“Everyone’s going through a refining fire sooner or later”
(Mark 9:49, The Message).
Uit die vorige Mannas moet ons ‘n paar dinge net weer aan die oor knoop:
- Jesus se mandaat, wat aan sy volgelinge, maar veral die Bruid, toevertrou word, is om alle dinge op die aarde en die hemele te versoen met God en dus alles te herstel.
- Die doel van geestelike vuur is om ALLES te toets en sodoende onderdanig te maak aan die natuur van God, met ander woorde, alles met God as verterende vuur te versoen.
- Uit die Ou Verbond is dit duidelik dat die priesters se vuuroffers ten nouste met sout verbind word, en dat dit konsekwent gebruik word rondom salfolie of salwing.
- Alhoewel almal en alles op aarde met vuur gesout sal word, is dit nie ‘n fisiese vuur nie. Dit beteken alles sal aan die karakter van God as verterende vuur getoets word.
- Dit is veral die seuns van Sadok wat deur die vuur sal beweeg sodat Jesus in hulle sal manifesteer. Dis deel van die algehele proses wat beslis met die Bruid, die gesalfdes, moet gebeur, dat hulle deur vuur openbaar gemaak of unveil
In Mannas 581-589, in ‘n gedeelte oor die mitologisering oor die hemel, is uitvoerig geskryf oor die gelykenis van die ryk man en Lasarus, en uitgewys hoe dié verhaal dikwels absoluut verkeerdelik aangewend word om sekere uitsprake te maak oor hemel en hel, en dat dit glad nie so gedoen kan word nie. Daar is toe oor die saak van die hemel onteenseglik aangedui dat ons deur eeue se verkeerde lering ‘n verstaan gekry het van die hemel wat glad nie strook met dit wat die Bybel daaroor sê nie, dat dit eerder op fiksieverhale en menslike verbeeldingsvlugte geskoei is as op die waarheid.
Dit is eweneens met hel presies dieselfde geval. Bill Wiese se multimiljoenverkoper: 23 Minutes in Hell, Mary Baxter se A Divine Revelation Of Hell, Dr .Maurice Rawlings se To Hell and Back, John Bunyan se Visions of Heaven & Hell, Jennifer Perez se Hell is Real, I Went There!, Bernarda Fernandez se 5 Days in Heaven and Hell en Thomas Welch se Eyewitness to
the Lake of Fire is maar enkele van die magdom boeke, om nie eens te praat van die dvd’s, kortfilms, cd’s, en so meer, oor hierdie vreesaanjaende onderwerp nie.
Opvallend dan dat in die hele Ou Testament van die Ou Afrikaanse Vertaling asook in The Amplified Bible, byvoorbeeld, die woordjie “hel” NOOIT voorkom nie. Die sobere Bybelse Ensiklopedie sê dit dan ook eksplisiet: “Die Ou Testament het ‘n woord om die plek, waar die dode vertoef, aan te dui, maar nie ‘n woord wat die plek van pyniging van die goddelose aandui nie.” (p. 201). Waarom dan veronderstel dat daar wel ‘n “plek van pyniging is”, sou ‘n mens dadelik vra, as dit nie eens enigsins in die 4000 jaar voor die koms van Jesus voorkom nie?
Die woordjie in Hebreeus vir “doderyk”, sheol, word lukraak deur sommige Bybelvertalings as “hel” vertaal. In die Apostoliese Geloofsbelydenis se 12 artikels is daar derhalwe al die jare bely dat Jesus “ter helle neergedaal het” nadat Hy gesterf het. In een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke, te wete die Heidelbergse Kategismus, word in vraag 44 die sinsnede “ter helle neergedaal” verduidelik. Volgens hierdie belydenisskrif moet ons verstaan dat die sinsnede “ter helle neergedaal” bedoel dat Jesus “onuitspreeklike angs, smarte en verskrikkinge deur sy hele lewe gely het en veral aan die kruis en dat Hy ons van die helse angs en pyne verlos”. Uiteraard het Hy vooraf en aan die kruis uitsonderlik gely, maar tog glad nie ná Sy dood nie! Hierdie tipe dubbelsinnigheid skep ‘n vals illusie oor die doderyk, want dit word met “pyniging” geassosieer, en derhalwe sluip ondertone van hel ongemerk in.
