“en jy moet dit met koper oortrek” (Eks 27:2, OAV)
Die brandofferaltaar word ook die koperaltaar genoem (Eks 38:30). Die hele altaar van akasiahout, ook die vier horings, moes met koper (in Engels word dit ook soms “brass” genoem) oordek word. Die etimologie van die woord is besonder interessant: “in the sense of ringing, bell-metal; or from the red color of the throat of a serpent when hissing”! Duidelik is die koperaltaar gegee om met die stem van die slang stil te maak. Die koperplaatomhulsel oor die akasiahoutvorm het dit uiteraard vuurbestand gemaak, maar moes die “brunt” vat.
Ps 107:16 wys vir ons die tipologiese simboolwaarde van koper uit: “want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan”. Hiervoor het Jesus dan ook na die aarde toe gekom, “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh 1:29). Koper word deurgaans in die Skrif gebruik as ‘n heenwysing na oordeel oor sonde. Die allereerste verwysing daarna is vroeg in Gen 4:22 – “En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, ‘n smid wat allerhande koper …” Tubal-Kain was deel van die “offspring of Cain”, soos sy naam dan ook sê, en sy ma se naam is skaduwee (wat meer ekwivalent is aan donker as aan koelte). Simson is met koperkettings vasgebind (Rigt 16:21) en Goliat was in koper geklee (1 Sam 17:5-6). Goddelose verhardheid word met koper in verband gebring (Jes 48:4; Jer 1:18).
Vir die mens in hierdie staat word die geestelike realm (= die hemel) toegesluit met koper: “En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper …” (Deut 28:23). Omdat die aarde uit die hemel “gegrond” word (Jes 51:16), sal die aarde eweneens koper word, soos Lev 26:19 dit sê: “En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper.”
Dit is na die harde aarde, en geslote hemel, wat Jesus na die gebroke mens toe gekom het. En dis so interessant dat Hy profeties vooruitgesien is met ‘n bepaalde gestalte – dié van koper! In Eseg 40:3 word Hy só voorgestel: “En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was ‘n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was ‘n linnetou en ‘n meetroede; en hy het by die poort gestaan.” (Die meetroede en linnetou is maatstawwe van geregtigheid en lei tot “meting”, wat weer lei tot oordeel as die tempel nie reg gebou is nie – 1 Kor 3:12-14.) In Dan 10:6 word Hy só gesien deur die profeet: “En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte.”
Aan Hom het die Vader alle oordeel oorgelaat (Joh 5:22), in sy eie woorde in Joh 9:39 – “Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom …” Maar as Hy in Joh 12:47 sê: “Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.”, besef ons dat Hy die sonde op die koperaltaar moes word – “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Kor 5:21)
- Sela: Probeer Num 21:6-9 en Joh 3:14-16 hiermee in verband bring.
- Lees: Jes 43-45
- Ondersoek die vervulling: Jes 45:23 (Wenk: Fil 2:10)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe vind ek God in die duister?