Dag 59

“Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.” (1 Kor 14:14, OAV).

Al die genadegawes vra ‘n uitstap in die geloof om te beoefen. Byvoorbeeld: as jy voel God wil iemand genees en jy moet hande vir die persoon oplê, moet jy die stap neem om na hom/haar te stap, te vra of jy mag hande oplê (baie belangrike geestelike protokol), en dan dit doen. Sonder die daadwerklike aksie kan die genadegawe nie gebeur nie. In ‘n sin is dit vir iemand wat ‘n begeerte het om in tale te praat, miskien die moeilikste aspek: om in geloof uit te stap en dit te begin doen. Anders as wat die algemene persepsie is, “oorval” ‘n taal nie net ‘n mens nie; dit is nie net ‘n spontane opborrel waaroor jy geen beheer het nie. Soos Paulus oor die genadegawe van profesie die riglyn stel, is dit waar van al die ander genadegawes, maar veral van tale: Die gees van die profete is aan die profete onderworpe (1 Kor 14:32). Dit beteken eenvoudig: ‘n geestelike gawe is nie ‘n spontane gebeurtenis waaroor jy geen beheer het nie – die persoon wat die gawe ontvang, kan kies of hy/sy dit wil gebruik.

Omdat taal so ‘n alledaagse kommoditeit van menslike funksionering is, voel ‘n mens maklik dit is jy self kan wees wat die woorde versin. Vir die begin, as dit voel of jy nie die vrymoedigheid het om dit te doen nie, bid en vra die Vader vir die genadegawe, en stap uit in geloof: sê die woorde wat by jou opkom. Dikwels voel ‘n mens vreeslik simpel oor hierdie “brabbeltaal” en die vyand is gou by jou te probeer oortuig jy het dit self opgemaak. Moet hom nie glo nie.

Die uitleg van tale werk op dieselfde beginsel. As daar ‘n taal is, vra die Heilige Gees vir ‘n uitleg. Hy kan jou ‘n Skrifgedeelte gee, of ‘n passasie in jou gees, of ‘n lied of wat ook al, Stap uit in geloof – dit moet in elk geval getoets word. En onthou: almal is in ‘n leerproses, en moet kan foute maak. (Soos Gary Player gesê het: the more I practice, the luckier I get ) 

Jes 28:11 het inderdaad waar geword met hierdie genadegawe: “Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek.” (Daarom klink ‘n talewoord partykeer of daar ‘n geweldige herhaling van klanke en woorde is – dit is geestelike hakkel!) Laat God jou in hierdie geheimenis inlei – dit bring groot vrug in jou lewe mee.

  • Sela: Leer die Heilige Gees op ‘n ander vlak vertrou met die beoefening van hierdie genadegawe.  
  • Lees: Eks  9; Ps 59; Rom 1
  • Memoriseer:  Rom 1:16 
  • Vir dieper delf: Bring Gen 1:11, Job 28:5 en Ps 104:14-17 met hierdie ganadegawes in verband.