want Hy het koperdeure verbreek” (Ps 107:16, OAV)
Die vorige Manna het ons afgesluit deur op te merk dat as daar ontwerp in die skepping en in die Bybel (die verslagdoening van hierdie skepping en herskepping) is, moet daar betekenis (“significance”) aan geheg word. Ongelukkig waag Christene dit nie op hierdie heerlike veld nie, en bly hulle net vassteek by die een-eenduidige simbolisering van getalle, soos 7, 12, 24, 144, 666, 1000, en so meer. Soms kry die vreemder Bybelse getalle, soos 153, 430, 490 darem ook aandag, en by uitsondering ontdek mense die geheimenisse van gematria en kabbalistiese numering. Ons bewussynsgebrek aan Bybelse getalle is baie jammer. Duidelik is daar ‘n rykdom in Bybelse numering, ‘n onderwerp wat ons wel later met vrug gaan behandel. Vir ‘n aptytwekker kan ons net vlugtig kyk na die getal vier, omdat dit van simboliese belang is vir die voller verstaan van die tipologie van die brandofferaltaar.
In ‘n algemeen-simboliese sin omsluit die getal vier verskeie vaste groeperinge. Uiteraard is daar tussen noord, wes, suid en oos baie ander rigtingaanwysers, maar die noem van hierdie spesfieke vier dui op AL die windrigtings, met ander woorde dit sluit die universele totaal in, selfs al word die detail nie eksplisiet genoem nie. Binne dieselfde betekenisverband is byvoorbeeld die vier eteriese elemente: aarde, lug, vuur en water, waarvan die integrasie die universele totaliteit van alle dinge simboliseer. Chetwynd, in sy Dictionary of Symbols, sê derhalwe dat die getal vier dui op “completion”. Toegepas op die brandofferaltaar, dui die getal vier dus tipologies op die voltooide werk van Jesus aan die kruis. Met sy uiting: “Dit is volbring!” (Joh 19:30) het Hy alle geregtigheid vervul (Mat 3:15), het Hy die wet volledig gemaak (Rom 10:4), het Hy die totale skuldbrief teen die mensdom kom vernietig (Kol 2:14), het Hy “deur een offer … vir altyd volmaak die wat geheilig word” (Heb 10:14).
Om dinge in groepe van vier te groepeer, is ‘n wydgebruikte Hebreeuse literêre tegniek. Salomo, die digter, sou mens kon vermoed het dit veral moes gebruik. Al die uitdrukkings wat só begin: “Drie … nee vier …”, maak van dié tegniek gebruik, byvoorbeeld: “Drie is dit wat vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie …” (Spr 30:18). Wanneer dit so gebruik word, dui dit in Hebreeus dikwels universaliteit aan. (Sien ook Amos 1-2 waar hierdie stylgreep 9 keer gebruik word.)
‘n Mooi ander tipe voorbeeld hiervan verduidelik Ryken et al. in hul Dictionary of Biblical Imagery in die uitwysing van sodanige vierledige groeperinge in Jes 58. Verse 6-8 bied vier algemene aspekte van geregtigheid aan (hier voorgehou as die vas wat God verkies), vier spesifieke dade van barmhartigheid en/of etiese optrede en word opgevolg met vier gevolglike seëninge. In verse 9-10 word die vier seëninge en die vier aksies chiasties (ook ‘n literêre tegniek) gebind. Hierdie aanbiedingswyse voeg dan toe tot die lering die implikasie dat dit universeel geld.
Hier sou analoog byvoorbeeld ook insluit verwysings na die vier winde (Dan 7:2, byvoorbeeld) en die vier hoeke van die aarde (Open 7:1). Alreeds is dit uit net dié twee verwysings uit die sogenaamde apokaliptiese boeke duidelik dat die getal vier ook “unveiling” (die betekenis van die woord “apokalips) insluit. In hierdie geval is die brandofferaltaar duidelik ook die openbaarmaking van Jesus – dit is sy universele openbaarmaking en sy lewe as ewige en gewillige offer wat die kruks is van die evangelie: “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” (Heb 10:14).
