Dag 685

 

“Ek het gekom om vuur op die aarde te werp …”

(Luk 12:49, OAV)

 

 

In die vorige Manna het ons geëindig met die eerste twee verse van die laaste boek van die Ou Verbond, Maleági, wat praat van die dag wat kom wat sal brand soos ‘n oond. Let wel dat Yahweh eksplisiet sê: “die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek”. Wanneer daar oor die koms van die Verlosser gepraat word in Mal 3:1-2, is die vuur eweneens voorop – die dag van sy koms en sy verskyning sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy is die smelter en reiniger van silwer.

As Johannes die Doper dan vir die eerste keer in 430 jaar weer praat, sê hy: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mat 3:2). As Jesus vir die eerste keer praat, is dit ook sy presiese woorde: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mat 4:17).

Die woordjie wat hier vir “bekeer” gebruik word, is metanoeō, wat beteken “to change one’s mind” (Thayer), in die sterk sin van reformeer. Johannes die Doper en Jesus die Christus het ‘n Nuwe Reformasie kom aanbied. Bruxy Cavey stel dit raak: “Jesus … have successfully replaced religion with himself” (The End of Religion, p. 146). En hierdie Nuwe Reformasie of manier van dink is deurdrenk met die wesensaard van God self – vuur!

As Jesus in Luk 12:49 dit uitspel: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!”, is dit belangrik om allereers vas te maak dat dit nie fisiese vuur is nie, maar ook nie soseer “die vuurgloed van vervolging” (1 Pet 4:12), soos wat bykans al die kommentare dié gedeelte verklaar nie. Heb 12:18 sê onomwonde duidelik dat ons NIE “gekom het by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur … nie”, maar by “die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly” (vers 27). [Die woordjie “verandering” behoort vertaal te word met die woordjie “verwydering”.]  Op die dag wat die vuur van God – sy Naam is Jesus – in jou lewe begin manifesteer, sal Sy verskyning wees soos die vuur en alles verander/verwyder wat nie Sy natuur is nie! En in hierdie transisie van denkwyse en “onwankelbare koninkryk” (Heb 12:28), leer ken ons God as ‘n verterende vuur (vers 29). SY VERSKYNING aan/in/tot ons, is die vuur en dit verander ons “ou aarde” tot “nuwe aarde” (2 Kor 5:17), DEUR VUUR.

Veelseggend is dat die woordjie vir “verandering” of “verwydering” in een van die min plekke waar dit in die Nuwe Testament ook gebruik word, spesifiek ingespan word om die priesterorde te verduidelik wat in die proses is van “being changed”  (Heb 7:12, KJV). Hy het gekom om sy wesensaard op die aarde te laat verskyn in die gebroke erdekruike – die mens (Rigt 17:19; 2 Kor 4:7). Die “openbaring van die Here Jesus” geskied “in vuur en vlam” (2 Thes 1:7-8). Sela asseblief. Bedink ook weer dié vooropgestelde missie van Jesus: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!”

 

  • Sela:  Die “openbaring van die Here Jesus” geskied “in vuur en vlam” (2 Tim 1:7-8)
  • LeesEseg 47-48; Obadja 1
  • Ondersoek die vervulling:  Is Eseg 47:1 letterlik? (Vergelyk water dan met vuur.)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering:Die doping met vuur.