“En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is …”
(1 Sam 2:35, OAV)
Die hele volk van Israel is oorspronklik as priesters geroep, maar in die woestyn het God die stam van Levi in hul plek as sy besondere eiendom verkies, en is die Leviete aan sy diens gewy. Levi word dus ‘n Israel binne Israel, as ‘t ware ‘n priesterorde binne ‘n priesterorde, het ons in die vorige Manna gesê.
Die hooftaak van die Leviete – trouens die eerste keer dat hulle by die naam genoem word – is in Num 1:50 – “But appoint thou the Levites over the tabernacle of the testimony, and over all the furniture thereof.” In Num 4:25 lees ons oor die Leviete en oor die diens wat hulle moes verrig, maar met die eksplisiete opdrag in Num 4:20 – “But they shall not go in to see the sanctuary even for a moment, lest they die.” Hulle mag ook nie naby die ameublement van die Heilige gekom het nie (Num 18:3).
Uit die priesterorde van Levi word Aäron en sy vier seuns tot hoëpriesters gekies en georden (1 Kron 23:13). Hierbinne is daar ‘n verdere verfyning ten opsigte van priesterskap: Israel > Leviete > Hoëpriesters.
Die hoëpriester het die individuele funksies en die breër werksaamhede van die priesters bepaal (Num 3-4). Hul belangrikste funksie was jaarliks met die Groot Versoendag om deur die voorhangsel die Allerheiligste in te gaan en versoening vir die ganse volk te doen.
In 1 Sam 2:35 lees ons God se ontevredenheid met sy priesterdom, en hoor ons sy vooruitskouing dat Hy ‘n nuwe priesterorde tot stand sal bring – “En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.” Eli was die laaste hoëpriester van hierdie orde. Die International Standard Bible Encyclopedia meen “the high-priestly dignity remained in the house of Aaron till the time of Solomon, when it was transferred from the house of Eli to that of Zadok”. 1 Kon 2:27 sien dit as ‘n profetiese vervulling: “So het Salomo dan Abjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die HERE was nie, om die woord van die HERE te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo gespreek het.”
Maar wie was Sadok? Volgens 1 Kron 6:8 & 53, en 24:3 en 27:1 was hy ‘n nasaat van Aäron deur Eleazar. Dit is egter in die boek Esegiël dat die priesterskap van Sadok sterk vooropgestel word. In sy profetiese voorskou van die eindtydtempel (Open 21:22) word Sadok ook as die prototipe van die priesterorde wat dáár sal bedien, voorgehou: “die seuns van Sadok wat uit die kinders van Levi na die HERE mag nader kom om Hom te dien” (Eseg 40:46). Dus lyk die verandering van priesterskap so: Israel > Leviete > Hoëpriesters (eers uit Aäron; later uit Sadok).
Die “seuns van Levi” van wie Mal 2:1 praat, is dus ‘n baie spesifieke groepering binne Israel. In die volgende Manna sal ons begin kyk hoekom hulle spesifiek uitgesonder word in hierdie transisie van vuur.
- Sela: Probeer die verskil tussen die Leviet en die Hoëpriester tipologies interpreteer.
- Lees: Eseg 29-31
- Ondersoek die vervulling: Wie is die bome van Eden (Eseg 31:18)? (Wenk: Jes 61:3;Eseg 47:12)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Die Priesterorde van Melgisèdek – Hoe
kwalifiseer ek?