Dag 677

 

“Hy sal wees soos die vuur van die smelter … ”

(Mal 3:2, OAV)

 

In die vorige Mannas het ons tot die verstaan gekom dat die verterende vuur-aard van God in die Nuwe Verbond gestalte sal kry in en deur sy Seun. Mal 3:2 sê: “Hy sal wees soos die vuur van die smelter …” Voordat ons dit probeer verduidelik, moet ons net die “opdrag” van die vuur, soos dit in Mal 3 & 4 vervat is, duidelik uitspel.

Ons weet nou dat God ‘n boodskapper sal stuur om die weg voor te berei (ook deur Jes 40:3 belowe), en dán sy “Engel van die verbond” sal stuur. Die keuse van die woordjie “Engel” in die vertaling is ‘n ongelukkige een. Albei die woorde in Mal 3:1, “boodskapper” en “Engel” is dieselfde woordjie in die oorspronklike Hebreeus: malâk. Dit sou beter wees om in plaas van “die Engel van die verbond” soos die meeste Engelse vertalings te praat van “die Boodskapper van die verbond”. Alhoewel engele ook boodskappers is, was Jesus nie ‘n Engel nie. (Dieselfde is die geval in die Nuwe Testament – daar staan soms “engel” waar “apostel”, of dan “gestuurde” moet wees – ons almal weet apostels veral is nie engele nie J.)

Dit gaan dus primêr oor die vestiging van ‘n nuwe verbond. En, soos Heb 10:8-9 dit onomwonde in die woorde van Jesus stel: “Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel.” Hierdie is die primêre rede vir sy koms – “(to take) away the old order, so that He might put the new order in its place” (BBE).

Eintlik is Jesus meer as bloot die “boodskapper” of “ambassadeur” van die nuwe verbond – Hy IS die nuwe verbond. In Jes 49:8 word dit eksplisiet uitgespel – “Ek … gee U as ‘n verbond”! Die Nuwe Verbond is nie soos vorige verbonde ‘n ooreenkoms nie – die Nuwe Verbond is ‘n Persoon. Jy moet Hom, die Een na wie ons begeerte is (Mal 3:1), deelagtig wees, as ‘t ware eet en drink, leef, om die Verbond deelagtig te word. In Mal 3:1 word onomwonde gesê dat Hy na “sy tempel” kom, wat nié meer bestaan in klip en steen nie, maar nou die liggaam van die gelowige is (1 Kor 3:16). Hierdie geweldige kwantumskuif was vir Joodse denke weliswaar bykans onmoontlik om te bedink. Maar soos N.T. Wright sê in sy boek: Jesus and the victory of God: “Jesus was inaugurating a way of life that had no further need of the Temple.”

Hierdie waarheid het geweldige implikasies vir die priesterskap, want in die Ou Testamentiese bedeling was die Tempel in Jerusalem die sentrum van geloofsuitoefening waarheen hulle hul offers gebring het om hul verhouding met God te herstel. As Jesus die woorde sê, soos byvoorbeeld in Mat 9:2 en Luk 7:36-50: “Jou sonde is jou vergewe”, is dit ‘n aardskuddende stelling wat nooit vantevore (buite die tempel) kon gebeur nie. Hy demonstreer Homself dus as die Verbond, en die Tempel. (Later maak Hy wat uit Hom gebore word, ook deel van die Tempel – later meer daaroor.)  Eweneens moes die priesterskap verander. Hy gebruik VUUR om dit mee te doen, en waarmee Hy begin werk, is die “seuns van Levi”.

 

  • Sela: Watter implikasies het hierdie lering vir kerke (Hand 7:48)?
  • Lees: Eseg 23-25
  • Ondersoek die vervulling: Eseg 24:12 (Wenk: Hoe is dit in die NT moontlik?)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Waar is jy?”