Dag 608-609

 

In dié dag sal die HERE die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese, soos die Engel van die HERE voor hulle uit.”  (Sag 12:8, OAV)

Met al die fundamentele argumente rondom die hemel-toe-gaan afgehandel, is ons tans besig om ter afsluiting na ‘n klompie tekste te kyk wat spesifiek handel oor een of ander aspek van die hemele. Sodoende sal ons al die moontlike twyfeltekste in die oorsigtelike beskouing van die Skrif probeer integreer en verduidelik.

Een van die mees problematiese tekste in die ganse Bybel is die Skrif wat aangehaal is hierbo. In vorige Mannas het ons uitvoerig daarop gewys dat AL die profesieë van die Ou Verbond geprofeteer het tot op Johannes die Doper (Mat 11:13), dit wil sê, vervul is tot en met die koms van Jesus en die koninkryk van God. Hierdie profesie van Yahweh aan Esegiël word, byvoorbeeld, wyd gebruik om te verduidelik dat ná die sogenaamde wegraping die Jode ‘n bonatuurlike besoeking gaan ontvang en hul tot Jesus gaan bekeer. Dit is helaas nie waar nie. Adam Clarke’s Commentary on the Bible verduidelik die profesie korrek binne die tydsgewrig waarbinne dit reeds vervul is: “This is the way in which the Jews themselves shall be brought into the Christian Church. 1. ‘They shall have the spirit of grace,’ God will show them that he yet bears favor to them. 2. They shall be excited to fervent and continual prayer for the restoration of the Divine favor. 3. Christ shall be preached unto them; and they shall look upon and believe in him whom they pierced, whom they crucified at Jerusalem.”

Dit het alles presies so gebeur. Hand 2:36-41 spel die vervulling in detail uit: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.” Let op – dis nét Jode van en met wie hier gepraat word.

Met die waninterpretasie dat hierdie profesie nog in die verre verskiet lê uit die weg geruim, is dit belangrik om daarop te let dat in die vers hierbo gepraat word van “die huis van Dawid soos ‘n hemelse wese”. ‘n Huis soos ‘n hemelse wese?

Vir die vertalers van die OAV moes hierdie frase baie vreemd gewees het, want hul keuse van woorde probeer ‘n betekeniskompromis tref wat ietwat van die oorspronklike taal afwyk. Die ASV-vertalings is nader aan die grondtaal: “and the house of David shall be as God, as the angel of Jehovah before them”.

Hier is twee begrippe wat ons moet uitklaar. Allereers die begrip “die Engel van die Here”. Hierdie is die Ou-Testamentiese verwysing na die pre-inkarnasiestaat van Jesus (voordat die Seun van God die Seun van die mens geword het). Die Skrif praat dus hier van Jesus wat hul sal vooruitgaan.

Die “huis van Dawid” is die tweede Ou-Testamentiese begrip wat gebruik word vir wat later in die Nuwe Testament as “die koninkryk van God” of dan: “die koninkryk van die hemele” gebruik sal word. Dit is gegrondves in die belofte wat Yahweh gemaak het aan Dawid. In die twee boeke van Samuel word die begrip vroeg al in die lewe van Dawid gebruik (1 Sam 20:16; 2 Sam 3:1 & 6). Dan lees ons hierdie belangrike woorde in 1 Kon 12:19 – “So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag toe.” Deur die loop van die eeue is die huis van Dawid “afgeskeur” (1 Kon 14:8), sodat dit later in Amos 9:11 “die vervalle hut van Dawid” genoem word.

In 2 Kron 21:7 word egter hierdie belangrike besluit van Yahweh gedokumenteer: “Maar die HERE wou die huis van Dawid nie vernietig nie ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gesluit het, en volgens sy belofte om vir hom en sy seuns altyd ‘n lamp (of ligStrongs)  te gee.” Hierdie huis, lees ons in Jes 22:22, het ‘n sleutel, en die persoon wat die sleutel het, dra groot outoriteit. In Luk 1:27 lees ons dan dat Josef, die verloofde van Marisa, byvoorbeeld uit “die huis van Dawid” is. Daar word, sê vers 69, in dié huis van Dawid ‘n “horing van heil” opgerig – sy naam is Jesus – dit is duidelik uit die profesie van Sagaria in die voorafgaande vers: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het …”

As Petrus in Hand 15 aan die Jode verduidelik dat God van die begin af beplan het om die heidene deel van sy verbondsvolk te maak, haal hy die belofte in Amos aan en verduidelik hy in vers 16 dat dit gestalte gekry het in die totstandkoming van die Koninkryk van die hemele: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herste l…” Hierdie is die koninkryk waarvan Dan 6:26 geprofeteer het: “sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe”. In Dan 7:14 word dit nog sterker omskryf: “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” Maar in Dan 7:18 word hierdie groot ongelooflike woorde gevind: “en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.”

Terug by die hoofteks wat ons tans ondersoek: “and the house of David shall be as God, as the angel of Jehovah before them”. Nou is dit makliker om te verstaan dat drie ander vertalings dit soos volg stel:

  • “and the family of David will be as God, as the angel of the Lord before them” (BBE);
  • “and David’s kingdom will rule as though my very own angel were its leader” (CEV); en:
  • “the lowliest, weakest person will be as glorious as David and the family of David itself will be godlike, like the Angel of GOD leading the people” (MSG).

Elkeen in die Koninkryk van God word uit die hemele beklee met die volle omvang van die gesag van God, en Jesus gaan hul vooruit. En inderdaad: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” (Open 11:15). Die huis van Dawid word weliswaar “’n hemelse wese”!

 

  • Sela: Wat beteken “godlike” vir jou (lees saam met 2 Pet 1:4)
  • LeesPs 142-147
  • Ondersoek die vervulling:  Hoe wonderbaarlik illustreer Ps 147 nie hierdie lering nie!
  • Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd-lering: “Die opbou van die Geliefde deur lewende stene.”