Dag 614

 

“Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld …”  (Mat 1:23, OAV)

Die oorkoepelende tema waarmee ons tans besig is, handel oor die misterie van godsaligheid (1 Tim 3:16) en het ons uitgekom by die bloed van Jesus en die implikasies daarvan, waar onder ons toe begin gesprek voer het oor die feit dat die bloed alle skeiding (tussen Jood/Griek, man/vrou, byvoorbeeld) tot niet maak. In daardie subreeks is ons besig met die feit dat daar nie meer slaaf/vryman (as deel van Gal 3:28 se digotomieë) is nie. Ons het in verskeie Mannas die mens se geneigdheid tot slawerny ondersoek Alhoewel die Skrifgedeelte dit duidelik inspeel op die sisteem van fisiese slawerny wat in die tyd van die Nuwe Testament ‘n alledaagse werklikheid is (en vandag net in meer, en minder, gesofistikeerde wyses steeds voorkom), wys dit ook heen na die slawerny wat die meeste mense, ook gelowiges, gevange hou en verhoed om in hul regmatige plek in Christus te kom. Ons het gewys op die meesterlike strategie van Satan om die meeste gelowiges te verkneg. Sodoende word hul hart, passie, lewe en skeppingsdoel geroof.

Ons het na die drie groot faktore gekyk wat die mens in slawerny laat verval: Vrees, Duiwel en Dood. Ons het toe stilgestaan by die wesensaard van vreesagtigheid en daarmee gedeel en toe begin met die tema oor die Duiwel in Manna 473.

Ons het ook uitvoerig gewys dat Satan hoofsaaklik net sy mond kan gebruik om die oorwinning van Jesus op die kruis en die feit dat hy daar totaal verslaan is, te verbloem. Maar hierdie “brul” van die demoniese leeu is bloot om jou bang te maak en te mislei. Satan se primêre sfeer van invloed en die belangrikste wyse waarop hy gelowiges skade berokken, het ons gesê, is dat hy hulle met vals lering en gekontamineerde Woordbediening verswelg. Daar word eksplisiet in Open 12:15 gesê dat gelowiges afvallig geword het deur die vals lering wat agter hulle aangespoeg is. Die Skrif in 1 Tim 4:1 sê dat die vals lering geleer word deur “verleidende geeste”. Maar hulle is nie by magte om self te leer nie, nee. Hulle leer deur pastore en dominees en professore en predikers en geestelike werkers en gewone gelowiges wat verlei is tot hul hierdie dwaalleringe.

As voorbeeld daarvan het ons gaan kyk na die Gereformeerde leer se sentraalstelling van die uitverkiesing, die Nuwe Hervorming se hantering van die Bybel en die Pinkster- en Charismatiese beweging se mitologisering oor die hemel.

In die volgende lang reeks van die Manna gaan ons in detail kyk na hoe Satan in mense gestalte kry, dikwels sonder dat hulle daarvan bewus is. Ons uitgangspunt vir hierdie reeks is die belangrike woorde van Jesus in Joh 12:31-32 – “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” In die volgende Manna meer hieroor.

 

 

  • Sela: Wat beteken hierdie Skrifgedeelte in Joh 12:31 vir jou persoonlik?
  • LeesSpr 10-12
  • Ondersoek die vervulling:  Lees Spr 10:24 aan die hand van 1 Joh 5:14-15.
  • Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Dit is volbring!