“Want ons burgerskap is in die hemele …” (Fil 3:20, OAV)
As jy die eerste opstanding meegemaak het (sien vorige Manna), word jy dus met die hemele oorklee terwyl jy op aarde is. Hierdie waarheid is die slotsom van ons ekstensiewe studie oor die hemele. Ons het al die Skrifte gefynkam wat die woorde hemel/hemele/hemelse bevat, en dit getoets aan die begronding wat aangebied is, en dit was alles heerlik ooreenstemmend bevestigend. Die volgende handvol Skrifte is die enigstes wat dalk ‘n vraagteken van een of ander aard kan uitlok, en derhalwe behandel ons ‘n kortbegrip van elkeen ter afsluiting:
* Gen 2:1 – “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” ‘Voltooidheid’ veronderstel begrensing, sou mense kon redeneer, en derhalwe kan hierdie Skrif beteken dat die hemele “begrens” is, wat dan op ruimtelikheid kan dui. Hoe, sou hul tereg kon vra, kan ‘n staat van regering “voltooi” word? Die feit dat die aarde ‘n konkrete plek is en as ‘n paar saam met die hemel aangebied word (soos dikwels in die Bybel), laat die idee ontstaan dat die hemel nes die aarde ‘n konkrete, begrensde entiteit is. Die woordjie “voltooi” sou beter uit die Hebreeus vertaal kon word met die woordjie “accomplished”. In Dan 12:7 (KJV), byvoorbeeld, word albei die woorde gebruik in die vertaling van dieselfde basiswoord: “and when he shall have accomplished to scatter the power of the holy people, all these things shall be finished”. Omdat die hemele per definisie ‘n staat van heerskappy is, kan die einde of voltooiing daarvan nie enigsins ‘n ruimtelike begrensing impliseer nie (sien ook Jes 9:7.).
* Deut 4:26 (en elders): “dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle”. Hierdie is ‘n uitdrukking of spreekwoord wat impliseer dat die ganse kosmos en alle mense as getuie in die saak geroep word. Dit is “a most solemn method of adjuration”, in die raak beskrywing van Albert Barnes.
* Deut 32:1 – “Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond.” Weer eens is hierdie personifikasie van die hemele, as sou dit kan “luister” (by wyse van digterlike spreke). Onthou, dit is deel van die Lied van Moses, ‘n gedig, en daarin word deurgaans digterlike procédes gebruik.
* Job 15:15 – “Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie …” Hierdie is ‘n vers wat die gemitologiseerde hemel as plek al te duidelik wil ondergrawe. Dis weer eens ‘n literêre stelwyse wat sê: Alles wat met God vergelyk word, is onrein, selfs dan “hemel”.
* Jes 14:12-13 – “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! … En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God …” Tradisioneel word hierdie Skrifgedeelte met Satan verbind, maar dit is nie nou ter sake nie. Mense redeneer dat “uit die hemel val” impliseer dat hy uit ‘n “plek” geval het. As daar in 2 Sam 1:19 smalend gesê word: “Hoe het die helde geval!”, het niemand geval nie – dis ‘n uitdrukking. Vergelyk eweneens 1 Kor 10:12: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” wat van toepassing is op mense wat nooit letterlik geval het nie. Die HAT verklaar dit as “die neerkom uit ‘n hoë staat”.
* Jes 34:4 – “en die hemel word inmekaar gerol soos ‘n boek”. Hierdie is een van verskeie Skrifte wat moontlik kan dui op die sogenaamde vernietiging van die hemel en die aarde aan die einde van tye. (Sien ook byvoorbeeld Ps 102:25-26, Mat 24:35, 2 Pet 3:7-12, Open 6:13-14 en 20:11.) Ons gaan nie nou fokus op die eindtydimplikasies van hierdie Skrifte nie, maar wil uitwys dat dit baie belangrik is dat die totale Skrif in geheel gelees moet word. Daaruit is dit duidelik dat die hemel en die aarde nie vernietig gaan word nie. Skrifte soos Open 1:6 en 5:10, Ps 119:89 en 2 Kor 5:1 wys dat die aarde ook nie gaan verbrand met vuur met die wederkoms nie. Hierdie Skrif hang ook ten nouste saam met die Skrifte, soos byvoorbeeld Jes 65:17, wat moontlik heenwys daarna dat die hemele eendag vernietig sal word en “nuwe hemele en ‘n nuwe aarde” geskep sal word. (Sien ook 2 Pet 3:7, 10-13 en Open 6:14; 21:1-5). ‘n Uitleg hiervan vereis ‘n totale uiteensetting van ‘n eskatologie (eindtydleer), waarby ons later in detail sal uitkom, want dit is nie deel van die tema waarmee ons tans besig is nie. (Miskien kan ons net verklap dat 2 Pet 3:7 en Mat 5:18 die sleutel inhou vir hierdie ingewikkelde saak.)
