Dag 583

 

 

“om ‘n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels”  (Spr 1:6, OAV)

 

Die woorde van Salomo hierbo is deel van ‘n sleutel in die lees van die Bybel. Vir baie jare is die Bybel bloot bestudeer ter wille van die inhoud, maar die vorm waarin dit aangebied word, is negeer. Groot mistastinge spruit hieruit, want poësie, allegorie, geskiedskrywing, spreuk, profesie, gelykenis, anekdote, aforisme, en veel meer, word deurmekaar geklits sonder om die genreaanbieding daarvan enigsins te verreken.

Die inleiding tot The Literary Study Bible (Ryken & Ryken reds.) spel dit so uit: “We have defined the concept of literature very broadly as anything having to do with how biblical writers have expressed their content. The foundational premise of all verbal communication is that meaning is conveyed through form, starting with language itself but moving beyond that to a whole range of literary forms and genres. There is no meaning without the form in which a piece of writing is expressed. This means that when we read the Bible, literary considerations are not optional features to which we might attend only if we have an interest in literary matters. We need to pay attention to the how of a Bible passage as preliminary to understanding what is said.”

In sy boekie Die eerste 5 minute na die dood meen Dr Isak Burger dat die Bybelgedeelte oor die ryk man en Lasarus ‘n uitbeelding is van die realiteit (op sigself nie moontlik nie), en nié (soos al Jesus se ander vertellinge) ook ‘n gelykenis nie. Op grond daarvan lees hy die verhaal as ‘n feitelike weergawe van die lewe na die dood, en dit lei ongelukkig tot ‘n grootse mistasting. Mat 13:34 is reeds ‘n weerspreking hiervan: “Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie …” Spr 25:2 gee die rede hiervoor.

In Mark 4:11-12 sê Jesus vir sy toehoorders: “Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.”

‘n Parabel, of gelykenis, verduidelik Van Gorp in sy Lexikon van Literaire Termen, is ‘n verhaal wat ‘n spesifieke nuwe insig wil bring in die eksistensiële en eskatologiese situasie van die mens. Die gelykenis lê nie soseer klem op die gebeure as sodanig nie, maar stel die feiteverloop teenoor die werklikheid daarbuite. Dus is die gebeure nie allegories van aard nie (m.a.w. elke detail van die verhaal verwys nie na ‘n simboliese ekwivalent nie). Dit gaan primêr oor ‘n enkel boodskap wat aan die hand van pertinente simbole geïnterpreteer moet word. Volgens die Griekse oorsprong van die woord is dit ‘n verhaalvorm wat “naas” of “parallel” aan sy dieper geestelike betekenis lê, “a much deeper and profound moral or spiritual truth” (Greek-English Keyword Concordance). Die gelykenis kan dus nie letterlik of histories verklaar word nie. Indien hierdie gelykenis letterlik opgeneem word, is daar stellings wat onlogies, onskrifttuurlik, teenstrydig en selfs onmoontlik is. In die volgende Manna meer in dié lig.

 

 

  • Sela:  Wat is die gevaar om ‘n teks buite sy eksplisiete genreformaat te lees?
  • LeesPs 79-81
  • Ondersoek die vervulling:  Ps 80 in die lig van Joh 15 (wenk: die genre van die teks)
  • Delf dieper:  Luister na Hanno Pienaar se cd: ‘n Perspektief op Sion vanuit Psalms