“van nou af sal julle die hemel geopend sien” (Joh 1:52, OAV)
‘n Aanverwante saak, soortgelyk aan nabydoodse ervarings, is gelowiges wat in visoene of drome die hemel sien, of selfs ervaar. Verskeie persone het lang, detail getuienisse van hierdie “besoeke” wat hulle in drome of visioene gegun is. Die dilemma met hierdie tipe getuienisse is dat dit dikwels kom van geestelike mense met ‘n betroubare geskiedenis en dat dit so oortuigend oorkom. As ‘n mens die getuienis nie aanvaar nie, is dit amper ‘n mosie van geloofswantroue in die persoon. Tog kan ons in die beoordeling daarvan net gaan rondom dit wat die Skrif eksplisiet daaroor sê.
Miskien moet ‘n mens begin deur onomwonde te stel dat drome en visioene deel is van die meganismes waardeur God wel met die mens praat (sien Mannas 135-139). Drome en visioene het uiteraard nie die geïnduseerde traumaervarings ten grondslag wat NDEs veroorsaak nie. Dis noodsaaklik om allereers na die Bybelse voorbeelde te kyk van sodanige ervarings en dan op grond daarvan uitsluitsel te kry.
- In Hand 7 word Stefanus gestenig, en terwyl dit gebeur “sien (hy) die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (vers 56). Albert Barnes’ Notes on the Bible verduidelik tereg dat hierdie ‘n “figurative expression” is. Hy vergelyk dit met Eseg 1:1, waar gesê word: “die hemele (het) geopen en het ek gesigte van God gesien”. Let mooi op: die hemele/geestelike realm wat open = gesigte/visioene van God. Die weg tussen die fisiese en die geestelike realm is Jesus (Heb 10:20). In Joh 1:52 maak Jesus dit onteenseglik duidelik: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.”
- In 2 Kor 12:1 praat Paulus ook van “gesigte en openbaringe van die Here” (vers 1) en vertel dan van ‘n persoon wat “weggeruk is tot in die derde hemel” (vers 2), en omskryf dit dan in vers 4 “dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie”. Die gelykstelling tussen “derde hemel” en “paradys” is ‘n sleutel hier. Let wel: die paradys IS NIE die tuin van Eden nie (word nie een keer só in die Ou Testament genoem nie). As die moordenaar aan die kruis Jesus aangryp, sê Jesus vir hom: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk 23:43). Jesus is daardie dag direk doderyk toe (Hand 2:31), want Hy moes in die doderyk aan almal wat gesterf het die evangelie van redding bring – “Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.” (1 Pet 4:6). In die volgende Manna meer hieroor.
- Sela: Wat is die implikasies van die woorde: “van nou af” in Joh 1:52?
- Lees: Ps 120-123
- Ondersoek die vervulling: Verklaar Ps 122 in die lig van Open 21
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd’s: ‘n Bybelse begronding van drome