God is … ‘n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood.” (Ps 68:20, OAV)
Ons is tans besig om die laaste aspekte van nabydoodervarings uit ‘n Skriftuurlike oogpunt te ondersoek en spesifiek met die onderafdeling oor mense wat in visoene of drome die hemel gesien en/of ervaar het.
Twee Bybelse verwysings wat dikwels gebruik word om NBEs te regverdig, is in die vorige Manna behandel. Die eerste was die steniging van Stefanus in Hand 7. Ons het duidelik gesien dat die frase “die hemele geopend sien” vanaf Joh 1:52 gebruik word as ‘n segswyse om aan te dui dat dit sedertdien moontlik is vir gelowiges om in die geestelike realm te kan sien. Deur sy kruisdood wat hemel en aarde verbind, sê Jesus, word dit moontlik om van nou af … die hemel geopend (te kan) sien. Die ander Skrif is 2 Kor 12:1 waar Paulus verduidelik van “gesigte en openbaringe van die Here” (vers 1) en dan noem van ‘n persoon wat “weggeruk is tot in die derde hemel” (vers 2), en omskryf dit dan in vers 4 “dat hy weggeruk is in die Paradys”. Die gelykstelling tussen “derde hemel” en “paradys” is ‘n sleutel hier.
Ons het uitgewys dat die paradys IS NIE die tuin van Eden nie en dat die moordenaar aan die kruis, ná hy gekruisig is, na die doderyk verplaas is, waar Jesus ook heengegaan het (Luk 23:43; Hand 2:31). Jesus moes, volgens 1 Pet 4:6, in die doderyk aan almal wat gesterf het die evangelie van redding bring. Hierdie is ‘n baie problematiese vers wat deur baie teoloë as obskuur beskou word (sien byvoorbeeld prof Danie du Toit se Antwoorde op eietydse vrae, pp. 130-133), maar in die lig van die totale verlossingsboodskap is dit eenvoudig en getuig dit van God se ingrypende genade wat uitreik na almal wat ver is, en naby (Jes 57:19).
Hand 4:12 spel die waarheid eenvoudig uit: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Jesus (1 Tim 2:5). Dáárom kon Jesus onomwonde sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh 14:6). As dít dan so is, is dit te verstane dat Jesus ook deur God bestem is as Regter van die lewende en die dode. Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang (Hand 10:42-43). Diegene wat in die tydvak voor Jesus gesterf het, word uiteraard hierby ingesluit. Hulle het almal gesterf in ‘n epog waarin die bloed van stiere en bokke aangebied is vir hul sonde, maar dit was onvolmaakte offers, wat onmoontlik die sonde kon wegneem (Heb 10:4). Daarom moes Jesus die ewige en vomaakte offer (Heb 9:26) word: “Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie.” (Heb 10:5-6).
Maar hoe kan diegene wat “sonder Christus … sonder God en sonder hoop” (Efes 2:12) gesterf het, anders gered word? Eenvoudig: Jesus moes na sy sterwe doderyk toe gaan om die boodskap van verlossing aan al diégene in die doderyk te verkondig. Lees weer 1 Pet 4:6 in hierdie lig: “Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.”
Ons weet uit Open 1:18 dat slegs Jesus het “die sleutels van die doderyk en van die dood”. Nadat Hy die laaste asem uitgeblaas het, het Hy sy gees aan God oorgegee (Luk 23:46), en het sy gees na God gegaan, volgens Pred 12:7 (“die gees na God terugkeer wat dit gegee het”). Sy siel is egter doderyk toe (Jes 53:12).
Die onderskeid tussen gees, siel en liggaam is hier van die allergrootste belang en ons moet net ‘n oomblik daarby stilstaan voor ons verder gaan. (Daar is verskeie teoloë wat weerstand bied teen wat hul ‘n “trigotomie” of driedelige verdeling van die mens noem, maar dis vir hul onmoontlik om by 1 Thes 5:23 verby te kom, waar die drie fasette van die mens uitgespel word. Heb 4:12 praat ook byvoorbeeld eksplisiet van die “skeiding van siel en gees”.)
Die mens is allereers ‘n gees, hy het ‘n siel (= sy wil, intellek en emosie) en woon in ‘n liggaam. Die asem van die mens, wat sy biologiese lewe impliseer, het tot stand gekom deur die “asem van die lewe” (neshâmâh) wat Yahweh in hom ingeblaas het en waardeur hy ‘n “lewende siel” (Gen 2:7; 1 Kor 15:45) geword het. Dié asem wat in die mens se liggaam geblaas is, is nie die geesasem van die Heilige Gees, die ruach, nie. Daarom het ook ander lewende wesens wat nie van die orde van die mens is nie, byvoorbeeld diere, ook ‘n “lewende siel” (Gen 1:30). As dié asem van die lewe onttrek word, sterf die persoon of dier. Dit is egter nie sy gees nie. Net die mens het ‘n gees, en dit is die vermoë wat Adam gehad het om met God te kan kommunikeer, ‘n impartasie van God se Gees-aard (omdat die mens na sy Beeld geskep is, en Hy Gees is – Gen 1:27; Joh 4:24). Die mens het deur die sondeval sy gees in ‘n dormante staat laat kom, want die mens leef van elke woord wat uit die mond van God uitgaan (Mat 4:4); daarom kon die mens nie meer in interaksie met God leef nie, en het hy geestelik gesterf (Gen 2:17). Om hierdie rede word die laaste Adam, Jesus, “’n lewendmakende gees” (1 Kor 15:45) genoem.