Dit sou byvoorbeeld voorts beteken dat ons die vier diere, die vier hoofde, die vier konings, die vier lewende wesens, die vier engele, die vier horings, alles welbekende simbole in die boek Openbaringe, uiteraard moet interpreteer nie noodwendig as vier SPESIFIEKE diere/konings/lewende wesens ens. nie, maar as verwysings wat dui op ‘n allesomsluitende universaliteit. Dit sou derhalwe tipologies verkeerd wees om vier spesifieke identiteite aan byvoorbeeld die vier konings te heg. Dit dui eerder op volledigheid of oppermagtigheid ten opsigte van daardie spesifieke benoeming. Dieselfde geld dusdoende vir die vier lewende wesens van Esegiël 1.
Tipologies beskou is die getal vier dus ook duidend op die universele offer wat Jesus gebring het – dit sluit alle mense en diere en dinge in (alles moet immers herstel word – Mat 17:11; Hand 3:21).
As ‘n mens uit ‘n totale ander hoek die getal vier benader, en wel uit die oogpunt van die Hebreeuse alfabet, word die getal vier geassosieer met die vierde letter: Dalet. Die breë taksering van die betekenis van dié letter, is : “a witness at the door”. Grant L. Luton, in sy verduideliking hiervan in die boek: In His own words, noem die getal vier die getal van “witness”: “Throughout the Bible, this number symbolizes God’s testimony to the world – testimony concerning His sovereignty and character.” In Jesus Christus het God sigbare getuienis aan die aarde gegee van wie Hy is – Col 1:15 in die Amplified stel dit raak: “[Now] He is the exact likeness of the unseen God [the visible representation of the invisible]; He is the Firstborn of all creation.” Die Message sê dit eweneens raak: “We look at this Son and see the God who cannot be seen. We look at this Son and see God’s original purpose in everything created.”
Hierby sluit dan nou aan die feit dat daar vier evangelies is – dit is vier getuies van Jesus die Messias. 1 Joh 1:1-4 som die “witness”-waarde van die vier evangelies op: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe—en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is—wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle …”
Nog veel meer sulke permutasies van vier sou ‘n mens uit die Skrif aanbied, wat almal op die een of ander wonderbaarlike wyse getuienis bied oor Jesus as die tipologiese brandoffer-altaar, byvoorbeeld die vier figure in die Bybel wat met koper gebind is: Simson (Rigt 16:21), Jójakim (2 Kron 36:6), Sedekía (2 Kon 25:7; Jer 52:11; 39:7) en Manasse (2 Kron 33:11). Omdat die brandofferaltaar oorgetrek word met koper (Eks 27:6) – en koper dui op oordeel (Jer 15:20; Ps 107:16) – word die koperaltaar die plek van oordeel, waar God sonde kom oordeel het in sy Seun se sterwe (Joh 1:29; 1 Pet 2:9). Maar as gevolg van die kruis het die Vader die volle oordeel aan die Seun gegee (Joh 5:22). Yashua is met ander woorde nie net Verlosser nie, maar ook Regter, en by die koperaltaarkruis neem Hy ook die verantwoordelikheid op van alle oordeel (Joh 9:39). Daarom verskyn Hy ook aan Daniël (10:6) en Esegiël (40:3) as “‘n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het”. Pragtig om te sien hoe die getal vier en die koper as metaal hier simbolies ook meesprekend integreer.
Elke detail rondom die koperaltaar is matematies presies, en die getal vier het dit uit ‘n verskeidenheid tipologiese perspektiewe duidelik belig.
- Sela: Wat beteken hierdie lering ten opsigte van die verstaan van getalle in die boek Openbaring?
- Lees: Jes 13-18
- Ondersoek die vervulling: Hoe kan Jes 18 gelees word as ‘n profetiese woord oor Afrika?
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Sleutel tot Geestelike Outoriteit: Shut your Brazen Mouth