Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe …” (Rom 15:4, OAV)
Die dieper geheimenisse in die tipologie van die brandofferaltaar, of dan tipologies gesproke, die kruis van Jesus, is tans ons onderwerp ter tafel. In die vorige Mannas het ons stilgestaan by ‘n tipologiese interpretasie en verklaring van die brandofferaltaaar wat as vierkantig gespesifiseer is, en dat dit onder andere ook veral dui op gelykstelling en gelykmaking. Omdat al die sye van die vierkant van gelyke lengte is, ver-beeld dit ook “equality and completeness” – daar is geen verskil tussen die sye nie. Die analogie van die gelyksydige vierkantige brandofferaltaar is duidelik in elkeen van die drie dimensies – by God is daar nie ‘n aanneming van die persoon nie, soos Rom 2:11 dit stel, met ander woorde: uit die oogpunt van God, hanteer Hy mense nie verskillend nie.
Ons moet egter nie miskyk dat die brandofferaltaar spesifiek vier-kantig was nie. Dwarsdeur die Skrif is daar geen toevalligheid rondom getalle nie – God is nie net ‘n Digter nie (soos die Chileense digter Pablo Neruda gesê het nie) – Hy is ook ‘n Wiskundige. Anders as wat die evolusioniste glo (ja, evolusie is ‘n geloof en nie ‘n wetenskap nie), is daar nie toeval nie, maar presisieontwerp ten grondslag van die werking van die ganse skepping. In die wiskunde noem ons dit matematiese konsistensie, dit wil sê dat daar ‘n standhoudende en presiese herhaling van eksakte wiskundige proporsies en verhoudinge is, selfs in die opwindende kwantumfisika-ontdekkings wat iemand soos Heisenberg gemaak het en wat dui op selfs die konsistensie van onsekerheidsbeginsels!
Die ontwerp ten grondslag van God se skepping word matematies gerig – die presisie van bepaalde chemiese elemente maak lewe moontlik; die presisie van die verskeie ingewikkelde formules en wiskundige beginsels laat planete in presiese wentelbane beweeg; die presiese balans van wiskundige fisiologiese prosesse maak dit moontlik dat ek kan asemhaal en dink en wetenskap beoefen. Alles word deur die wiskunde gerig – dit is as ‘t ware die presisieduimdruk van God op sy skepping.
Maar helaas – al is ons empiries presies, ons bly matematies dom. Ons is egter dikwels nie by magte om “the Fire in the Equations” raak te sien nie (dit is ‘n titel van ‘n boek van Kitty Ferguson).
God se volmaaktheid word in sy skepping geïllustreer deur die perfeksie van alles wat daaraan beslag moet gee, sê Ps 18:30. Dit verklaar dat Hy nie net hare tel nie (Mat 10:30), maar ook sterre (Ps 147:4)! Isa 40:26a (Ampl) sê dit raak: “Lift up your eyes on high and see! Who has created these? He Who brings out their host by number and calls them all by name …” Wat derhalwe tevore in presiese getalle in die Bybel uitgespel is, is ons tot lering opgeskryf. As daar ontwerp in is, moet daar betekenis (“significance”) aan geheg word.
- Sela: Probeer vir jouself uitmaak wat die getal vier simbolies sou kon beteken.
- Lees: Jes 10-12
- Ondersoek die vervulling: Jes 10:2 (Wenk: Open 4:5).
- Delf dieper: Lees E.W. Bullinger se Number in Scripture.