Dag 673

 

“Who among us shall dwell with the devouring fire?

Who among us shall dwell with everlasting burnings?”

(Isa 33:14, KJV)

 

In hierdie Manna wil ons uit die letterkunde en ‘n koeranberig drie voorbeelde aanbied van hoe vuur met die mistieke geestelike realm in verband gebring word.

In die eerste verwysing is dit ‘n negatiewe assosiasie. In die koerant Beeld van 29 Desember 2010 is ‘n voorbladberig van ‘n afgetrede dame wat haarself toegesluit het in haar meenthuis, petrol oor haarself uitgegooi het en haarself aan die brand gesteek het. Toe haar vriendin by haar smeek om die deur oop te sluit, het sy gesê die “vuurgees” het haar beveel om dit te doen, en is sy deur die vlamme verswelg, en het kort daarna “agteroor in die vlamme ingeval”.

Duidelik was hier ‘n demoniese gees aan’t werk in die vrou. Haar geestelike ervaring, ook van die god wat sy gehoorsaam het, was egter deur vuur gedefinieer.

In 1654 het die briljante wiskundige en filosoof Blaise Pascal ‘n intense mistieke ervaring gehad. Baie mense het die ervaring betwyfel, of dit as sinsbegogeling afgemaak, veral omdat hy sy werk as oorspronklike navorsing in die wetenskappe prysgegee het en hom op ‘n studie van God begin toespits het. Pascal het die mistieke ervaring kripties neergeskryf, en het die nota in sy jas se binnevoering toegewerk en seker gemaak dat dit altyd aan sy lyf was, selfs as hy van klere verwissel het. Die nota is eers ná sy dood ontdek. Die nota lui soos volg: “Fire. God of Abraham, God of Isaac, God of Jacob, not of the philosophers and the scholars. The God of Jesus Christ.” en sluit af met Ps 119:16: ” I will not forget thy word”.

In Pascal se ervaring met die “Unexpected” (soos die digter WH Auden dit in sy gedig Pascal, noem), die Lewende God Jahwe, kenskets hy Hom allereers as “Vuur”. Daarna eien hy die Vuur as die God van Abraham, Isak en Jakob. Dan besef hy die god wat hy en die filosowe en die geleerdes aanbid is nié Jahwe nie. En dan maak hy die geweldige ontdekking: Dit is die God van Jesus Christus. Logieserwys sou mens dan in die gelykstelling kon sê Vuur = Jahwe = Jesus die Christus, en duidelik: there is fire in the equation!

Die Afrikaanse digter Sheila Cussons is sedert haar (ongeredde) kinderdae telkens deur ‘n vuurdroom geteister. Sy vertel in haar prosabundel Gestaltes 1947 daarvan: “’n brandende see en ek daarin, … die vlamme wat naaste aan my beweeg, is ’n donker deursigtige rooi … Agter strek … ’n duisternis van vuur – ’n swart vuur met ’n rooi hart en binne die hart my blink sparteling, terwyl ek herhaaldelik na my vader roep”. Later ontplof ‘n gasstoof in haar gesig en begin haar “avontuur met vuur”, waarin sy “Christ of the burnt men” leer ken as Jahwe: “En daardie prag van vuur / In die wolk: dit is nie oranje / Nie goud nie, nie rooi nie / Maar Jahweh, eenvoudig.”

Die eerste persoon se ervaring was “vreemde vuur” (Num 26:61); die laaste twee het God as verterende vuur in Jesus die Christus leer ken, die vierde Man, “walking about in the midst of the fire” (Dan 3:25, NASB). Meer hieroor in die volgende Manna.

 

  • Sela:  Hoekom krap die Skrif in Jes 33:14 hierbo so teen ons oorgelewerde grein?
  • LeesEseg 11-13
  • Ondersoek die vervulling:  Eseg 12:2 (Wenk: Hand 7:51-52)
  • Delf dieper: Lees die versamelde poësie van Sheila Cussons.