Die bekende teoloog, prof Jan van der Wat, sê byvoorbeeld op www.bybelkennis.co.za: “Verskillende kerke het al probeer om die saak anders te stel, bv. die NG kerk het al die woorde op ʼn stadium verander na ‘neergedaal na die hel’ terwyl die Gereformeerde kerk nou sê dat Jesus die helse pyn gely het. Dit wys dat die kerke ook ongemaklik voel oor die woorde, aangesien dit iets kommunikeer wat nie regtig so is nie.” Later stel hy dit dan so: “‘Hel’ in die Nuwe Testament beteken dus nie outomaties die plek waar jy braai vir jou sonde nie, om dit so uit te druk. Dit beteken in baie gevalle bloot die plek waar die dooies is.” En dan, alhoewel dit verskil van sy kerk se leer, sê hy: “Persoonlik verkies ek om ‘ter helle neergedaal’ vanuit ʼn Bybelse hoek te lees as ‘in die doderyk neergedaal’.” Dít is uiteraard die waarheid – “ter helle neergedaal” beteken streng gesproke bloot “neergedaal het na die doderyk”.
Die hele argument hierbo moet vir die lesers aandui dat daar deurgaans ‘n (on)subtiele poging is van die kerk om die konsep van die hel as ‘n plek van pyniging daar te stel, al leer die Bybel dit geensins nie. Die groot sondaar hier is die tradisie. Om dit mooi te illustreer, lees die volgende verduideliking van ‘n predikant met die naam Barend wat op die internetforum Kletskerk die volgende vertel:
“Dit is ‘n algemeen aanvaarde beginsels in Gereformeerde Kerke dat daar geen Bybelse grond daarvoor is dat Jesus fisies na ‘n plek genaamd die hel gegaan het toe hy gesterf het nie. … Lidmate behoort dit te weet en ek dink die meeste wat hoegenaamd belangstel in wat die geloofsbelydenis nou eintlik sê, weet dit wel. In die 80’s is ons Belydenisskrifte hervertaal in meer moderne Afrikaans. Hierdie sin in die Apostoliese Geloofsbelydenis is toe vertaal met ‘het neergedaal na die hel’. Onmiddellik was daar ‘n groot oproer onder lidmate en dominees, omdat dit nou impliseer dat Jesus fisies afgesak het na ‘n plek genaamd die hel. Die vertalers moes wild keer vir hul wickets en het verduidelik dat dit niks anders sê as die Nederlandistiese ou vertaling nie … Baie mense wou toe hê dat dit vertaal moet word met ‘Hy het die helse pyne en smarte vir ons gedra’ … Dit het omtrent ‘n dag se vergadering by die Kaapse Sinode (wat ek bygewoon het) gekos om dit vir mense te verduidelik dat jy nie iets kan vertaal, om te sê wat jy wil hê dit moet sê, as dit nie in die oorspronklike staan nie. Nog moeiliker was om vir mense te verduidelik dat ons nie die Apostoliese Belydenis kan verander nie. Ons kan wel óns belydenis verander en sê ons glo iets wat amper soos die Apostoliese Geloofsbelydenis is, maar dan kan ons dit nie meer die Apostoliese Geloofsbelydenis noem nie. Daar is dus net twee opsies, verwerp die Apostoliese Geloofsbelydenis, óf aanvaar dit as ‘n historiese dokument uit ons geloofstradisie, geskryf in die taal en met die teologiese begrippe uit die tyd toe dit geskryf is … In hierdie geval was dit nie eers nodig dat ons iets nuuts sê nie, want die Heidelbergse Kategismus wat deel van ons belydeniserfenis was, het dit reeds 400 jaar gelede gedoen. Op die ou end is egter besluit om terug te gaan na die ou vertaling ‘ter helle neergedaal’ ipv die moderne ‘neergedaal na die hel”. (http://www.kletskerk.co.za/viewtopic.php?p=152485.)
Die ironie wat spruit uit hierdie getuienis is dat die kerk dikwels deur sy eie dogmatiese belydenis in gevangeneskap gehou word.
In Renn se Expository Dictionary of Bible Words (p. 485) word uitgewys dat die woordjie wat hier ter sprake is, en byvoorbeeld in die King James-vertaling as “hel” IN PLAAS VAN “doderyk” vertaal word, ‘n bloot geografiese streek is: “a steep, rocky valley located southwest of Jerusalem … It is mentioned … merely as a geographic location without further comment” (sien byvoorbeeld Jos 15:8, 18:6 en Neh 11:30). Die woordjie wat deurgaans vir “doderyk” gebruik word in die Ou Testament, is “sheol” – dit het geen ondertone of implikasies van hel nie.
