“die openbaring van die Here Jesus … in vuur en vlam”
(2 Tim 1:7-8, OAV).
Op die dag wat die vuur van God – sy Naam is Jesus – in jou lewe begin manifesteer, sal Sy verskyning wees soos die vuur en alles verander/verwyder wat nie Sy natuur is nie! En in hierdie transisie van denkwyse en “onwankelbare koninkryk” (Heb 12:28), leer ken ons God as ‘n verterende vuur (vers 29). SY VERSKYNING aan/in/tot ons, is die vuur en dit verander ons “ou aarde” tot “nuwe aarde” (2 Kor 5:17), DEUR VUUR. Die “openbaring van die Here Jesus” geskied “in vuur en vlam” (2 Thes 1:7-8).
Die Ou-Testamentiese profeet Maleági (wie se naam “boodskapper van God” beteken) kondig aan dat dit dié wesenseienskap van die nuweverbondsbedeling sal wees – God as verterende vuur sal Hom transmuteer tot vuur IN DIE MENS. Johannes die Doper bevestig dit, en so ook Jesus in die uitspel van sy Goddelike missie: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” (Luk 12:49)
Uit die vorige Manna is dit duidelik dat Jesus sélf die Vuur is, en dat die dag van sy koms (NIE EENDAG NIE, MAAR NOU- later meer daaroor) ‘n vuuroond is (Mal 4:1) en dat Hy derhalwe verantwoordelik is om nié net mense nie (Mat 3:11), maar ook die geskape aarde met vuur te doop (Luk 12:49). Dis die tipologiese vervulling van Num 31:23 – “elke ding wat in die vuur kan kom—moet julle deur die vuur laat deurgaan, en dit sal rein wees”. Onthou die belofte van Jes 29:6 – “Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van ‘n verterende vuur.”
Ons weet uit die eksplisiete woord uit Heb 12:18 dat dit nie ‘n fisiese vuur en tasbare konkrete en fisiese aardbewings, pessiektes, oorloë en gerugte van oorloë is nie, nee! Die natuurlike mens en die vleeslike gelowige (2 Kor 3:1) dink só daaraan: “Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.” (1 Kor 2:13-15). Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels (Jak 3:15).
Let mooi op – vleeslikheid het niks met liggaamlikheid as sodanig te doen nie, maar met ‘n natuurlike, vleeslike manier van dink. Rom 8:5-8 verduidelik dit netjies: “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie …” Sela hieroor.
- Sela: Dink jy natuurlik/vleeslik of geestelik na hierdie dinge?
- Lees: Dan 1-3
- Ondersoek die vervulling: Dan 3:19 (Wenk: Mal 4:1) Kan jy glo dat dit nóú aan bod kom?!
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering:Die houtkop van vleeslike godsdiens