“’n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan”
(Dan 7:10, OAV)
As Heb 12:29 dan onomwonde sê: “onse God is ‘n verterende vuur”, moet ons verstaan dat Hy uiteraard meer is as vuur, en ook nie letterlike vuur nie, alhoewel Hy soms transendentaal transmuteer in vuur. Tipologies is hierdie insig van die allergrootste belang, want die ganse toekoms van die mens op aarde word op grond van die werking van Goddelike vuur vertel. 1 Kor 3:13 verklap hierdie ontsagwekkende waarheid: “dit (sal) deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel”. Die woordjie “openbaar” is in Grieks apokalupto, “taking off the cover”, revealing what is unreality and what is truth/reality.
In sy studie, Jung and the Lost Gospels, ‘n dieptepsigologiese lesing van die Dooiseeboekrolle, maak Stephan A. Hoeller die volgende uitspraak as hy praat oor die geboorte van Jesus: “the sacred fire of transpersonal energy decends into manifestation”, en oor sy doop: “the future Savior receives his authentic vocation by way of an overshadowing or descent of a supernatural principle”. Hierdie “oorkleding” wat uit die geestlike realiteit na ons werklikheid se “unreality” moet transponeer, vind ons ook mooi uitgespel in 2 Kor 5:1-3: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.”
Let mooi op: ons word met ons woning uit die hemel hier op aarde oorklee. In die oorspronklike taal beteken hierdie “oorkleding” “the superimposition and investation of a garment”, of “sinking into a garment”. Hierdie “garment” is egter geen fisiese kledingstof nie, nee; dis ‘n metafoor van die kleed van vuur.
Voordat ons dit verder kan verklaar, moet ons allereers kyk na sommige manifestasies wat in die Woord gedokumenteer is van Teofanie (Godsverskyning) in en deur vuur:
- In Gen 15:17 sluit Abram met Yahweh ‘n verbond, en God bevestig sy aanneem van die offer deur vuur: “En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.”(Die Engels noem dit “a smoking fire pot and a flaming torch”.)
- Die ervaring van Moses word in Eks 3:2 weergegee – “Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!” Onthou, die ‘Engel van die Here’ is die bekendste pre-inkarnasiestaat van Jesus.
- In Eks 13:21 – “En die HERE het voor hulle uitgetrek … snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig …” (bedags as ‘n wolkkolom). Hierdie Teofanie het die ander volkere met absolute vrees vervul (Num 14:14).
- In Eks 19:18 lees ons: “En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ‘n vuur daarop neergedaal het.” Dis interessant dat as hierdie gebeurtenis uit die oogpunt van die Israeliete gegee word, word dit metafories aangebied: “En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.” Tog stel ‘n teks soos Deut 4:11 “die berg het met vuur gebrand”. Moses gebruik dit in Deut 5:4 as een van die belangrikste argumente oor God in die Israeliete se midde: “Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek …”.
- Eks 40:38 sê dat God snags ook as vuur “op die tabernakel” was (bedags as ‘n wolkkolom).
- Deut 5:22 dokumenteer dat die tien gebooie (“woorde”) van Yahwe deur ‘n stem van vuur gegee is: “Met hierdie woorde het die HERE julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ‘n groot stem toegespreek, en niks meer nie …” Daarom verklaar Ps 29:7 byvoorbeeld ter ondersteuning: “Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit.”
- Die verhaal van die ouers van Simson wat in Rigters 13:19-20 vertel word, is ‘n suiwer voorbeeld van Teofanie deur vuur: “Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die HERE terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou: toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.” Let op dat die Engel van die Here (= die pre-inkarnasiestaat van Jesus) nie “neerdaal” in die vlam nie, maar daarin “opvaar”!
- In Esegiël se epiese visioen, “toe die hemele geopen is” (1:1) met “die verskyning van die heerlikheid van die HERE” (1:28), word die volgende Teofanie gedokumenteer: “Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.” (1:4). In vers 13 word dit nog verder gekwalifiseer: “Aangaande die gestalte van die wesens: hulle voorkoms was soos gloeiende vuurkole, soos die voorkoms van fakkels; die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het ‘n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgeslaan.” In vers 27 word die Goddelike Wese (bes moontlik weer die gepreïnkarneerde Jesus) soos volg beskryf: “Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ‘n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ‘n glans daaromheen.”
- Alhoewel hy dit metafories kan bedoel, sê Dawid in ‘n lied (taamlik onmetafories in vergelyking met byvoorbeeld Jes 30:27): “‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand … Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.” (2 Sam 22:9 & 13). Ook Asaf, in Ps 50:3, verklaar ondubbelsinnig: “Vuur verteer voor sy aangesig …”.
Daar is verskeie ander aksies van God wat deur vuur gekenmerk word, maar dit is deurgaans veral ten opsigte van Goddelike oordeel: Sodom en Gomorra (Gen 19:24), die dood van Nadab en Abihu (Lev 10:1-2) die vernietiging van Korag en sy familie (Num 16:35), die vindication van Elia teenoor die Baälprofete (2 Kon 1), en andere. Alles in ag genome, is Daniël 7:9-10 se karakterisering van “the Ancient of Days” (eweneens Yashua) as ‘n verterende vuur die mees beskrywende: “sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur; ‘n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan”. Ons gaan in die volgende Manna kyk na die wonderbaarlike implikasies hiervan.
- Sela: Waarom sal Yahwe vuur spesifiek as manifestasievorm kies om te verskyn?
- Lees: Klaagl 4-5 en Eseg 1-4
- Ondersoek die vervulling: Eseg 1:28 (Wenk: Open 10:1)
- Delf dieper: Luister Tom Gouws se cd-lering: To Be Wrong in the Holy Things – die Gevaar van
Verkeerde Vuur