“‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.” (Joh 3:27, OAV)
Vanaf Manna 595 het ons al die belangrikste fasette van nabydoodervarings in die lig van die Skrif ondersoek, en ook geïnterpreteer teen die agtergrond van insigte uit die mediese wetenskap. Dis onteenseglik duidelik dat hierdie tipe ervarings helaas geen bewys lewer dat gelowiges wel hemel toe gaan nie.
In die oorkoepelende tema wat ons ondersoek, probeer ons uitwys hoe die lering oor die hemel as “eindbestemming” onteenseglik ‘n growwe misleiding is. En hierdie “doctrine of demons” word nie voorgehou deur mense wat ooglopend ander probeer mislei nie – dit het bloot deur eeue se godsdienstige oorlewering só deel van ons geestelike grein geword, dat mense dit as fundamentele dogma beskou. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die boek van John & Paula Sandford: The Transformation of the Inner Man waaroor ek so hoog opgegee het in die vorige Manna. Ingeweef in die uiters knap handleiding tot innerlike genesing, vind ons op p. 24 byvoorbeeld: “Going to heaven is the end of a product … When we ask, ‘Have you been saved, brother?’, we mean ‘redeemed’, ‘justified’, ‘born anew’, and ‘gong to heaven.Well and good. Perhaps there isn’t a better word to use. But the question is confusing. If we mean, ‘Has the Lord gotten hold of you, paid the price, and set your face toward heaven?’, every born-anew Christian ought to answer with an unqualified, ‘Yes, I’m saved, and going to heaven.”
Die vooropstelling van “hemel toe” word op die duur grinterig tussen ‘n mens se geestelike tande.
Met al die fundamentele argumente rondom die hemel-toe-gaan afgehandel, is dit miskien belangrik om ter afsluiting na ‘n klompie tekste te kyk wat spesifiek handel oor een of ander aspek van die hemele, en sodoende al die moontlike twyfeltekste probeer integreer in die totale segging van die Skrif.
In bykans al die voorbeelde wat ons na gaan kyk, is dit van groot belang om deurgaans te onthou wat die Bybelse definisies van hemele is. Allereers dat dit dui op die uitspansel “bo” die aarde, en tweedens dat dit dui op staat waar God regeer as Koning. Die kern van hierdie betoog is dat die hemele is waar God se troon is – dit is die definisie wat die wysste man wat ooit gelewe het, Salomo, hemel mee gedefinieer het, en dit is ook die definisie wat Petrus, een van die grondleggers van die Nuwe Verbond, dit mee definieer. Daarmee saam, dat geen hemel God kan bevat of omvou nie. God is eindeloos groter as enige hemel. En dan, ten derde: dat geen mens ooit in die hemel was of gaan wees nie. Ps 115:16 – “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”
Maar nou: wat sou byvoorbeeld die betekenis wees van Mat 5:11-12 – “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” En Mat 6:20 wat eweneens praat van “maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie”. Die ryk jong man word aangesê om al sy besittings te gaan verkoop en agter Jesus aan te kom, want dan sal hy ‘n skat in die hemel hê (Mat 19:21).
Wat beteken al die skatte en die enorme loon as ons nie hemel toe gaan nie, sou jy tereg kon vra. Wat dan, byvoorbeeld, is die waarde en betekenis van die kroon wat vir ons “weggelê” (2 Tim 4:8) is, daardie “kroon van die lewe” wat die oorwinnaars sal ontvang (Open 6:2), waarvan 1 Pet 5:4 ons vir eeue lank al laat droom het, daardie “onverwelklike kroon van heerlikheid” wat ons van die Opperherder sal ontvang?
‘n Baie belangrike benadering tot die lees en interpreteer van die Bybel word hier veronderstel. Fischer, in sy How to Read the Bible, sê dit raak: “the Bible speaks largely in images … The stories, the parables, the sermons of the prophets, the reflections of the wise men, the pictures of the time to come, the interpretation of past events all tend to be expressed in images … They do not often arise out of abstract technical language.” Dit is belangrik om te besef dat embleme, simbole, beeldspraak, metafore, alle figuurlike uitdrukkings (ook trope genoem), ons letterlike verstaan van die Bybel rig. Figuurlik staan nie teenoor die letterlike interpretasie van wat die Woord sê nie; dis ‘n hulpmiddel om gestalte te gaan aan die realiteit van die Woord. H. Richard Niebuhr, die bekende teoloog, sê in sy The Responsible Self: “Man … is a being who grasps and shapes reality … with the aid of great images, metaphors, and analogies.” Inderdaad.
2 Kor 5: 1-5 hou die sleutel van hierdie “geheimenis” waarvan 1 Kor 15:51 praat: die gelowige moet oorklee word met die skathuis “in die hemele” terwyl hulle nog op aarde is! Ons sterflike, gekorrupteerde staat moet hier oorklee word, “sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word”! Hierdie bekleding of outoriteit kom uit die skatkamers van die hemel, die geestelike realm waar God regeer. Dit is die goud, edelgesteentes, krone, mantels – alles embleme (voorstellings of simbole) van dit wat ons in die geesrealm van God ontvang om toegerus of opgebou te word – “die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here … ‘n woning van God in die Gees” (Efes 2:21-22), dat ons kan opgroei “tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes 4:13), hier op aarde.
Dus, as die Bybel praat van dit wat in die hemel as skat bewaar word, of bymekaar gemaak word, is dit alles wat ons in ons posisie in Christus IN DIE HEMELE toegevoeg word. Paulus praat in Efes 1:3 van God “wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”. In Ef 2:6 sê hy dat ons reeds sit in die hemele in Christus. Vanuit daardie posisie in die gees (in die hemele) daal alles na die aardse realm, soos in die hemel, so ook op die aarde (Mat 6:10)! Onthou wat stel Jam 1:17 (ASV): “Every good gift and every perfect gift is from above, coming down …” From above, coming down.
So byvoorbeeld vra Yashua aan die dissipels of die doop van Johannes “uit die hemel” was of “uit mense” (Mat 21:25). Die slotsom : Johannes se doop het uit die geestelike realm/die hemele neergedaal, met ander woorde dis deur God ingegee. Die digotomie is duidelik, veral in die lig van 1 Kor 15:47 wat verduidelik die eerste mens was “uit die aarde aards”, die tweede mens is die Here “uit die hemel”. Die doop van Johannes is dus eers in die hemele gekonsipieer, en het toe translate na die aksie van Johannes toe. Op dieselfde wyse het Jesus verwys daarna dat Hy net gedoen het wat Hy sy Vader in die hemele sien doen het (Joh 5:19). Jesus gaan so ver as om in Joh 3:27 & 31 te konstateer: “Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat hemel kom, is bo almal … ‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.”
In hierdie lig is al die verwysings na uit/in die hemele besonder duidelik.
- Sela: Watter gevaar hou dit in as die Bybel net letterlik gelees word?
- Lees: Ps 136-141
- Ondersoek die vervulling: Ps 136:5 (Wenk: Wat is die rol van die Wysheid? Vgl 1 Kor 1:24)
- Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.