Dag 69-70

 

“(B)ekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”  (Open 2:5, OAV)

In hierdie lering wil ons probeer om al die wydlopende lyne wat tot dusver rondom die goue kandelaar in die Heilige deel van die tabernakel bespreek is, saam te trek. Dis van groot belang om seker te maak dat ons dit wat die goue lampstaander verteenwoordig in ons geestelike lewe sal vasmaak, veral in die lig van die waarskuwing wat gerig word in die versgedeelte hierbo.

In Openbaring 1 sien Johannes ‘n visioen van sewe goue kandelaars. In vers 20 word dit verduidelik as “die sewe gemeentes”. Daarna, in Open 2 en 3 skryf Christus aan elkeen van die sewe gemeentes ‘n persoonlike brief  – dit is briewe van vermaning en bemoediging en kan op verskeie maniere geïnterpreteer word, maar veral as riglyne om in lyn te kom met God se eindtydagenda. Tog moet ons ook elke brief ook lees as ‘n riglyn vir dit wat in orde moet kom ten opsigte van ons persoonlike menorah in ons tabernakel met God.

Na ‘n groot hoeveelheid positiewe eienskappe van die geestelike lewe wat uitgehef en erken word in hierdie eerste brief (Open 2: 2-3 en 6), word net een ding genoem wat téén hierdie kandelaar getuig: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.” (vers 5). Die gelowige(s) word gemaan: “bekeer jou en doen die eerste werke”. Maar wat presies is hierdie eerste werke?

Die amandelsimboliek van die goue lampstaander het hier ‘n belangrike diepere betekenis: dit is ‘n aanduiding van die “firstfruits, fruitfulness and resurrection life” (Kelly Varner). Die goue Lam(p)staander, het ons gewys, dui op die oorvloedige Lig en Lewe wat in die herrése Christus te vind is, wat in ons manifesteer (Kol 1:27). Dit is soos 1 Kor 15:20 dit uitspel: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.” Christus wat as Eersteling van die Lewe in ons woon, maak dit vir ons moontlik om – soos HY – lewend te kan word in die gees: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (Rom 8:11). Openbaringskennis word in die Skrif gesimboliseer deur goud (Open 3:18), en daarom moet hierdie goue lampstaander ‘n openbaring maar ook ‘n Teenwoordigheid wees, in jou, van die opgestane Christus (Joh 11:25), die Gesalfde, in jou. Sodoende verander God jou na “die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Rom 8:29). Hierdie Lig en Lewe manifesteer deurdat jou geestelike oë geopen word en jy in jou roeping opstaan (Efes 1:18). Die salwing van God, wat die goue Lampstaander laat brand deur die sewe Geeste van God, is ook die sewe oë (Open 5:6), die volheid van God se (profetiese) roeping in jou lewe, dit wat Christus as oprigter van jou geestelike tempel die skietlood in sy Hand gee om jou tempel te herbou volgens die oorspronklike bouplan (Sag 3:9 en 4:10)! Sela.

Met dit in gedagte, moet jy begin verstaan dat Satan se primêre aanval op jou is om te keer dat jy in jou oorspronklike skeppingsdoel kan opstaan. As daar in Gen 3:15 gesê word dat Satan, die ou slang (Open 12:9), sal jou aan die hakskeen byt, wat presies beteken dit? Hakskeen kom in die Hebreeus van ‘n woord wat beteken “by the heel; figuratively to circumvent (as if tripping up the heels); also to restrain (as if holding by the heel)” (Strongs); asook: “to supplant …to hold back” (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions). Dus: sy strategie is om om jou ‘n “refuge of lies” (Jes 28:15) te bou en jou sodoende terug te hou van dit wat God vir jou beplan het!

In hierdie lig is dit nou moontlik om te verstaan wat is die “eerste werke” waarna ons moet terugkeer. Efes 2:10 is hierin ‘n sleutel: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Van voor die grondlegging van die wêreld het God jou volmaakte pad uitgekerf, en al die werke KLAAR gedoen sodat jy net daarin kan wandel! Wat ‘n ongelooflike gedagte is dit nie! Daarom noem Hy ons in hierdie Skrifgedeelte sy “maaksel”, wat eintlik nie die beste vertaling is nie; dit word in ander vertalings “workmanship” (KJ) en selfs ‘n “masterpiece” (ISV) genoem! Die Griekse woordjie hier, poiēma, is dieselfde woord as wat vir “gedig”  gebruik word. Jy is Sy gedig! Soos in ‘n gedig is elke woord oor jou versigtig opgeskryf, geskik in ‘n perfekte “masterpiece”; dit sluit in al die “eerste werke” wat jy in die uitvoering van jou roeping moet doen! Dit laat jou loop in die “spore van geregtigheid” waarvan Ps 23:3 praat.

Die woordjie “sonde” dui in sy oorspronklike betekenis op die feit dat jy “jou merk mis”, jou skeppingsdoel nie volvoer nie. Dis waaroor dit hier gaan. Alhoewel Adam en Eva se eet van die verbode vrugte ‘n oortreding was, het hul daarmee aan sonde beslag gegee – hul het die doel gemis wat God met hulle lewe gehad het. As dit gebeur, sal God jou goue kandelaar uit die Heilige verwyder, soos met hulle ook gebeur het. Hiermee verdwyn jou “eerste liefde” dan ook. Om hierdie rede is dit van die allergrootste belang dat jy jou “wapens van die lig” sal aangord (Rom 13:12); dit word in detail verduidelik in Efes 6:11-18 – ons kom straks daarop terug.

Efes 4:1: “Ek vermaan julle dan … om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is …” 

  • Sela: Dis nou van die allergrootste belang dat jy by God moet seker maak wat is jou roeping.
  • Lees: Eks 19 & 20; Ps 69 & 70; Rom 11 & 12.
  • Memoriseer: Rom 12:1-2
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Argitektuur van God se bouwerk in die gees.