“En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.” (Eks 27:1, OAV)
Aan die vier kante van die van die koperaltaar was daar vier horings. In Mannas 153-154 is dit oorsigtelik getipeer en simbolies verduidelik. (Lees dit as agtergrond asseblief weer ‘n keer om die geheue te verfris.)
Ook die reukofferaltaar het vier horings gehad, en dit is derhalwe van groot belang dat ons hierdie gemeenskaplike attribute van albei altare weer van naderby beskou (al het ons nog nie eens in ons studie by die reukofferaltaar uitgekom nie J).
In Eks 27:2 gee God hierdie opdrag aan Moses oor die oprigting van die brandoffer-altaar: “En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.” Dit is belangrik om te besef dit was nie los dierhorings wat aan die koperaltaar gebind is nie, maar dit moes “een stuk” met die altaar wees, derhalwe was die vier horings deel van die gegote struktuur – dit is al hoe dit een stuk kon wees.
Met dit in gedagte dat die koperaltaar dui op die kruisversoeningsdaad van Jesus, is dit belangrik om hierdie gegewens oor die horings aan die koperaltaar weer van naderby te beskou. Die simboliese assosiasie met horings is krag en sterkte. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is die simboliese passasie in Dan 8:3-9 waar die krag en sterkte van bepaalde koninkryke verbeeld word aan die hand van die magtige horings van diere. Die klem op die feit dat die horings “een” is met die altaar, hou diepsinnige betekenis in – daar is geen enkele detail van die tabernakel van God wat nie meesprekend vir ons in die Nuwe Verbond is nie.
In Jer 17:1 word daar ‘n eksplisiete verband gelê tussen horings enersyds en altare andersyds: “Die sonde van Juda is geskrywe met ‘n ystergriffel, met ‘n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare—“ Daar is dus ‘n baie spesifieke korrespondensie tussen die sonde wat op “die tafels van die hart” geskryf word én die verlossing wat op die “horings van die altare” geskryf word. Wat sou dit beteken?
Die woordjie “ingraveer” wat in Jer 17:1 gebruik word, word enersyds in die Hebreeus omskryf as: “to cut in, plough, engrave” en andersyds as “to be silent, be dumb, be speechless”. Benewens die voor-die-hand-liggende betekenisse volgens die leksikon, word dit byvoorbeeld in 2 Kron 24:12 vertaal as “wrought iron and brass“ – die ingraveer het ten dieptste ook te make met die “een stuk” waarin die horings as integrale deel van die altaar gegiet is. Uiteraard is die woordjie ingegraveer duidelik duidend op die wonde wat Jesus opgedoen het voor en met sy kruisiging. Een van die verwysings waar dit gebruik word, is in die profetiese Psalm 129 waar daar in vers 3 geprofeteer word oor Jesus se wonde: “Ploeërs het op my rug geploeg; hulle het hul vore lank getrek.” En daarmee saam – Hy het ook aan die tweede betekenis terselfdertyd beslag gegee: om ten spyte van die onreg wat Hom aangedoen word, stil te bly. Jes 53:7 stel dit treffend: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”
Die woordjie ‘ingraveer’ wat op die altaarhorings gebeur, gebeur as opheffingsdaad van die sonde wat op die tafels van die hart geskrywe word. Let op na die metafoor wat gebruik word – die tafels van die hart. Hierdie is die presiese woord wat gebruik word vir die twee kliptablette of kliptafels waarop God die tien gebooie geskryf het! (Sien byvoorbeeld Eks 24:12 en 31:18, onder andere.) Dit is die “vinger van God” wat dit ingraveer. Let mooi op: soos wat op die mens se hartstafels en gewetetafels deur sonde gegraveer word, moet ‘n gelyke, maar teenoorgestelde aksie plaasvind wat deur God alleen uitgevoer kan word – Hy moet op die horings van die brandofferaltaar sy identiteit van liefde en vergifnis ingraveer. Gravering bly egter ‘n diep-snydende proses. Inaggenome dat Jesus voorgehou word as die “horing van heil” (Luk 1:69), verstaan ‘n mens dit nou duidelik dat God vir Jesus moes slaan (Jes 53:4). ‘n Paar verse later word dit nog meer brutaler gestel: “dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel …” (Jes 53:10).
Maar deur hierdie brutaliteit het God sy kinders se name en geestelike identiteit in die handpalms van Jesus met spykers ingeskryf. Die profetiese heenwysing van Isa 49:16 (Ampl) word ‘n diepsnydende waarheid: “Behold, I have indelibly imprinted (tattooed a picture of) you on the palm of each of My hands …”
Maar waarom word die horing spesifiek gebruik om Jesus se verlossingsdaad te simboliseer? Benewens al die newebetekenisse wat daarin opgesluit lê, is daar ‘n paar Ou Testamentiese Skrifte wat vir ons die tipologie netjies uitwys.
Die woordjie horing (qeren in Hebreeus) kan ook “heuwel” beteken. In Bybelse metaforiek is ‘n heuwel of berg altyd ‘n aanduiding van “places where God’s people will dwell in abundance” (Dictionary of Biblical Imagery), ten spyte daarvan dat dit ook in ‘n negatiewe sin onder andere “heaps of human obstacles” kan voorstel (sien Zec 4:7, Ampl) . As ons voorts weet dat in die Hebreeus dieselfde woordjie vir ramshoring, yovel, ook “to bring forth” beteken, dan weet ons dat die bloed op die horings verlossing voortgebring het, en die oorvloedige lewe moontlik maak wat ons deur die sondeval verloor het. Jes 5:1 voeg ‘n totale ander dimensie daaraan toe: “Laat my tog sing van my Beminde; ‘n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel.” Daarom sal KJV hierdie vers vertaal as: “Now will I sing to my wellbeloved a song of my beloved touching his vineyard. My wellbeloved hath a vineyard in a very fruitful hill …”, terwyl die LITV dit só vertaal: “Now I will sing to my Beloved a song of my Beloved concerning His vineyard: My Beloved has a vineyard in a fruitful horn.” Nie net ontsondig die horing jou en laat verlossing uitspruit nie, maar dit maak ook fruitfulness moontlik in die wingerd van Christus (Joh 15).
Benwens bogenoemde, dui die simboliek van horings ook op krag, sterkte en heerskappy (Deut 33:17; Job 16:15; Klaag 2:3). Ons moet deurgaans onthou: “aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid” (Mat 6:13) – daarom behoort die horing by wyse van spreke net aan Hom. Binne die horing van sy krag lê daar beskerming en skuilte, soos Ps 18:2 dit mooi sê: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.”
In Ps 92:10 word dié geestelike dunamis-krag ook gekoppel aan salwing – wat eweneens uit die horing bedien word (soos in 1 Kon 1:39): “Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.”
- Sela: Waarom ontbreek die krag in die Liggaam van Christus?
- Lees: Jes 28-33
- Ondersoek die vervulling: Verklaar Jes 28:15-16 tipologies in die lig van die lering.
- Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: ‘n Perspektief op Sion vanuit Psalms – reikhalsende verlange na die openbaarmaking van heerlikheid