Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” (Ps 6:5, OAV)
Uit die navorsing oor NDEs wat in die vorige Mannas aangebied is, is dit duidelik dat ons geensins die ervarings kan gebruik om iets oor die hemel te verifieer nie. Die mees logiese rede vir die gemeenskaplikheid van die ervarings is uit ‘n mediese oogpunt.
- Dit is belangrik om as uitgangspunt te sê dat ons in wonderwerke glo, en dat God uiteraard in staat is om iemand uit die dood uit op te wek (ons het dit self beleef). Tog is dít bykans nooit die geval met mense wat naby-doodse ervarings (NDEs) gehad het nie. Navorsing oor die toestand het in 99,99% van die gevalle getoon die persone was nie klinies dood nie. Dr Greene, in If I should wake before I die, maak dié kategoriese stelling: “Almost by definition, the person who has a memory of the ‘death process’ was not, in fact, dead.” (p. 169). NDEs was dus as gevolg van bepaalde fisiologiese prosesse terwyl die liggaam en die brein geveg het om oorlewing.
- Die skoktoestand van die liggaam en die brein se verantwoordelikheid om sin daarvan te maak, lei dikwels tot ‘n kombinasie van depersonalisasie en losmaking/ ”detachment” (wat resulteer in die “ek kyk neer op my eie liggaam”-ervaring) en selfs visuele hallusinasies (as gevolg van die gebrek aan bloedvloei na die brein en die chemiese wanbalanse, hoofsaaklik as gevolg van gebrekkige glukosevoorsiening). Die bloedvloei na die brein is noodsaaklik vir die proses van lewe (en uiteraard bewussyn), en enige bedreiging van die natuurlike proses van die liggaam is om meer bloed na die brein te laat gaan (deur vergroting van die are na die brein en die vernouing van die res van die liggaam se are) laat veel meer suurstof deur, wat ‘n noodwendige gevoel van euforie, vrede, vreugde en geluksaligheid meebring, selfs delirium.
- Chemies-geïnduseerde medikasie tydens operasies kan uiteraard verskeie psigiese ervarings meebring: helder beelde, sensasies van vlieg of baie vinnig beweeg, vinniger denk- en verbeeldingsprosesse, en selfs ‘n “godsdienstige” bewussyn.
- Wanneer die liggaam in erge stres verkeer (byvoorbeeld met beserings tydens ‘n ongeluk of trauma gedurende ‘n operasie) skei die pituïtêre klier groot hoeveelhede endorfiene (die liggaam se natuurlike morfien) af om pyn te blokkeer en om die liggaam “goed” te laat voel. D.B. Carr het met sy artikel ‘Endorphins at the Approach of Death’ in die mediese joernaal Lancet oor endorfiene geskryf dat dit ‘n chemiese middel is “given by a benevolent deity to intervene in the throes of death”.
- Een van die gevolge van hartstilstand (“cardiac arrest”) is ‘n belewenis van om ‘n ligtonnel af te beweeg.
Van al hierdie dramatiese fisiologiese gebeure moet die brein ten alle koste sin maak. Die psigologie ten grondslag van die NDE behandel ons dan in die volgende Manna.
- Sela: Wat sou jou psigologiese verklaring vir NDEs wees?
- Lees: Ps 115-117
- Ondersoek die vervulling: Verklaar Ps 115:16-17 in die lig hierdie lering. Profound!
- Delf dieper: Lees David Livingstone se biografie vir ‘n verstaan van sy NDE.