens se fisiese lewe geroof nie, maar ook sy geestelike lewe – sy vermoë tot verhouding met God.
In die lig hiervan is dit dan belangrik om uit te wys dat soos Adam ‘n lewende siel geword het, word Jesus Christus, die Laaste Adam, ‘n “lewendmakende Gees” (1 Kor 15:45). Die enigste hoop om uit die toestand van verval, siekte en dood te ontsnap, is die wedergeboorte uit Gees en water (Joh 3:3 & 5). Dít, hierdie lewende hoop, sê 1 Pet 1:3, verkry die gevalle mens NET deur wedergeboorte (doping met water en gees): “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode …”
Ons onlosmaakbare deelagtigheid aan die Eerste Adam bring noodwendig dood voort, en dit het die “lewendmakende Gees” van die Laaste Adam nodig om ‘n nuwe ras op aarde (1 Pet 2:9) voort te bring. “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” (Heb 2:14-15). Dit maak duidelik wat in Rom 8:2 staan: “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Maar waarom sterf wedergebore mense wat in hul roeping loop, steeds?
Die Woord onderskei tussen die eerste dood en die tweede dood, en die eerste opstanding en die tweede opstanding. Open 2:11 konstateer: “Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.” Hy praat hier van die overcomers, die Bruid. Dit word verder gekwalifiseer in Open 20:6 – “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” Die eerste opstanding word verkry as ‘n persoon opstaan in sy skeppingsdoel en deurbeweeg na die derde dimensie. Paulus verduidelik dit mooi in Fil 3:9-11, waar hy verduidelik hoe hy streef om “in Hom gevind te word … sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding … of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik”. Die Amplified sê dit raak: “That if possible I may attain to the spiritual … resurrection that lifts me out from among the dead even while in the body.” Die eerste opstanding is terwyl jy nog in die lewe is, daarom sê Efes 5:14: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”
Die eerste dood is dus die noodwendige dood in Adam, wat alle vlees geëerf het. Daarom sê Rom 6:9: “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.” Dáárom is die voorafgaande vers die heerlike wete: “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe …”
Die tweede dood is die ewige dood: “Man dies and is laid away; indeed he breathes his last and where is he? As water disappears from the sea, and a river becomes parched and dries up, so man lies down and does not rise. Till the heavens are no more, they will not awake nor be roused from their sleep.” (Job 14:10-12). Die tweede opstanding is die opstanding van elkeen wat in Christus gesterf het (1 Thes 4:16). Meer later oor die tweede dood en die tweede opstanding.
Hierdie lang verduideliking was noodsaaklik om uit te kom by dit wat ons aan die begin van hierdie Manna ons ten doel gestel het om te verduidelik, naamlik wat presies is die “wolk van getuies”. Om hierdie vraag te beantwoord, was dit van groot belang om eers stil te staan by wat eintlik presies met die mens gebeur as hy sterf. Noudat ons dit weet, kan ons beter verduidelik – daar is drie moontlikhede wat met ‘n mens gebeur as jy sterf.
Allereers: die ongeredde mens, “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efes 2:12), het in elk geval nie ‘n gees nie. As hy sterf, gaan hy na die doderyk toe (Job 7:9; 2 Sam 12:23; Luk 16:23). Later meer daaroor. Die geredde mens en die wedergebore mens (wat nie in sy skeppingsdoel en hoë roeping in Christus opgestaan het nie), gaan na die “boesem van Abraham” (Luk 16:22-23), ook genoem die “paradys” (Luk 23:43).. Die persoon wat in Christus (nie Jesus nie) sterf, met ander woorde wat reeds die eerste opstanding deurleef het (dis die transfigurasie deur die gordyn tot in die derde dimensie), word opgeneem in die wolk van getuies (Heb 12:1).
Nadat die skrywer van die Hebreërboek die hele hoofstuk 11 gewy het aan die geloofshelde van die Ou Verbond (wat in hul “allerheiligste geloof – Jud 1:20 – duidelik deel was van die Bruid), sê hy in verse 39-40: “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.” Onteenseglik duidelik is hulle “die geeste van die volmaakte regverdiges” waarby ons gekom het by die berg Sion. Ons en hulle – wat die eerste opstanding deurgegaan het – is deel van “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is”.
- Sela: Is jy deel van dié denominasie van die Bruid, “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe
is”, of is jy steeds deel van die kerksisteem van die 1e & 2e dimensie?
- Lees: Ps 64-72
- Ondersoek die vervulling: Ps 68:27 (Wenk: Sag 13:1)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Roeper roep jou … by Roepersfontein