Dag 626-628

 

Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het … ”  (Heb 5:8, OAV)

Ons is tans besig om verskillende geheimenisse van die brandofferaltaar na te speur, en het tot nou toe spesifiek gefokus op die tipologiese betekenis van die akasiahout waarvan dit gemaak is. In die vorige Mannas is voorts ook die simboliese betekenis van die vierkant in oënskou geneem. Die brandofferaltaar as konstruksie van genade op genade (5 x 5) word die slagveld waarop die saad van die slang vir altyd en ewig vernietig kan word, iets wat veral aangedui word deur die lengte- en breedtespesifikasie van vyf el.

Die vyf wonde, of stigmata, van Jesus (in sy voete, hande en sy) word die perfekte teenvoeter en antidoot van die fatale wonde wat Satan die mensdom in die paradys en daarna, toegedien het. Hierdie eiesinnigheid van Môrestêr, die ongevalle Lucifer (Jes 14:12), word ten beste geïllustreer deur die vyfvoudige “ek wil” van Jes 14:13-14, wat staan teenoor die vyfvoudige bloedoffer wat Jesus moes bied:

 

  • Ek wil opklim in die hemel …
  • (Ek wil) my troon verhef bo die sterre van God …
  • (Ek wil) sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.
  • Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke …
  • (Ek wil) my gelykstel met die Allerhoogste!

 

In 1 Sam 15:23 (KJV) word dit uitgespel: “For rebellion is as the sin of witchcraft, and stubborn-ness is as iniquity and idolatry.” As ‘t ware word die vyf “ek wil”-le uitgekanselleer deur die vyf gespesifiseerde wonde van Jesus (voete, hande, sy). Onthou dat die kruisdood van Jesus ten diepste vir Hom ‘n stryd was oor sy wil teenoor die wil van God. In die tuin van Getsémané het Hy Hom in doodsbenoudheid afgesonder en neergekniel en gebid en gesê: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!”

Hierdie besluit om sy wil aan die wil van God onderdanig te maak, is die grondslag waaraan Jesus se gehoorsaamheid gemeet is. In Heb 10:6-10 word dit so raak gestel: “Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom— in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God. Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”

Uit hierdie gedeelte moet ons ‘n paar belangrike gevolgtrekkinge maak:

