Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem …”(Heb 12:22, OAV)
Die twee enkele verwysings na die frase ‘Nuwe Jerusalem’ in die boek Openbaringe is genoeg om te sien dat dit gemetaforiseer aangebied word:
- Open 3:12 Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”
- Open 21:2 “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.”
Daar is ‘n paar gemeenskaplikhede in die twee verse wat ‘n mens moet uitsonder:
- Albei bevat die frase: “sien neerdaal uit die hemel”. ‘n Stad wat neerdaal? Dit is per definisie onmoontlik.
- Albei word in terme van menslike aksies gepersonifieer. ‘n Stad wat oorwin? ‘n Stad wat soos ‘n bruid versier is vir haar man? Dis per definisie onsinnig.
In Open 21:9 en 10 word die ooreenkoms tussen die stad en die Bruid, dit wil sê die ooreenkoms tussen die Bruid wat soos ‘n “gebou van God” (1 Kor 3:9) is, wat in menslike terme opgebou word, soos Ps 149:2 uitspel: “Die HERE bou Jerusalem op …”, baie, baie duidelik: “En een van die sewe engele … het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem wat uit die hemel van God neerdaal …”
The New Jerusalem is not a place; it is a people. Die Vrou van die Lam IS die Bruid van Christus, IS die Nuwe Jerusalem, IS die heilige (=afgesonderde, “set apart”) Jerusalem. Gal 4:26 het vir ons dit reeds netjies uitgespel: “Maar Jerusalem daarbo is vry ….”
In Open 19:7-8 word hierdie stad as die vrou van die Lam voorgehou, “want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” Die Lam van God sal nie ‘n bruilof met ‘n stad hê nie, maar met ‘n korporatiewe Bruid (wat deur ‘n stad verbeeld word).
Hierdie “stad van God” word in Ps 84:2-3 ook Sion genoem (sien ook byvoorbeeld Ps 48:2). In Jes 61:3 word die inwoners van Sion ook “terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE” genoem, met ander woorde hulle word ook die Paradys genoem (Open 2:7) waarin die Boom van die Lewe is. Hierdie Boom van die Lewe, het ons uitvoerig beredeneer in Manna 41&42, is die Koninkryk van God.
Hierdie stad waarna Abraham, ons vader in die geloof, gesoek het, is nie die hemel nie: “hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb 11:.10). Die Bruid het nou reeds by daardie stad uitgekom (Heb 12:22), want ons IS die stad.
- Sela: Verduidelik aan iemand die aaneengeskakelde metafore van die Nuwe Jerusalem.
- Lees: Ps 103-105
- Ondersoek die vervulling: Verklaar Ps 103:19 in die lig van dié lering en 1 Pet 3:22..
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Korporatiewe salwing: “As it is in heaven”.