“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid.” (Jud 1:20, OAV )
Daar word dikwels in Charismatiese en Pinksterkerke hardop in tale gebid. Dit is egter nie ‘n Bybelse praktyk nie. Die Woord sê in 1 Kor 14:27: “En as iemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê. Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.”
In die gemeente moet ‘n uiting van spreek in tale derhalwe ‘n uitleg kry en sodoende as ‘n profetiese woord behandel word, wat dan op sy beurt deur die gemeente/ander profete beoordeel word (1 Kor 14:29). Vanaf vers 6 tot 12 word hierdie saak uitvoerig beredeneer (lees dit asseblief). Dan in vers 13-16 en 18-19 word dit uitgespel: “Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing … Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal; maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.”
Judas 1:20 wys op die geweldige voordeel daarvan om privaat te bid in tale: “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid.” Omdat jy nie weet wat jy bid nie, sê hierdie Skrif, is dit een van die weinig wyses waarop geloof vermeerder kan word!
Die wapenrusting van God (waarby ons later terugkom) word dikwels onvolledig aangetrek, en daarom kan ons dikwels nie weerstand bied in die dag van onheil nie (Efes 6:13). Benewens al die bekende noodsaaklikhede wat aangetrek moet word, spel versreël 18 uit: “terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees”.
In die laaste lering hieroor sal ons na die praktiese aspekte van hierdie twee uitsonderlike gawes kyk.
- Sela: Wat sou jy sê is die grootste struikelblokke vir mense om te begin om in tale te praat?
- Lees: Eks 8; Ps 58; Mat 28
- Memoriseer: Mat 28:18-20
- Vir dieper delf: Bestudeer Jack Deere se Surprised by the power of the Spirit vir alle aspekte van geestelike gawes wat tot nou toe bestudeer is.