“En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar ‘n kandelaar, heeltemal van goud …” (Sag 4:2, OAV)
In die eerste tabernakel, die Heilige, was daar geen venster of opening om enige lig in te laat nie. Die goue kandelaar het die funksie vervul om voortdurend lig te verskaf. In Eks 25:31-40 word die opdrag van God gegee oor die maak van die goue kandelaar. In Hebreeus word hierdie kandelaar die menorah genoem. ‘n Priester moes twee keer op ‘n daaglikse basis toesien dat die olyfolie aangevul word (Eks 30:7), want hierdie lig mag nooit ophou brand het nie (Lev 24:2).
Die kandelaar het kelkies soos amandelblomme aan elkeen van die ses armpies gehad, ‘n knop en ‘n blom, ook aan die kandelaar self moes daar vier amandelblomme, met knoppe en blomme, wees. Dit maak dit ‘n total van tien “knoppe en blomme”. Die detail waarmee hierdie amandelsimboliek aangebring moes word op die goue kandelaar, en duidelik gestel, dat dit in een stuk geplet moes word, dui op ‘n belangrike geestelike betekenis. Die woordjie amandel in Hebreeus kan vertaal word met “to be alert; sleepless; hence to be on the lookout”, want die amandelboom is die eerste boom wat in die laatwinter/beginlente begin blom. Dit dui met ander woorde op die snelle en kragtige werking van lig! Die getal tien beteken volheid, of, “the perfection of Divine order” (Bullinger). Met die menorah word gesimboliseer hoe daar ‘n snelle geestelike verligting kom wat ‘n volheid meebring, asook ‘n volmaakte orde!
Die doping met die Heilige Gees bring nie net vrugte en gawes voort (gesimboliseer deur die granaatjies en die klokkies aan die priester se blou oorkleed) nie; dit bring in jou tabernakel ‘n voortdurende lig tot stand wat nie uitgedoof word nie. Joh 1:4-5 word die sleutelteks om die goue kandelaar te verduidelik: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”
In die Ou Testament was die lewe in die bloed (Lev 17:11); nóú, in die Nuwe Verbond, is die lewe in die Lig!
- Sela: Bedink die geweldige implikasies van die laaste sin hierbo.
- Lees: Eks 14; Ps 64; Rom 6
- Memoriseer: Rom 6:22-23
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God: Lig