Dag 683-684

 

“Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond.”

(Mal 4:1, OAV)

 

Die vorige Manna is afgesluit met hierdie samevatting: Die seuns van Levi moet deur die vuur gaan om sodoende die seuns van Sadok te word.

Ons weet nou dat in die laaste boek van die Ou Verbond, Maleági, die saak rondom die Levitiese priesterdom op die spits gedryf is. God het dié uitverkore werktuie voor ‘n ultimatum gestel – “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.” (Mal 4:5-6). Na hierdie uitspraak – omdat die ultimatum nie nagekom is nie – swyg Yahweh vir 430 jaar, bykans elf generasies lank!

Hierdie stilswye word vir die eerste keer verbreek wanneer daar ‘n wilde man uit die woestyn gestap kom en hy profeties die woorde van God proklameer. Hy word Johannes die Doper genoem. Wanneer Jesus oor hierdie man begin praat, ken hy aan hom die hoogste posisie toe in die volle voorafgaande vierduisend jaar. Vanaf Adam tot en met nou, sê Jesus, was daar niemand groter van geestelike statuur en belangrikheid as Johannes die Doper nie. Jesus verklaar hierdie man se woorde as gesanksioneerde Godspraak. Lees die uitvoerige beskrywing wat Jesus van Johannes die Doper gee in Mat 11:7-12: “En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? ‘n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as ‘n profeet! Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.”

Nie net het Johannes die Doper die einde van ‘n lang epog van vierduisend jaar meegebring  nie – hy het ook die nuwe epog ingelei. En Jesus sê hy was in geestelike statuur en belangrikheid groter as Adam, as Abraham, as Debora, as Gideon, as Moses, ja, groter as Dawid, as Salomo, as Jesaja en Jeremia, Esegiël en groter as al die ander profete.

Benewens die hoogste geestelike profiel onder sy epoggenote en geloofshelde (gaan lees maar weer van sy mededingers in Heb 11, die geloof se Hall of Fame), is hy uiteraard ook groter as Aäron die hoëpriester. Hierdie vergelyking word doelbewus gemaak, want Aäron is die prototipiese hoëpriester uit wie die priesterdom, en dan ook die seuns van Lévi, voortgekom het. En Johannes die Doper was uit die direkte genealogiese bloedlyn van Aäron. Luk 1:5 verduidelik dit soos volg: “Daar was …‘n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet.” (Interessant dan ook dat Johannes die Doper se ma, Elisabeth, dieselfde naam dra as Aäron se vrou, sy oumagrootjie van verskeie geslagte gelede (sien Eks 6:23)!)

Moenie die belangrike vergelykingstandaard wat Jesus hier voorhou, mis nie – Johannes die Doper is nie net groter as sy grootse oupgrootjie-hoëpriester Aäron nie; hy is ook groter as die totale Levitiese priesterdom oor wie Maleági geprofeteer het. Dis die einste Maleági wat voorts geprofeteer het dat die gees van Elia hierdie nuwe bedeling sal inlei, en dat dit hoofsaaklik sal gaan oor geestelike vaderskap, miskien dié belangrikste verantwoordelikheid wat enige priesterdom móét fasiliteer, in God se eie woorde –  “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees”. (2 Sam 7:14).

(Hierdie woorde word die eerste keer in die ganse geskiedenis tussen God en mens gebruik wanneer Yahweh Hom aan Dawid verbind. Geestelike seunskap word hier voorgehou as die absolute voorwaarde van heerskappy, soos dit byvoorbeeld vir Dawid se seun, Salomo, gesê is in 1 Kron 22:10: “Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en hy sal vir My ‘n seun wees, en Ek vir hom ‘n Vader; en Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel bevestig tot in ewigheid.” Daarmee saam gaan ook God se durende “goedertierenheid”, of soos die Message dit raak stel: “I will never remove my gracious love from him as I did from the one who preceded you.” – 1 Chron 17:13.)

Dus is dit ook van Johannes die Doper waar – hy is anders as enigeen who preceeded him. Dan verstaan mens duideliker Jesus se sterk uitspraak in Joh 10:10a – “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes.” Hierdie “dief” is nie Satan soos wat vry algemeen gepreek word nie. Twee verse vroeër verklaar Jesus wie toe wel die dief is – “Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers …” (vers 8a). Die ganse priesterskap voor Johannes die Doper was “diewe en rowers”.

Die hele Eseg 34 handel oor die problematiek van hierdie situasie: “So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak. My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek. Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat my skape’n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie— daarom, o herders, hoor die woord van die HERE! So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie. Want so sê die Here HERE: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg.” (verse 5-11).

In hierdie lig is dit dan duidelik hoekom Jesus Homself só voorgestel het, nét na Hy in Joh 10:10 gepraat het oor dié wat die skape steel, slag en verwoes: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (vers 11).

Johannes die Doper verteenwoordig ten diepste die daarstelling van ‘n nuwe priesterskap, wat ons nou al weet is die transmutasie deur vuur van die “seuns van Lévi” na “die seuns van Sadok”. Daarom is dit so duidelik dat in die laaste hoofstuk van Maleági die hele vooropstelling van die gees van Elia voorafgegaan word met die volgende: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.” (Mal 4:1-2). In die volgende Manna meer.

 

  • Sela:  Hoe verstaan jy dat die dag sal brand soos ‘n oond?
  • LeesEseg 41-46
  • Ondersoek die vervulling:  Eseg 46:42. (Wenk: Mat 24:45; Joh 21:15-17; 1Pe 5:2)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering:Die leer van die dope.