“en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand (Open 4:5, OAV)
Daar is in die geestelike realm ‘n misterie gekoppel aan menigvuldigheid en eenheid. Die Bybel stel uitdruklik dat “onse God is ‘n enige Here” (Deut 6:4), “the Lord is One”. Tog bely ons dat die Een manifesteer in Vader, Seun en Heilige Gees. Maar onthou: Hulle is Een! (Joh 17:11, 21-22.). Man en vrou wat trou word een vlees, sê Paulus in Efes 5:31 – hy noem dit in vers 32 ‘n “verborgenheid”. Dieselfde beginsel is ook geldend ten opsigte van die Heilige Gees. Efes 4:4 stel duidelik dat daar net “een Gees” is, maar in die boek Openbaring word daar 3 keer gepraat van die sewe Geeste van God.
Die menorah se sewe fakkels is dus duidelik die prototipe van die sewevoudige Gees van God in die gelowige. As God derhalwe deur wedergeboorte op Sy troon sit in jou lewe, sê Open 1:4: en 4:5, dat hierdie sewe Geeste van God figureer voor Sy troon. Hulle word ook uitgestuur “oor die hele aarde” (Open 5:6). In laasgenoemde Skrif, en ook in Sag 4:10, word hulle ook die “sewe oë” van die Lam, Christus, genoem.
Dus is die goue Lam(p)staander ‘n duidelike heenwysing na Christus as die Gesalfde Een (Hand 4:26), uit wie die salwing en die lig van die Heilige Gees kom. Dit word die mooiste verduidelik deur die profetiese woord oor Jesus in Jes 11:2 (my numering): “en op Hom sal (1) die Gees van die HERE rus, (2) die Gees van wysheid en (3) verstand, (4) die Gees van raad en (5) sterkte, (6) die Gees van kennis en (7) van die vrees van die HERE. Die Gees van die Here is die middelstam van die menorah waaruit alles spruit; die ses ander Geeste is dan die ses armpies van die kandelaar.
Elkeen van hierdie Geeste is dus in jou om die heilige karakter van Christus in jou tot gestalte te bring. Toe Jesus Homself kom voorstel het aan die mensdom, het Hy Hom presies in hierdie terme van die goue kandelaar voorgehou: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring …” (Jes 61:1).
As hierdie Menorah, Christus, in jou brand en lig en salwing afgee, word 1 Joh 2:27 die bakermat van jou geesmensfunksionering: “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.” Practice His Presence!
- Sela: Wat sou die betekenis wees van die Geeste as die “oë”?
- Lees: Eks 15; Ps 65; Rom 7
- Memoriseer: Leer die Lied van Moses in Eks 15; maak jou eie lied daarvan, want jy gaan hom verseker weer sing (Open 15:3)
- Vir dieper delf: Luister na Briers Uys se cd-lering: Die gees van Serubbabel in die eindtyd.