
“die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal” (Open 3:12, OAV)
Ons is stelselmatig besig om al die Skrifgedeeltes wat gebruik word in die mitologisering van die hemel een vir een te ondersoek en aan te toon dat daar op grond van menslike oorlewering ‘n totaal verwronge betekenis daarop afgedruk word. Die Manna van die vorige keer was ‘n in-diepte ondersoek na Joh 14 en die oorgelewerde idee dat daar vir alle gelowiges ‘n “mansion” in die hemel gebou word waar elke geredde persoon vir ewig sal woon. Dit was absoluut duidelik dat Joh 14 sê dat Jesus gegaan het om vir ons ‘n plek te gaan voorberei, maar dis nie ‘n huis in die hemel nie, dis ‘n topos in Hom. HY is immers die Weg. Die plek daarheen weet ons, en die weg ken ons. IN HOM lewe ons, beweeg ons, en is ons (Hand 17:28).
Hierby sluit direk aan die gedeeltes in Openbaringe oor die Nuwe Jerusalem. Die boek wat waarskynlik die meeste bygedra het tot ‘n misverstaan van die Nuwe Jerusalem, is John Bunyan se klassieke allegorie: Die Pelgrim se reis na die ewigheid, of dan: The Pilgrim’s Progress, wat die eerste keer in 1678 gepubliseer is. Hierdie topverkoper deur die eeue maak aanspraak op die titel van “die wêreld se mees vertaalde boek naas die Bybel” en het derhalwe ‘n geweldige bydrae gemaak om ‘n onbybelse mitologie van die hemel te vestig.
In sy vertaling in Afrikaans, Die Christen se reis na die Ewigheid, sê Josef Coetzee in die voorwoord dit is “die verhaal van die man Christen se reis na die Nuwe Jerusalem en sy vreemde ondervindinge op hierdie reis” (p. 8) na “die Hemelse Stad” (p. 12).
Die karakter Christen val op ‘n stadium op sy reis vas in die Moedverloormoeras (wat gepas in hierdie vertaling een keer deur ‘n setfout gespel word as Moerverloormoeras J), en koppel dan sy ervaring aan die gruwelike dinge wat sy geestelike voorgangerpelgrims beleef het. Hy haal verbatim aan uit Heb 12, wat onteenseglik ‘n verband skep met wat in dié hoofstuk genoem word “die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem” (vers 22). Deur vele beproewinge en aanslae en uiteindelik selfs ‘n reis deur die dood, bereik hy in die laaste hoofstuk uiteindelik “die Berg Sion, die hemelse Jerusalem … God se paradys”. Christen vra tereg: “Wat moet ons in hierdie heilige plek maak?”
Hoe waardevol die allegorie van John Bunyan ook al is om vir ons “pragtige woordprentjies” te maak, vestig dié foutiewe verletterliking ‘n denkkonstruk oor die hemele wat werklik misleidend is.
In die Skrif word daar dikwels verwys daarna dat ‘n gelowige hom nie moet besig hou met “fabels” nie (1 Tim 1:4; 4:7; 2 Tim 4:4; Tit 1:14; 2 Pet 1:16). Die woordjie “fabel” sou beter vertaal kon word met mite (Grieks: muthos), soos wat ‘n klompie vertalings dan ook doen (EMTV, ESV, GW en ISV). ‘n Mite is ‘n oorlewering omtrent godsdiens, ‘n verhaal sonder waarheid. Die Pelgrim se reis na die Ewigheid is ongelukkig ‘n goeie voorbeeld van ‘n “kunstig verdigte fabel” (2 Pet 1:16), ‘n “cleverly devised myth” (ESV), wat ons verstaan van die hemel groot skade aangedoen het.
- Sela: Probeer ‘n onderskeid tref tussen fabel, legende en mite.
- Lees: Ps 100-102
- Ondersoek die vervulling: Versklaar Ps 102:14 in die lig van dié lering.
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Julle het gekom by die berg Sion.