Dag 66

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Mat 6:22-23, OAV)

Toe Jesus met Nikodémus oor wedergeboorte en die koninkryk van God gepraat het, het Hy hierdie uiters belangrike opmerking gemaak: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Wedergeboorte maak jou geestelike oë oop en slegs dan is jy in staat om as geestelike mens die koninkryk van God te kan sien. Hierdie wonderbaarlike gebeurtenis word ook deur die goue kandelaar versimboliseer. 2 Kor 4:6 verduidelik dit só: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.”  Indien dit gebeur, verkry jy, soos Bíleam “ ’n geopende oog” (Num 24:3). Soos Job (42:5) kan jy dan sê:   “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.”

Alhoewel die Lam jou lamp moet wees (Open 21:23), gebeur dit dikwels dat in baie “kinders van die lig” (Luk 16:8), die lig in hulle duisternis is (Luk 11:35), met ander woorde hul geestelike oë is versluierd. Daar is verskeie redes daarvoor. Die belangrikste hiervan is dat die geestelike mens is soos ‘n stukkie fosfor wat net lig verkry as hy hom in Jesus, die Lig van die wêreld (Joh 8:12), se Lig baai. “In U lig sien ons die lig.” (Ps 36:9). As jy nie op ‘n daaglikse basis jou “vir ‘n tyd in sy lig … verbly” (Joh 5:35) nie, “die oog vestig op Jesus” (Heb 12:2) nie, sal die sluier van duisternis jou terugplaas in die duisternis, in die skaduwee van die dood (Mat 4:16). Daarom: Practice His Presence! 

Nog ‘n belangrike rede waarom jou lamp uitgedoof is, is dat jy nie volkome in die waarheid loop nie en dat jy nie jou verkeerde dade aan die lig bring dat die lig dit kan bestraf nie (Joh 3:20-21; Jes 10:17). Om in die lig te wandel, is ook die voorwaarde vir gelowiges om met mekaar verhouding te kan hê (1 Joh 1:7). 

Met die goue lampstaander in jou tabernakel getuig Jesus in Joh 12:46 oor jou: “Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.” Onthou: jou lamp moet brand om saam met die Bruidegom te kan ingaan in sy heerlikheid. Die ander wedergebore maagde wie se lampies nie gebrand het nie (Mat 25:1-13), kon nie ingaan nie.  

  • Sela: Fosfor dui op die môrester (Collins; Webster). Wat sê dit in terme van Open 2:28 en 22:16; en Jes 14:12?
  • Lees: Eks 16; Ps 66; Rom 8
  • Memoriseer: Rom 8: 14, 19 en 28.
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God: Lig.