“May God himself, the God who makes everything holy and whole, make you holy and whole, put you together – spirit, soul, and body” (1 Thes 5:23, MSG)
Voordat ‘n mens regtig die ongelooflike gebeurtenis van wedergeboorte kan verstaan, moet jy die agtergrond hê van hoe die mens in die gevalle staat gekom het, “sonder hoop en sonder God” (Efes 2:12).
Adam, die eerste mens, se verhouding met God is gekenmerk aan die feit dat hy met God gesels het, dat hy opdragte van Hom ontvang het, dat daar verhouding was. Die vermoë om God se stem te hoor, was ‘n vermoë van die gees. Dit vind op ‘n intieme vlak plaas – ken kom immers van die woordjie beken, om gemeenskap te hê, af.
Die mens bestaan uit drie dele: jy is ‘n gees; jy het ‘n siel en jy bewoon ‘n liggaam. Daar is dikwels ‘n verwarring tussen siel en gees. Jou gees is jou vermoë om met God te kan kommunikeer en in die geestelike realm te kan funksioneer. Jou siel is WIE jy is: jou Wil, jou Intellek en jou Emosie. Die siel fasiliteer tussen die liggaam en die gees.
Toe God Adam gewaarsku het om nie van die boom van kennis van goed en kwaad in die tuin van Eden te eet nie (Gen 2:16-17), het Hy hom ook gewaarsku dat as hy dit sou sou doen, hy sou sterf. Nadat Adam en Eva van die boom geëet het, het hulle nie fisies gesterf nie. Adam het daarna nog lank gelewe (Gen 5:1-2). Wat het die waarskuwing dus eintlik beteken? Dit beteken dat hulle gees gesterf het, letterlik dormant geword het, dit wil sê hul vermoë om God se stem te hoor, het grootliks verval. God is Gees en as ‘n mens Hom aanbid, moet jy Hom in gees aanbid (Joh 4:24).
In Adam het die ganse mensdom ná hom dieselfde toestand geërf. In Adam, het alle mense na hom op ‘n soortgelyke wyse gesterwe (1 Kor 15:22). Ons almal het dus gesondig en dit ontbreek ons aan die vermoë om met God verhouding te hê. Daar is niemand wat God soek nie. “Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom 3:11-12).
Almal ná Adam het dus God bloot op sielsvlak leer ken – en dis die geweldige gevaar waarin ons verval – godsdiens. Godsdiens is die uiterlike handelinge wat die mens op siels- en liggaamsvlak doen om verhouding met God te simuleer. As jy dus godsdiens bedryf deur emosie, deur ‘n wilsbesluit, of deur intellektuele beredenering, is dit bloot ‘n sielsvlakervaring – dit kan nie verhouding met God word nie. Skrik! Lees weer Joh 4:24.
‘n Mens se gees word eers weer opgewek uit die dormante staat wanneer jy wedergebore word.
Deur wedergeboorte word jou gees, siel en liggaam geïntegreer, sodat jy Hom kan leer ken.
Miskien om net dit wat ons geleer het, vas te maak, kom ons gaan net weer in hooftrekke oor die wonderbaarlike proses wat God daargestel het om Hom te kan leer ken: Ons het in die dae wat verby is geleer dat God jou geroep het om Hom te volg, en dat dit jou redding vooraf gaan. Jesus maak byvoorbeeld dié ongelooflike stelling in Joh 6:44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”. As jy dus reageer op sy roepstem, is dit omdat jy gereageer het op sy direkte áppel tot jou: Volg My.
Hierdie roep kom egter na alle mense (Tit 2:11), nie net na spesifieke persone soos wat sommige teologiese beskouiings dit voorhou nie: “die reddende genade van God het aan alle mense verskyn”. God wil immers hê “dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim 2:4).
Alhoewel die roep na alle mense kom, móét jy Hom persoonlik aanneem (Joh 1:12) – jy moet positief reageer op die oproep om Hom te volg. Die koninkryk van God moet met geweld gegryp word, sê Jesus in Mat 11:12, en nét mense wat dit só met geweld in besit geneem het, wanting it very badly, sal dit verkry.
Voordat jy God leer ken het, het jy bes moontlik heelwat van Hom geweet. Omdat jou geesdimensie daarvorens dormant was, kón jy Hom nie ken nie, en derhalwe het almal “gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop” (Jes 53:6), jy óók.
Maar toe jy bewus geword het van God se roep na jou, het jy daarop geantwoord – dit noem ons bekering. Bekering is dus die konkrete keuse wat jy maak om te antwoord op God se roep na jou.
As jy by die punt kom waar jý na God gryp, jou na Hom wend, omdraai van die pad wat jy tot nou toe geloop het – dit is jou inisiële bekering.
Bekering gaan wedergeboorte vooraf. Bekering is jou keuse; God antwoord daarop met wedergeboorte. Só bring Hy jou oor van die koninkryk van duisternis na die Koninkryk van Lig (Kol. 1:13).
- Sela: Bedink en dokumenteer in jou joernaal jou inisiële bekering. Miskien het jy ‘n paar sulke groot terugdraai-ervarings gehad – Koos du Plessis lê dit so in ‘Gebed’ vas:
Elke afdraaipaadjie ken ek.
Elke keer het ek gedwaal.
Elke keer het U my iewers kom haal –
maak dit, Here, die laaste maal.
Dokumenteer ook dit; en as dit vandag vir jou nodig is, vra Hom dat dit die laaste maal mag wees.
- Lees: Gen 6 & 7: Ps 6 & 7; Joh 6 & 7
- Memoriseer: Joh 6:35; 7:37-38.
- Vir dieper delf: Bestudeer Pawson se The normal Christian birth, en Venter & Gouws se Die verbond en die vervalsing (pp. 47-64).