  • Géén offers wat die mens kan bring om met God versoen te word, is vir God aanvaarbaar nie.
  • Jesus is die enigste offer waarmee God tevrede sou wees. Daarom sê Heb 10:14 – “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.”
  • Daar word eksplisiet gesê: “in die boekrol is dit van My geskrywe …” Hierdie boekrol is die profetiese heenwysing van Ps 40:7 waarin dit anders gestel: “in die boekrol is dit my voorgeskrywe”. Let wel op die ander woordgebruik – In die Nuwe Verbond word dit gesê – “is dit van my geskrywe”. In die Ou Verbondse profesie word daar gesê: “is dit my voorgeskrywe”! As Jesus “voorgeskrywe is” (in Hebreeus: “to prescrive or subscribe”) het Hy geen keuse gehad nie, was Hy bloot ‘n robot en het die kernbeginsel van radikale liefde: keuse, in die slag gebly. Maar Hy het gekies dat God se wil sý wil sal word. Dwarsdeur die evangelies spel Hy dit eksplisiet uit:
    • “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh 4:34)
    • “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” (Joh 5:30)
    • “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” (Joh 6:38)
    • Daarom, as Hy aan die kruis sterf, is dit ‘n daad van gehoorsaamheid: “Hy (het) Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil 2:8), maar dit was onteenseglik ook sy keuse, soos sy woorde aan die kruis dan ook getuig: “Dit is volbring!” (Joh 19:30).
    • “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.” (Rom 5:19). Ons, wat by die kruis uitgekom het, moet daar by die brandofferaltaar – soos Jesus – gely word om gehoorsaamheid te leer (Heb 5:8).
  • Gehoorsaamheid neem dus die eerste tabernakel (die Buitehof) weg om die tweede tabernakel (die Heilige en die Allerheiligste) daar te stel. Alvorens ons in die tweede dimensie uitkom by die tafel van toonbrode, wat die wil van God simboliseer, moet ons reeds in die eerste dimensie begin submit aan die wil van God. Die meeste mense wat nie deurbeweeg na die tweede dimensie nie, bly in gebreke as gevolg van gehoorsaamheid. Dit is gehoorsaamheid wat jou byvoorbeeld, die stap laat neem om jou te laat doop met water. Daarom sê Hand 5:32 eksplisiet: “En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is …” Ons lees byvoorbeeld van die priesters (van die Ou Verbond) wat in die tyd van Handelinge tot geloof in Jesus gekom het, en dan skryf Lukas in Hand 6:7 dat ‘n groot menigte van priesters het “gehoorsaam geword aan die geloof”.
  • Een van die drie hooffunksies van die gees van Elia, sê Luk 1:17, is om die ongehoorsames te bring tot die gesindheid van die regverdiges. Hierdie proses word in en om die brandofferaltaar mee gedeel, want die geredde mens is, ten spyte van sy redding, steeds ‘n wilde esel wat eiesinnig rondhardloop (Hos 8:9), en in die proses “onwettige bondgenootskappe” gewerf. Die Engels noem dit – “he has hired lovers”, met ander woorde die geredde persoon prostitueer/vermeng steeds met die wêreld en die vlees, in eiesinnige begeerte van “Ek wil …” Dit is die natuur van die Satan, ook die natuur van Ishmael, wat in ons woeker: “En hy sal ‘n wilde-esel van ‘n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.” Dit is steeds “die gees van die wêreld” (1 Kor 2:12) wat so werksaam is.
  • Al het ons uitgekom by die kruis van Jesus, is daar ‘n doelbewuste proses waartoe ons moet gaan om gehoorsaam te word aan die evangelie (Rom 10:17). Dit impliseer amper altyd lyding, want dit is die enigste proses wat ons saligheid bewerk – Jesus word in hierdie proses die bewerker van ons saligheid. Heb 5:9 spel dit mooi uit:”en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword …”
  • Hierdie gehoorsaamheid is nie die gehoorsaamheid aan wette nie, nee. Dwarsdeur die Skrif, selfs in die Ou Testament, word die klem gelê op gehoorsaamheid aan die stem van die Here. Die Skrif wat 1 Sam 15:23 hierbo voorafgaan, knoop spesifiek eiesinnigheid aan die gebrek aan gehoorsaamheid aan die stem van die Here. Vers 22 lui soos volg: “Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” Deut 28:2, byvoorbeeld, spel eksplisiet uit dat die seëninge van die Here direk gekoppel is aan die gehoorsaamheid aan sy stem: “En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.” Maar dan ook, is die vloeke gekoppel aan ongehoorsaamheid aan die stem van die Here: “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.” (vers 15).
  • In Rom 6:16-17 toon Paulus die skakel tussen gehoorsaamheid en wie jy in werklikheid dien, onteenseglik duidelik aan: “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is …”
  • Hierdie gehoorsaamheid aan die stem van God sal resulteer in ander fasette van ons Christelike wandel in gehoorsaamheid in die allerdaagse realiteit, wat ‘n mens kortweg Christelike etiek kon noem. In ons permissiewe samelewing is waardes en oortuigings, maar helaas ook gewoontes en dissipline, selfs in die Christelike sfeer, nie gewilde onderwerpe nie. Tog onderskryf dit duidelik gehoorsaamheid aan God. Die woordjie etiek in Grieks beteken “habit or custom”. William Barclay, in sy boek oor Bybelse etiek, spel dit raak uit: “ethics is conformity of human activity to the will of God”.
  • Derhalwe moet ons weet wat is God se wil, wat sou beteken dat ons “die kennis van God” moet besit, en soos Paulus dit dan noem in 2 Kor 10:5, daardéúr “elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus”. Sela.
  • Noodwendig sal dit lei tot ‘n bepaalde lewenswyse van gehoorsaamheid, nie net aan Goddelike verwagting nie, maar ook aan menslike verordering. Efes 6:5 gee die toon aan hiervan: “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus …”, “in alles  gehoorsaam …, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees” (Kol 3:22).

 

Die brandofferaltaar, ofte wel die kruis van Jesus, is die Godgegewe omsettingsaltaar waar ongehoorsaamheid tot regverdigheid getransformeer word. As ons moet inbeweeg in die koninkryk van Dan 7:27, waar al die heerskappye aan ons gehoorsaam sal wees, moet ons híér leer om gehoorsaam te word.

 

  • Sela:  Bid oor 2 Kor 10:6
  • LeesPred 12; Hoogl  1-8
  • Ondersoek die vervulling:  Lees Pred 8:13 (Wenk: Lees en interpreteer in die lig van dié lering).
  • Delf dieper:  Lees William Barclay se Ethics in a Permissive Society.