Dag 662

 

 

“Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word;

dit mag nie doodgaan nie.”

(Lev 6:13, OAV)

 

Yashua het met sy at-one-ment die leë, hol koperaltaar met sy volheid vol gemaak, het ons in die vorige Manna geleer. Joh 1:16 verduidelik hoe Hy hierdie volheid van sy Wese oorgegee het, hoe dit ontledig is, ter wille van die mensdom: “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” Deurdat Hy ontledig is, is ons POTENSIEEL vol genade gegiet. Dit het tipologies by die brandofferaltaar gebeur. En dan het dit die implikasie, sê Col 2:9 (ASV) “in Him we are made full”. Alhoewel dit gebeur het, is dit helaas nié die realiteit van ons lewe nie. Sy volheid, wat tot ons lewe en oorvloed moet lei (Joh 10:10), bly dikwels in gebreke. Ons het  Blackenby aangehaal wat gesê het: “Our problem is one of belief. We haven’t yet grasped the truth that God accomplished all … in the cross.” Maar dit is meer as net kennis en geloof – daar is ‘n bepaalde proses van transmutasie (ons sal die begrip later verduidelik) wat by die kruis moet plaasvind alvorens ons “the immeasurable and unlimited and surpassing greatness of His power” (Eph 1:19, Amp) kan ervaar. Die geheimenis is gesetel in die vuur van die koperaltaar.

In Lev 1:7 gee Yahwe die volgende opdrag – “En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout op die vuur reglê.” (Sien ook Lev 3:5.) Later, in Lev 6:12-13 word dit verder gekwalifiseer: “En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie.”

Benewens die vuur wat deur priesterlike bemiddeling moet plaasvind, neem God ook aktief deel aan die proses deur op die offer te ‘antwoord’ – eweneens met vuur! Lev 9:24 verduidelik dit: “vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer”. Die woordjie “antwoord” word spesifieke gebruik, want dit is hoe dit God se aksie in 1 Kron 21:26 beskryf: “En Dawid het daar vir die HERE ‘n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring. Onderwyl hy die HERE aanroep, het Hy hom met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar geantwoord.” Omdat Dawid geweet het God antwoord welgevallige offers op die altaar met vuur, kon hy in Ps 20:3 bid: “Mag Hy dink aan al u spysoffers en u brandoffer met welgevalle aansien! Sela.” (Die sela vra dat ons ook wyer en dieper moet kyk na hierdie handeling.)

Maar wat sou hierdie twee tipes vuur – die vuur uit menslike hand, en die vuur uit die hand van God in die hemel – dan tipologies vir ons beteken? Voordat ons  ‘n antwoord daarop probeer gee, moet ons eers die verskynsel van Teofanie (Godsverskyning) ondersoek.

 

  • Sela:  Bedink die woord ‘teofanie’.
  • LeesJer 34-36
  • Ondersoek die vervulling: In Jer 35:19 word daar ‘n bepaalde belofte gemaak aan Jónadab, wie se naam beteken:

Jehovah presents spontaneously. Hoe sluit dit, én die belofte aan hom, by hierdie lering aan?

  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God – Vuur.