* Efes 3:10 – “sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word …” Daar is diep dog wankelrige teologieë (Open 2:24) gebou op hierdie Skrif en demoniese werking is geplaas in ‘n spesifieke vlak van die hemele (dikwels die sogenaamde “tweede hemel”, waarvoor daar geen Skriftuurlik verwysingsbasis is nie). Wat hierdie vers uitspel, is dat die geestelike of demoniese magte in die lug is, soos Efes 6:12 dan ook uitspel: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Die Amplified verklaar dit insgelyks as “the heavenly (supernatural) sphere”, die CEV as “the spiritual world”. Nader aan die regte vertaling van die oorspronklike, is die DRB wat dit bloot noem “high places”, alhoewel “places” totaal ontbreek in die oorspronklike. Die demoniese realm funksioneer bloot uit ‘n posisie van outoriteit, wat hier BO genoem word – ons het reeds vroeër uitvoerig gekyk na die simboliese betekenis van “bo” in die Skrif. Hierby word ingesluit al die menigvuldige verwysings in die Bybel wat verwys na hoe mense wat bid na “bo” kyk, of hul hande na “bo” lig. Dis alles ‘n simboliese erkenning van hoër outoriteit, en NIE ‘n aanduiding van ruimtelike situering nie.
* Open 12:7-8 – “En daar het oorlog in die hemel gekom Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. …” Hierdie teks is kernverse om die historiese datering van die boek Openbaring te verifieer. As dié apokaliptiese boek gelees word as net ‘n heenwysing na die toekoms en die eindtyd (m.a.w. dat hierdie episode nog in die toekoms moet plaasvind), is hierdie verse seer sekerlik besonder problematies, want Satan is duidelik lank gelede uit die hemele gewerp (Luk 10:18; Jes 14:12). Dus, waarna verwys Open 12? Adam Clarke, in sy bekende kommentaar, sê byvoorbeeld onomwonde (met instemming en die aanhaal van ander toonaangewende Bybelkommentators) dat dit verwys na “the true Church of Christ”. Maar dan is die uitwerp van die Satan uit die hemele anachronisties. John Darby interpreteer dit weer as Israel, terwyl John Gill dié vreemde interpretasie maak: “(it) represents the church in the apostles’ times”. Indien daar in die res van Open 12 se simboliek gedelf word, is die kommentare eweneens verwarrend en simbolies inkongruent, of dit nou die Rooms-Katolieke interpretasie is dat die Vrou vir Moeder Maria voorstel, die Gereformeerdes (soos Attie Barnard in Fokus op meer as 100 vrae oor die eindtyd) wat meen die Vrou dui op die “ware Israel” of die Charismate (soos Hal Lindsey in sy There’s a new world coming) wat dit lees as Israel in die tyd van die groot verdrukking. Al hierdie interpretasies laat meer vrae as antwoorde. Belangrik vir nou is om te sê dat die probleem lê nie soseer by die interpretasie van Open 12 as by die historiese plasing van die boek Openbaring in die Bybel nie. En, daarmee saam – wat was die bedoeling met die boek Openbaring, ‘n saak wat weer eens nie inpas in ons huidige tema oor die hemel nie? (Die sleutel tot hierdie vraag lê in Open 1:1.)
Hierdie is die mees problematiese verse in die Bybel wat iets meer verklap van die hemel en wat ons moes integreer binne ons aanbieding van wat ons verstaan die Bybel oor die hemel sê.
- Sela: Wat beteken die begrip “anachronisties”? Raadpleeg die HAT.
- Lees: Spr 1-6
- Ondersoek die vervulling: Spr 6:23 (Wenk: Heb 12:8)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Lering as “measuring the pattern”..