Dag 629-631

 

“Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.”  (Rom 2:11, OAV)

Daar lê dieper geheimenisse in die tipologie van die brandofferaltaar, en ons het in die vorige Mannas daarop ingegaan. Die brandofferaltaar, ofte wel die kruis van Jesus, het ons geleer, is die Godgegewe omsettingsaltaar waar ongehoorsaamheid tot regverdigheid getransformeer word.

Ons het reeds ook lering aangebied oor die simboliese betekenis van die vierkantaard van die brandofferaltaar. In ‘n ander lig beskou is die vierkant ook die geometriese vorm van gelykstelling en gelykmaking. Omdat al die sye van die vierkant van gelyke lengte is, ver-beeld dit ook “equality and completeness” – daar is geen verskil tussen die sye nie.

Die analogie is duidelik – by God is daar nie ‘n aanneming van die persoon nie, soos Rom 2:11 dit stel, met ander woorde: uit die oogpunt van God, hanteer Hy mense nie verskillend nie. Maar hierdie begrip is dikwels troebel vir die meeste mense, en noodsaak dat ons dit vir ‘n wyle van naderby beskou.

Om hierdie begrip van Rom 2:11 na behore te begryp, is dit belangrik om terug te gaan na Rom 1, en te sien dat Paulus ‘n bepaalde argument voer oor drie tiperinge van evangelie:

 

  • die evangelie van God (Rom 1:1)
  • die evangelie van sy Seun (Rom 1:9); en
  • die evangelie van Christus (Rom 1:16).

 

Uit die Manna tot dusver het ons van meet af aan klem gelê op die ontvouiing van die drieledigheidsbeginsel in die Skrif (gaan lees weer die Manna van Dag 1, byvoorbeeld). Die strukturering ten grondslag van die Manna het dan ook vanaf Dag 62-63 die drieledigheids-beginsel van die tabernakel gevolg. Hierdie drieledigheid is gebaseer op Spr 22:20-21: “Het ek jou nie kernagtige spreuke voorgeskrywe met raadgewinge en kennis, om jou bekend te maak waarheid … nie?” In die meeste Engelse Bybelvertalings word die eerste deel van die vers nie as “kernagtige spreuke” vertaal nie, maar as “excellent things”. Ander vertalings noem dit, interessant genoeg, “thirty sayings”, of dan ook: “three manner of ways” (DRB). The Message noem dit “thirty sterling principles – tested guidelines to live by”. Die woordjie “kernagtig” in die oorspronklike Hebreeus kan ‘n paar betekenisse hê. Dit kan 3 of 30 (of die vermenigvuldige veelvoude 300 of 3000) beteken, of “uitstekend”, selfs “prins of generaal van die derde rang” (dit is die een met die hoogste outoriteit). Met die verloop van die Manna het ons uigevind dit dui veral ook op die onderwegwees na die tipologiese derde dimensie van ons “allerheiligste geloof” (Jud 1:20).

Die drieledige manifestasie van die evangelie hierbo gespesifiseer, hang dan ook mooi saam met die drie dimensies en wat elkeen ontvou:

 

  • Die evangelie van God is wat ons in die eerste dimensie leer ken. Omdat God nog vir die ongeredde mens op hierdie stadium “’n onbekende god” is wat hulle hoogstens vereer sonder dat hul Hom ken (Hand 17:23), is dit noodsaaklik dat die evangelie van God allereers aan dié mense gebring moet word. Uiteraard is dit ‘n evangelistiese aanbod wat aan heidene gebied word (Rom 15:16) – selfs al is hulle in die kerk, maar nie gered nie. Hierdie evangelistiese verkondiging van wie die enigste ware God is, en bepaald dat Hy net kenbaar is deur sy Seun, vorm die kern van die evangelie van God. 1 Joh 5:20 stel dit raak: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.” Maar dit bly die “evangelie van God”. Rom 16:25 (Ampl) noem dit mooi “the mystery of the plan of redemption”. Eweneens word dit mooi verduidelik in 1 Cor 1:30 (Ampl), waar Paulus oor hierdie evangelie sê dit “reveale to us a knowledge of the divine plan of salvation previously hidden”. Uiteraard is Jesus die troefkaart van die evangelie van God. Jesus is die geheimenis weggesluit in die evangelie van God – “ Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Dit bring ons dan by die tweede ontvouiing.
  • Die evangelie van Jesus is wat ons in die tweede dimensie leer ken. Mark 1:1 begin sy boek deur te sê: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.” As Filippus in Hand 8 die evangelie aan die hofdienaar van Ethiópië bedien, doen hy dit aan die hand van die Ou-Testamentiese boekrolle wat dié soekende heiden lees en nie verstaan nie. Vers 35 sê: “En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.” Die evangelie van Jesus in die Ou Testament?! Filippus leer dus die hofdienaar om die Ou Verbond tipologies te lees! Dis interessant dat die Grieke by die Areópagus oor Paulus wonder: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.” Hierdie evangelie maak dit duidelik in watter mate Jesus anders is as al die ander gode. Die evangelie van Jesus, of dan: die evangelie van sy Seun (soos dit in Rom 1:9 genoem word), kan nét verstaan word deur die Heilige Gees – “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer” (Joh 14:26). Die tweede dimensie, weet ons reeds, is die dimensie waarin die openbaring van die Gees sentraal staan. Lees hoe mooi kry dit beslag in die belangrike gedeelte uit 1 Kor 2:10-12: “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God … Niemand (weet) wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het … die Gees wat uit God is (ontvang), sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.” Ons leer ken dus Jesus, die Seun, en sy evangelie eers regtig in die tweede dimensie, want in die eerste dimensie kan ons kwalik dinge geestelik beoordeel (1 Kor 2:14). Dit bring ons by die derde ontvouiing.
  • Die evangelie van Christus word op tien plekke eksplisiet só in die Nuwe Testament genoem. Onthou deurgaans – ons onderskei, maar skei nie die begrippe “Jesus” en “Christus” nie. Die evangelie van Jesus gaan oor die Seun van God as die Verlosser, terwyl die evangelie van Christus gaan oor die “Anointed”: Jesus die Gesalfde Hoof én sy Gesalfde Liggaam, die Bruid van Christus. Ons het nog nie hierby uitgekom in die Manna nie – die ontvouiing van hierdie heerlike waarheid lê nog voor! Maar dis nodig op hierdie stadium om wel dit te noem, sodat ons ten minste die groter Argiteksplan kan raaksien, al bewoon ons nog nie daardie waarheid nie – die gestaltegewing van Christus in ons (die hoop van heerlikheid – Kol 1:27). Dit is wat ons in die derde dimensie van die geloof ontdek.

