“Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ‘n lamp toeberei.” (Ps 132:17, OAV)
Die Ou-Testamentiese geloofshelde het dikwels iets in die gees gesien en selfs beleef wat in die verre toekoms eers ‘n werklikheid sou word. So, byvoorbeeld, het Abraham die Nuwe Jerusalem, die Bruid (Open 21:2-3 & 9-10) gesien en was hy in die gees op pad soontoe (Heb 11:8-10 & 16). Toe Isak vir sy seuns Jakob en Esau geseën het, “(he was) looking far into the future” (Heb 11:20, Ampl), “(seeing) things beyond the lifetime of Jacob and Esau” (Vincent’s Word Studies). En Moses wou nie deel hê aan die heerlikhede van die koninklike huis van die Farao nie, want hy het “die smaad van Christus” hoër geag as die skatte van Egipte (Heb 11:26)! Sela bietjie – Moses het verstaan wie en wat Christus is!
Hierdie panoptikum van geloofshelde in die Hebreërboek kom nie eens uit by van die heel grootstes nie – “En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal …” Van hierdie groepering is Dawid by verre dié een wat dromend God se groter ontvouende plan sien ontvou het vér verwyderd van sy kort bestek van bestaan.
So, byvoorbeeld, het Dawid geweet wie Sion was, en het hy profeties en prototipies beslag gee aan dit wat ons vandag as ‘n geestelike realiteit ervaar. Immers, Heb 12:22 spel dit onomwonde uit – “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem …”
Vanaf Ps 120 tot 134, wat almal “Bedevaartsliedere” genoem word (in Engels: the Songs of Ascents – ASV), word die “opgaan” in ‘n hoë roeping belig (daarom speel die berge uiteraard ook ‘n belangrike rol, byvoorbeeld in Ps 121:1 – Ek slaan my oë op na die berge …). Dawid het hierdie liedere gesing terwyl hulle die ark van die tabernakel na Jerusalem en dus na Sion geneem het. Dawid se profesie in Ps 132, deel van hierdie psalmreeks, profeteer dan ook: “Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.” (Ps 132:13-14). Sion word die rusplek van die Gesalfde, dit is Christus! Die Lam word die Lamp van die Nuwe Jerusalem, die Bruid – daarom sê Open 21:23 – “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”
Vergelyk dan die masskrif uit Ps 132:17 hierbo en sien raak dat die Lamp en die Horing naasmekaar gestel word. Uit die horing van Dawid het die saadlyn van Jesus die Christus gekom, die Horing van Israel, wat ons weer bevrug het met die “onverganklike saad” van ons wedergeboorte (1 Pet 1:23), wat die Bruid, die Nuwe Jerusalem bevrug en IN haar die lamp van Sy Lig aansteek, die stad op die berg (Mat 5:15).
Reeds by die brandofferaltaar word hierdie beloftes ook aan die Bruid gemaak, al het sy hier bloot by eerstedimensie-redding uitgekom. In die kruis lê reeds die potensiaal van die hoë roeping van die uitverkorenes, sou hulle dit kies en in die horings van die brandofferaltaar die ingraverings van hul naam in Sy handpalms lees.
- Sela: Het jy al jou naam in sy handpalms gekies?
- Lees: Jes 34-36
- Ondersoek die vervulling: Jes 35:3 (Wenk: Heb 12:11-13, onderweg na Sion)
- Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd-lering: God se Oë Beweeg “Heen en Weer” om Sy Heerlikheid tot Rus te bring