“Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; vyf el moet die lengte wees en vyf el die breedte—vierkantig moet die altaar wees—en drie el sy hoogte.” (Eks 27:1, OAV)
In die vorige Manna het ons na die simboliese betekenis van die getal vier gekyk, spesifiek omdat die koperaltaar viersydig was, en ons het toe ons mannastudente die getal vier in die Woord ‘n bietjie verder laat ontgin, net as ‘n voorsmakie vir ons latere afdeling oor getalle van die Bybel. Wat interessant is, is dat dit ons gelei het na Eva, die prototipiese “moeder van alle lewe”. Terwyl ons dan besig is met getalle, is dit miskien van belang om net daarop te let dat die koperaltaar gespesifiseerde lengte/breedte en hoogte is. Dit gaan uiteraard nie oor die lengte/breedte en hoogte in ons omskakeling tot metrieke mate nie, maar oor die simboliek van die oorspronklike maatstaf-eenhede.
Die Bybelse maatstaf-eenheid word die el genoem (in Engels: cubit). Insiggewend genoeg, is die basiswoord van hierdie Hebreeuse woord: “moeder”! Die wortelwoord kan ook gevind word in die woord vir nasie, byvoorbeeld, en vir argitek of meesterbouer. Of dit nou mense of tempels is wat God laat bou, daar is presisie in sy afmetings, met ander woorde Hy bou volgens Sy meesterplan. Sy bouwerk word voltrek soos ‘n Moeder J.
Bloot vir interessantheid kan mens noem dat die el die afstand is van die voorarm (hand uitgesluit), naastenby 0,4 meter (of 17, 6 duim). Daar word onderskei tussen die gewone el (die Engels vertaal dit as “the cubit of a man” – Deut 3:11) en die koninklike el (die handbreedte ingesluit, sien Eseg 40:5), wat dan net effens meer as ‘n halwe meter sal wees. Dis voorts insiggewend dat die tempel van Esegiël, wat die eindtydtempel van die Bruid is, met koninklike el gebou word, dit wil sê volgens God se moederstaf PLUS die vyfvoudige bediening!
Daarom dan is dit voorts van groot belang dat die lengte en breedte van die brand-offeraltaar elk vyf el is, wat alreeds in die skep van die brandofferaltaar die “gawe van Christus” – die vyfvoudige bediening – verreken (Efes 4:8-11). ‘n Mens sou wonder hoe pas die vyfvoudige bediening enigsins in by die tipologiese kruis van Jesus? Eenvoudig. Efes 4:12-13 spel dit uit dat die funksie van die vyfvoudige bediening is: “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus”. As hierdie “kennis” nie oorgedra word deur die vyfvoudige bediening nie, is die boodskap van die kruis verlore! Daarom sê Rom 10:14-15 dit raak: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”
Daarom dan is die vyfvoudige bediening reeds profeties ingereken in die tipologiese betekenis van die brandofferaltaar.
Die getal vyf het egter ook ander simboliese betekenisse wat relevant is vir die brandofferaltaar. Bullinger noem die getal vyf die getal van genade. Daarbenewens verduidelik hy dit ook in ‘n raak beskrywing: “But four plus one (4+1=5) is significant of Divine strength added to and made perfect in that weakness; of omnipotence combined with the impotence of earth; of Divine favour uninfluenced and invincible.” Dit alles het by die kruis gebeur.
Aansluitend daarby: op hierdie brandofferaltaar het Yahweh sy seëlring van genade afgedruk deur ‘n vyfvoudige verbondsoffer daarop te vra. Sy volk kon die volgende offers, volgens Ge 15:9, bring – “‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif”.
Dit is ook besonder insiggewend dat indien Yahweh Abram se naam verander na Abraham (sien Gen 17:5), is dit spesifiek die vyfde Hebreeuse letter wat in sy naam toegevoeg word. In sy uitvoerige studie oor die Hebreeuse alfabet, sê Rabbi Michael Munk dat die letter Hei (die vyfde letter) is ‘n simbool daarvan dat die wêreld deurdrenk word met die Bonatuurlike (“imbued with the Divine”), en dit het die vader van die geloof, Abraham, verkry toe God die vyfde Hebreeuse letter in sy naam (en derhalwe identiteit) gedeponeer het. Die kruis is dus ook ‘n teken van Goddelike guns aan die wêreld. Daarom noem Paulus dan ook die evangelie van Jesus “die evangelie van die genade van God” (Hand 20:24).
Ons sal later daarop terugkom, maar die ganse tabernakel se mates en getalle word aan die getal vyf of veelvoude daarvan gekoppel.
Kortom: Bullinger vat dit raak saam as hy verwys na die koperaltaar as die bewys van God se geregtigheid: “This righteousness is based on atonement, for 5 x 5 was also the measure of the brazen altar of burnt offering. This was the perfect answer of Christ to God’s righteous requirements, and to what was required of man.”
Dan kom ons uit by die getal drie, wat die hoogte van die koperaltaar moes wees – drie el. Meetkundig gesproke is ‘n punt eendimensioneel en twee punte (met ‘n lyn daartussen) ‘n plat vlak. Wanneer daar drie punte kom, is daar dimensie. Om hierdie rede staan drie, volgens Bullinger, “for that which is solid, real, substantial, complete, and entire. All things that are specially complete are stamped with this number three.” Kol 2:9 – “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik …” Die Amplified spel dit nog helderder uit: “For in Him the whole fullness of Deity (the Godhead) continues to dwell in bodily form [giving complete expression of the divine nature].” Uiteraard is dit ook die getal van Jesus as die Manifestasie van die Drie-enige God. Hierdie driestemmige getuienis van Wie Hy is, verduidelik 1 Joh 5:7 vir ons – “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een …”
Op grond van Gen 1:13, waar vertel word van die aarde wat op die derde dag as ‘t ware opstaan uit die waters, word die getal drie ook met opstanding geassosieer. Uiteraard is Jesus se opstanding op die derde dag (Mat 27:63) ook ‘n bevestiging hiervan, asook die Bruid van Christus se opstanding op die derde dag in die geskiedenis: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.”
Daar is verskeie vaste kombinasies in die Skrif wat dui op die eenheid van drie, maar ons sluit die getalle rondom die koperaltaar se drie el-hoogte af met ‘n mooi vaste kombinasie van drie essensiële van die koperaltaar: geloof, hoop en liefde, wat presies drie keer in verse só bymekaar gegroepeer word: 1 Kor 13:13, 1 Thes 1:3 en 5:8! Dit vat die wesensaard van die koperaltaar saam.
- Sela: Wat beteken dit dat die “derde dag” reeds in die eerste dimensie afgekondig word?
- Lees: Jes 22-27
- Ondersoek die vervulling: Jes 22:22 (Wenk: Open 3:7).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: 24 Algemene Fondasies van die Derdedagkerk