 

Binne hierdie kensketsing van die drie evangelies in die drie dimensies, is dit dan nou makliker om uit te wys hoe God nie ‘n aannemer is van die persoon nie, die kernaspek wat ons reeds in die brandofferaltaar as ‘n riglyn van Goddelike regverdigheid leer ken. Kom ons bekyk in diepte dit in elke dimensie en gepaardgaande evangelie:

 

  • Dit is ‘n welbekende feit dat God sy reddeingsplan aan die nasie Israel toevertrou het. Van al die volke op die aarde het Hy Israel Deut 7:6-7 spel dit uit: “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.” Dit lyk op die oog af na bevoorregting, maar, soos ons uit vorige Mannas geleer het, Israel se uitverkiesing was primêr om die koninkryk van God te laat kom. Met ander woorde: Israel as uitverkore nasie was die instrument om al die ander goddelose volke terug te bring tot verhouding met God. Dít was immers ‘n belangrike deel van die belofte wat God aan Abraham gemaak het: dat al die nasies van die wêreld in hom geseën sal word (Gen 18:18; 22:18; 26:4). In die Talmoed word dit soos volg gestel: “The Jewish people went into exile only in order to make converts, meaning to teach the nations faith in the One God.” (Babylonian Talmud, Pesachim 87b.) Die evangelie van God word in hierdie sin uitgespel deur Petrus in Hand 15:9 waar hy die Jode aanspreek: “En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie …” In Rom 10:12 stel Paulus dit ook onomwonde: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.”
  • Joh 3:16 spel uit dat God “die hele wêreld” liefgehad het en derhalwe sy Seun gestuur het. Die evangelie van die Seun bewys ook geen bevoorregting in terme van uitverkiesing nie. Tit 2:11 (Ampl) – “For the grace of God (His unmerited favor and blessing) has come forward (appeared) for the deliverance from sin and the eternal salvation for all mankind.” Die Message parafraseer dit eietyds só: “God’s readiness to give and forgive is now public. Salvation’s available for everyone!” Eenvoudiger as Rom 3:22 kan dit nie – “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie …”
  • Uitverkiesing is streng gesproke bloot van toepassing op die evangelie van Christus. Dit wat Hy aan sy dissipels gesê het in Joh 15:16 is eweneens (volgens Joh 17:20-21) óók op die wyer Bruid van Christus van toepassing: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel …” Baie is geroep, maar min is uitverkies (Mat 22:14). Ook hierdie uitverkiesing het nié ons keuse overrule nie – selfs een van die uitverkorenes was ‘n duiwel (Joh 6:70)! Uitverkorenheid tot Christus vra allereers ‘n keuse om te sterf in die self en die hoë roeping in Christus op te neem (Fil 3:14). Dan is jy ook uitverkore volgens die “voorkennis” (1 Pet 1:2) van God.

 

God is nie ‘n aannemer van die persoon of volk of wat ook al nie – die gelyksydige vierkantige brandofferaltaar illustreer ook hierdie heerlike waarheid.

 

  • Sela:  Probeer aan iemand die konsepte van uitverkorendheid verduidelik.
  • LeesJes 1-9
  • Ondersoek die vervulling:  Jes 1:1 (Wenk: 2 Kor 12:1; Joël 2:28-29; Hand 2:16-18).
  • Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se lcd-ering: Die Uitverkiesing: Jou woord verhul in Sy Woord