Dag 613

 

“Emmánuel  – God met ons.” (Mat 1:23, OAV)

 

Uit die ganse ekskursie tot nou toe is dit absoluut duidelik dat ons oorgelewerde denke oor die hemel nie korrespondeer met wat die Woord daaroor sê nie. In die vaarwaters van boeke soos Bunyan se Die Pelgrim se Reis na die Ewigheid en Danté se Die Goddelike Komedie is daar ‘n denkklimaat oor die hemel geskep as ‘n plek en dat dit die eindbestemming van die gelowige mens is. Die hemel as ruimte is gemetaforiseer as ‘n konkrete ruimte van heerlike afmetinge en genietinge daarbo, en is deur die loop van eeue soos ‘n simboliese werklikheid ingekleur deur mense met nabydoodervarings of hemelse visioene.

In die studie het ons bevind dat die hemel twee definisies het in die Skrif, enersyds vir die sigbare uitspansel wat nie-aarde is, en andersyds vir die onsienlike staat wat God se heerskappy en outoriteit aandui. Daar is deeglik uitgewys die hemel is nie vir die mensekinders nie, en dat die “patroon” of “huis” in die hemel deurgaans na die mens en die aarde neerdaal, soos wat God se outoriteit en heerskappy gestalte op aarde vind. Die koms van die koninkryk van die hemele is die grondslag van al die Evangelies, en hoe dit translate en deel word van die koms van God se outoriteit op aarde, kry in die res van die Nuwe Testament deeglik beslag.

Ons leer dat die koninkryk van die hemele nou IN ons is, en dat soos die Bruid van Christus alle dinge met God versoen, word al die koninkryke van hierdie wêreld nou deel gemaak van die Koninkryk van God. Die einddoel van alles is die totale vereniging van alles onder God se heerskappy. Hierin speel die Bruid van Christus, onder Jesus se  Hoofskap, ‘n prominente rol. Almal met ‘n “hemelse roeping” (Heb 3:1), wat die “die hemelse gawe gesmaak” (Heb 6:4) het en gesetel is in Christus in die hemele (Efes 2:6), wat met ál “die geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efes 1:3) toegerus is, met ‘n “burgerskap in die hemele” (Fil 3:20), is duidelik deel van ‘n onsigbare realm wat ons gemaklik hemel kan noem, want dit is die staat van God se heerskappy.

In Joh 17:15-16 & 22 bid Jesus gevolglik net voor sy sterwe en opstanding vir almal wat in Hom sal glo (Joh 17:2) die volgende: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie … Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.”

Hemel is waar Hy is, en ons IN Hom en by Hom, nou reeds. As Paulus in 2 Kor 12:2-4 vertel hoe hy (?) opgeruk is na die derde hemel, (en later sal ons volgens die patroon van die Skrif leer) dit is die inruk in die Hooglied (die hoogste van die Hoogste liedere), ‘n posisie wat jy NET “in Christus” kan verkry, dan hoor hy daar “onuitspreeklike woorde”. Laasgenoemde, ook ‘n tema waarby ons later in detail gaan uitkom, is die rhema-woorde wat die Logos gestalte gee, die woorde in God se gedig wat elkeen saam die Christus vermeerder. Hierdie geheimenis is die kiemsel van die Laaste Reformasie.

Marthinus Versfeld spreek die laaste woord vir nou (in Tyd en dae): “As die hemel onsigbaar is, is dit omdat dit te naby is om gesien te word, en as dit onbeskryflik is, is dit omdat dit te konkreet is.” Hemel is niks anders nie as Emmánuel  – God met ons. Sela.

 

  • Sela: Verduidelik die laaste paragraaf aan iemand.
  • LeesSpr 7-9
  • Ondersoek die vervulling:  Lees Spr 8 aan die hand van 1 Kor 1:24.
  • Delf dieper:  Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Jona – om te besef wie jy in Christus is.