In die Nuwe Testament word die woord gehenna” vir “hel” gebruik. Renn verduidelik dit soos volg: “the Greek equivalent for the Hebrew of the Valley of Hinnom, which became the site of a rubbish dump for the city of Jerusalem, where all refuse was burned” (p. 485).
In 2 Kon 23:10 lees ons dat Koning Josiah van Juda bepaal het dat geen Israeliet mag deelgeneem het aan enige afgodsritueel by Tofet, wat in die dal van Hinnom was, deur hul kinders in die vuur aan die afgod Molog te offer nie. Duidelik ‘n geografies-gespesifiseerde plek, maar die eerste aanduiding dat die woordjie “Hinnom” geassosieer word met lyding in die vuur, alhoewel in ‘n totale ander konteks as wat ons “pyniging in die hel” verstaan. Desnieteenstaande maak selfs Henn ‘n sprong in sy Nuwe-Testamentiese (eie) verklaring van die woordjie “gehenna”, en sê: “a place reserved for the eternal fiery destruction of the wicked”! Dit is skrikwekkend hoe diepgesetel is die oorlewering oor die hel, dat ons die Bybel probeer inforseer in ons mitologisering.
Uit die uitgebreide studie wat gedoen is in vorige Mannas oor die ryk man en Lasarus – waar eersgenoemde kwansuis in die hel verkeer – net ‘n paar bevindinge:
- Die grootste probleem met bykans al die lesings en interpretasies van die gelykenis van Die Ryk Man en Lasarus is dat die kernbeginsel van Skrifuitleg nie gevolg word nie. Hierdie verhaal ‘n duidelik ‘n gelykenis oor Jode en nie-Jode, en nie oor hemel en hel nie (die woorde kom nie eens voor in die verhaal nie!).
- Omdat dit ‘n gelykenis is en nie ‘n allegorie nie, gaan dit oor die geestelike geheelsegging (die “boodskap” van die gelykenis) en nie soseer die onderdele wat elkeen simbolies is nie.
- As die verhaal letterlik opgeneem word, is daar verskeie bewerings wat onlogies, onskriftuurlik, teenstrydig en selfs onmoontlik is.
- Skrif moet altyd Skrif verklaar, en Joh 10:35 stel dit onomwonde: “die Skrif (kan) nie gebreek word nie”. Dit beteken dat die totaliteit van die Skrif nie mekaar weerspreek nie, en dat elke “duister” gedeelte teen die geheel geïnterpreteer moet word. Om te bepaal of die ryk man dan enigsins in die hel is, soos die populêre opinie dit wil hê, kan ons net na die volgende teenstrydighede kyk.
- In Luk 16:23, waar die ryk man sterf, lees ons dat “hy in die doderyk sy oë ophef”. Letterlik is dit onmoontlik, want Pred 9:5 sê “die dooies weet glad niks nie”.
- Die doderyk (= Hades) beteken in Grieks: “unseen, or imperceptible” – per definisie is dit onmoontlik om daar te kan sien of te kan Ps 146:4, BBE– “Man’s breath goes out, he is turned back again to dust; in that day all his purposes come to an end.” Pred 9:10 stel dit duidelik– “daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk”.
- Dit is onmoontlik dat die ryk man na Abraham in die doderyk roep – “let them be silent in Sheol”, sê Ps 31:17.
- Niemand wat gesterf het, is al veroordeel nie, met ander woorde: niemand kan al ‘in die hel’ wees nie (2 Tim 4:1; Hand 17:31).
- Luk 16:26 is amper die duidelikste onlogiesheid as mens letterlik na die verhaal wil kyk: Abraham sê die groot kloof tussen “hemel” en “hel” is daar “sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie …” ‘n Mens kan verstaan dat die arme siele van die hel na die hemel wil oorgaan, maar om te wil oorgaan van die hemel na die hel? Ai, nee. Duidelik dui hierdie “divide” op iets totaal anders as hemel en hel (die twee spilwoorde wat geensins eers in die gelykenis voorkom nie).
- Is die dooie mense bewus van wat aangaan op die aarde? Nee, in die doderyk is daar nie bewussyn nie, nee – al die dooies rus (1 Sam 28:15).
In die volgende Manna ge bruik ons die Bybel om die hel te ontmitologiseer.
- Sela: Vra Vader om jou denkbeeld oor die hel met vuur te toets.
- Lees: Dan 10-12; Hos 1-6
- Ondersoek die vervulling: Dan 12:3 (Wenk: Mal 4:1)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die mitologisering van die hel en die einde
van die wêreld