Dag 696

“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy watdie Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie,maar die toorn van God bly op hom.”

(John 3:36, OAV)

 

Vir die volgende mannas is dit essensieel dat ons net allereers kyk na die fundamentele waarheid  van die Ou-Testamentiese “wraakgerig van die Here” (Num 31:3), en hoe Jesus die buffer moes word om God se vuur van geregtigheid in die Nuwe Verbond in totale nuwe gedaante te laat transmuteer.

God is heilig (Lev 19:2; Ps 99:5; Jes 8:13; Hab 1:12-13; 1 Peter 1:14-19), en die mens het gesondig teen Hom (Ps 53:3; Jes 53:6; 64:6; Rom 3:23; 1 Joh 1:18). In Ps 5:4-5 word God se houding teenoor die sondige mens onomwonde uitgespel – “Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid.” God haat sonde (Spr 6:16; Sag 8:17), en keer sy gesig weg van sondige mense (Jes 59:2; 64:7). Tog word God diep geraak deur sonde, in so ‘n mate dat Hy diep hartseer daaroor ervaar (Gen 6:5-6; Jes. 63:10; Efes 4:30), maar ook vurige woede (Eks 4:14; 15:7; Lev 26:27-33; Num 11:1; 12:9; 22:22; 25:3; Deut 3:17; 29:24-29; Jos 7:1; Rigt 2:14; 2 Sam 24:1; 1 Kon 14:15; 15:30; 16:2; 25:53; 2 Kon 13:3; 17:11; 23:19; 1 Kron 13:10; 2 Kron 28:25; Ps. 7:11; 11:4-7; Heb. 10:27). Gelukkig vir ons is God se toorn volmaak, altyd geregverdig, en word sy toorn stadig opgewek (Eks 34:6-8). Die Ou Testament sê dikwels dat God nie net die sonde haat nie, maar ook diégene wat deur die sonde besmet is (Ps 5:5; Hos 9:15; Amos 5:21; Mal 1:3). God se toorn word bykans 600 keer in die Skrif gebruik, met ‘n verskeidenheid van ongeveer 20 verskillende woorde wat verskeie nuanses of aspekte daarvan beskryf.

Baie meer aspekte van God se toorn kan uit die Ou Testament gehaal word, maar dit is dan baie interessant dat Maleági en Johannes die Doper as die voleindigers van die ou verbond en Jesus as die Voorloper van die nuwe verbond die toorn van God as die verbintenis tussen die twee testamente uitwys, en dat dit geskied aan die hand van die metafoor van vuur.

Slegs as God se wraakgerig in hierdie sterk terme verstaan word, kan ‘n mens die onontbeerlike rol wat Jesus moes kom speel om in die brandpunt van God se toorn te kom staan, begin verstaan. Hy onderwerp Hom totaal en in alle opsigte sodat alle geregtigheid vervul kan word (Mat 3:15). As vyande van God (Rom 5:10) moes ons van die heersende toorn van God (Rom 1:18) verlos word, maar ook van “die toekomstige toorn” (1 Thes 1:10).

Maar: “Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes 53: 4-6).

Inderdaad is dit waar wat Rom 5:9 sê: ons word deur Hom gered van die toorn van God.

 

  • Sela:  Probeer aan iemand verduidelik hoekom Jesus se kruisdood nodig was.
  • LeesAmos 1-3
  • Ondersoek die vervulling:  Verstaan jy nou Amos 1:4, 7, 10, 12 & 14; 2:2 & 5?
  • Delf dieper: Lees hfst 9 in Michael Cassidy se Getting to the heart of things (oor die kruis).