“om hulle oë te open …sodat hulle deur die geloof …‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand 26:18, OAV)
In Efes 1:18 bid Paulus uitvoerig vir die gemeente van God dat hulle “verligte oë van die verstand” sal verkry. Hierdie proses gaan nie maklik gebeur nie – die Prins van Duisternis (Mat 9:34) staan dit met alle mag en krag tee; demone word gestuur om jou krag te verteer, sonder dat jy bemerk; en met die grysheid van dood word jy versluier, sonder dat jy dit agterkom (Hos 7:9). Daarom sê die skrywer van die Hebreërboek: “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het?” (Heb 10:32).
Christene per definisie hou weinig bedreiging in vir die koninkryk van duisternis. Maar geesmense wat die dinge waarop dit aankom, kan onderskei (Fil 1:10), wat in Sy volmaakte wil loop (hieroor spoedig meer), en wat die Koninkryk van God laat kom, soos in die hemel, so ook op die aarde, hou groot bedreiging in. Daarom is dit nie vreemd dat ons in die proses om verlig te word, “’n groot lydensworsteling” moet deurgaan nie; “you went through a great conflict and many sufferings” (WNT).
Gelukkig verkry ons in hierdie tyd ‘n bonatuurlike “eerste liefde” (Eseg 16:8; Open 2:4) teenoor Christus, wat ons moed en krag en strategie gee om te veg teen die wilde diere in die geesrealm (1 Kor 15:32), “teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis … , teen die bose geeste in die lug” (Efes 6:12).
Verligte oë van die verstand kom deur “the renewing of the mind” (Rom 12:2). Hierdeur leer jy om God lief te hê “met jou hele verstand” (Mat 22:37). Indien dit gebeur, kom jy, volgens Efes 1: 18-19 tot die realisering van drie dinge wat jou ganse lewe sal verander: 1) wat jou roeping is; 2) wat is jou erfdeel is; en 3) wat is die uitnemendheid van sy krag vir jou.
Een van die belangrikste toetsstene of jou goue kandelaar in die geesdimensie brand, is om uit openbaringskennis (=goud) te weet wat die antwoorde op hierdie drie vrae in jou lewe is.
- Sela: Soek God se aangesig oor hierdie drie vrae.
- Lees: Eks 17; Ps 67; Rom 9
- Memoriseer: Rom 9:33
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Julle sal slange optel.