Alhoewel die mens se gees met wedergeboorte volmaak gemaak word, het die siel steeds nie die “goddelike natuur” (1 Pet 2:4) deelagtig geword nie. Daarom stel 1 Pet 1:9 dit onomwonde, dat die einddoel van die geloof is die saligheid van die siel. Met ander woorde: die natuurlike wil moet vervang word met die wil van God (Rom 8:7; 12:2); die menslike emosies moet vervang word met die vrug van die Gees (Gal 5:19-22); en die menslike intellek (Rom 8:5) moet vervang word met “the mind of Christ” (1 Cor 2:16, ASV).
Hou dit alles in gedagte dan – as die geredde mens sterf, gaan sy gees (wat hy deur wedergeboorte ontvang het) na God toe (Pred 12:7); sy liggaam word stof (Gen 3:19; Ps 146:4); en sy sieldimensie gaan oënskoulik doderyk toe. Ps 89:48 sê immers: “Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.”
In die lig hiervan het Jesus sy gaan na die doderyk vooraf verduidelik aan die hand van ‘n tipologie in Mat 12:40 – “”Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” Die poëtiese “hart van die aarde” word pragtig toegelig in Jona 2:2-6 – “Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp—U het my stem gehoor. U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat ‘n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, HERE my God!”
Benewens die feit dat die verhaal van Jona in die vis ‘n meesterverhaal van die Bybel is (dit wil sê ‘n kortverhaal waarin die breë temas van die groter verlossingsverhaal in ‘n ander narratief voorgehou word – die boek van Rut is ook so ‘n meesterverhaal), is hierdie woorde van Jona ook ‘n poëtiese gebed (The Literary Study Bible, pp. 1388-9), en is daar verskeie poëtiese stylfigure wat die lees daarvan verdig en veroorsaak dat ‘n mens nie eenvoudige insig kry oor die doderyk nie. (Uiteraard was Jona duidelik nie in die doderyk nie, maar uiter hy die profeties-poëtiese gebed ter wille van Jesus wat vir ons iets van sy tyd in die doderyk wil dokumenteer!)
Dit word baie duidelik hoekom Jesus die weg van Jona voorgehou het om sy tyd in die doderyk te beskryf, veral as ‘n mens dit inweef met die profetiese gedeelte in Ps 16:10 waarin Dawid profeteer: “want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie”. Ons weet dat Dawid wel die weg van alle vlees gegaan het – dus het hy nie oor homself hier geprofeteer nie, maar oor oor die Messias wie sou kom. Dít is dan presies ook die argument wat Petrus in Hand 2:24-36 voer. Ons het Dawid se graf hier by ons, sê hy, dus moes Dawid indertyd oor Jesus geprofeteer het: “het hy (Dawid), omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie?” (vers 31). Hieruit is dit duidelik dat Jesus se siel in die doderyk was (terwyl sy liggaam in die graf was, maar nie verderwing gesien het nie – Hy het eers liggaamlik op die derde dag opgestaan uit die dood – Mat 27:64).
Die probleem wat ons het met hierdie stand van sake, is dat ons aan die begrip siel dink as ‘n funksionering van verstand, emosie en wil wat ons veronderstel ook tot niet gaan met die dood. Dit is egter glad nie die geval nie – die siel is “that unique,… essence of all human beings” (Renn: Expository Dictionary of Bible Words, p. 919). Renn voeg ook die woordjie “immortal” by, maar ek gaan eerder akkoord met The International Standard Bible Encyclopedia wat stel: “It was hinted that one use which the Greeks made of the metaphysical argument was to prove the indestructibility of the soul – its immortality in the sense of having no beginning and no end. This is not the Christian doctrine. The soul has no such inherent indestructibility. It is dependent on God, as everything else is, for its continued existence.” Die siel is dus nie per definisie onsterflik nie – sien byvoorbeeld Eseg 18:4 & 20. (Hierdie punt word later van groot belang.)
Tog word die siel in baie fisiese terme voorgehou, byvoorbeeld in die belangrike Lev 7:11 – “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.” In vers 14 word dit egter in perspektief gestel, en die Amplified Bible wys juis die belangrike verhouding tussen siel en bloed uit: “As for the life of all flesh, the blood of it represents the life of it …” Die bloed is ‘n representasie of voorstelling van die siel – dit is nie die siel nie. Die bloed is die middel om versoening te bewerk omdat die siel, d.i. die lewe, van die vlees in die bloed is.
Maar onthou – in die doderyk is die siel stil (Job 3:13; Ps 94:17; 115:17), verkeer in rus (Job 3:17) – kortom die wil, intellek en emosie funksioneer nie (Pred 9:5, 6 & 10). In die doderyk rus die siel, kan die siel God en mens nie meer ervaar nie (Jes 38:11).
Terug na die saak waarmee ons sekondêr mee besig is. Ongereddes se gees is steeds dormant terwyl hul nog leef. As hul sterf, gaan hul siel ook doderyk toe. Almal voor Jesus se kruisdood en opstanding is die geleentheid gebied om tot redding te kom in die doderyk. Maar almal daarná het nie noodwendig die boodskap van verlossing in Jesus Christus gehoor nie. Daarom spel Rom 1:19-20 uit dat “wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie …” Elke persoon het in sy hart ‘n bloudruk van God (Ecc 3:10, Ampl): “He also has planted eternity in men’s hearts and minds [a divinely implanted sense of a purpose …]” Eternity/eternal life is “to know Him” (John 17:3) – dít is in elke mens se hart ingeplant. Inderdaad: “God is … ‘n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood.” (Ps 68:20).
In die volgende Manna knoop ons al die heerlike los drade vas.
- Sela: Waarom is dit belangrik om uitsluitsel te kry of die siel (on)sterflik is?
- Lees: Ps 124-132
- Ondersoek die vervulling: Waarom is Ps 129:4 so belangrik vir dié lering (wenk: 1 Kor 1:30)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Vrees vir die dood hou jou in slawerny.